Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Wat jy omtrent geestesversteurings moet weet

Wat jy omtrent geestesversteurings moet weet

“Ek het gevoel asof ek nie kan asemhaal nie”, sê Claudia kort nadat daar vir haar gesê is dat sy bipolêre versteuring en posttraumatiese stresversteuring het. “Die gedagte om met die stigma van ’n geestesiekte te lewe, was oorweldigend.”

“Dit het ons lank geneem om ons situasie te aanvaar”, sê Claudia se man, Mark. “Maar ek het besef dat ek daarop moet konsentreer om my vrou te ondersteun.”

HOE sou jy voel as jy of iemand vir wie jy lief is, met ’n geestesversteuring gediagnoseer word? Gelukkig kan geestesiektes behandel word. Kom ons bespreek ’n paar dinge wat jy moet weet sodat jy ’n beter begrip van geestesversteurings kan hê. *

Belangrike feite oor geestesgesondheid

“Geestesversteurings teister honderdmiljoene mense regoor die wêreld en beïnvloed die lewens van hulle geliefdes. Een uit elke vier mense sal op die een of ander stadium in hulle lewe aan ’n geestesversteuring ly. Depressie is wêreldwyd die grootste oorsaak van ’n onvermoë om behoorlik te funksioneer. Skisofrenie en bipolêre versteuring is van die ernstigste en belemmerendste versteurings. . . . Hoewel baie mense aan geestesversteurings ly, word dit steeds weggesteek, nie behoorlik behandel nie en teen gediskrimineer.”—Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Volgens WGO versuim baie mense wat ’n geestesiekte het, om behandeling te kry weens die stigma wat daaraan kleef.

Hoewel die meeste geestesversteurings behandel kan word, het ongeveer 60 persent van volwassenes en byna 50 persent van jongmense tussen die ouderdom van 8 en 15 in die Verenigde State wat ’n geestesversteuring het, in die afgelope jaar geen behandeling ontvang nie, berig die Nasionale Alliansie oor Geestesiekte.

’n Begrip van geestesversteurings

Wat is ’n geestesversteuring? Deskundiges omskryf ’n geestesversteuring as ’n ernstige wanfunksionering in ’n persoon se denke, emosionele beheer en gedrag. Die toestand belemmer dikwels ’n persoon se vermoë om gesonde verhoudings met ander te hê en om noodsaaklike daaglikse take te verrig.

Geestesversteurings is nie die gevolg van ’n persoonlike swakheid of ’n karaktergebrek nie

Simptome kan verskil in duur en intensiteit, afhangende van die persoon en die spesifieke siekte en omstandighede. Dit kom voor onder mense van albei geslagte en alle ouderdomme, kulture, rasse, godsdienste en opvoedings- en inkomstevlakke. Geestesversteurings is nie die gevolg van ’n persoonlike swakheid of ’n karaktergebrek nie. Met die regte mediese sorg kan ’n persoon behandel word en ’n produktiewe en vervullende lewe lei.

Die behandeling van geestesversteurings

Deskundiges in geestesgesondheidsorg kan baie geestesversteurings met welslae behandel. Die eerste belangrike stap is dus om ’n deeglike evaluasie te kry deur ’n deskundige wat ervare is in die behandeling van geestestoestande.

Maar mense met ’n geestesversteuring kan slegs by sulke ervaring baat vind as hulle gepaste behandeling aanvaar. Dit beteken moontlik dat hulle enige teësinnigheid om met ander oor ’n geestesiekte te praat, te bowe moet kom. Behandeling sluit dalk in dat hulle met bekwame deskundiges op hierdie gebied praat wat hulle kan help om hulle siekte te verstaan, praktiese probleme op te los en die belangrikheid daarvan te besef om met die behandeling vol te hou. By sulke konsultasies kan ’n gesinslid of vriend grootliks help om die persoon te verseker en te ondersteun.

Baie mense het geleer hoe om met ’n geestesversteuring saam te lewe nadat hulle ’n beter begrip van hulle toestand verkry het en die voorgeskrewe behandeling van deskundiges gevolg het. “Voordat my vrou gediagnoseer is, het ons min geweet van geestesiektes”, sê Mark, wat vroeër aangehaal is. “Maar ons het geleer om die lewe een dag op ’n slag aan te pak en ons by ons situasie aan te pas. Ons het ook baat gevind by die ondersteuning van betroubare deskundiges asook familie en vriende.”

Die eerste belangrike stap is om ’n deeglike evaluasie te kry deur ’n bekwame dokter

Claudia stem saam. “Aan die begin het my diagnose soos ’n tronkvonnis gevoel”, erken sy. “Maar al beperk my siekte ons albei in sekere opsigte, het ek geleer dat skynbaar onmoontlike hindernisse wel oorkom kan word. Ek doen dus my bes om met my behandelingspan saam te werk, verhoudings met ander te koester en elke oomblik te neem soos dit kom.”

Geestelike gesondheid is noodsaaklik

Die Bybel gee nie te kenne dat geestelikheid mediese probleme genees nie. Baie gesinne regoor die wêreld het nietemin groot vertroosting en krag geput uit wat die Bybel leer. Die Bybel verseker ons byvoorbeeld dat ons liefdevolle Skepper intens daarin belangstel om “die gebrokenes van hart” en “die verbryseldes van gees” te vertroos.—Psalm 34:18.

Hoewel die Bybel nie ’n mediese handleiding is nie, voorsien dit praktiese riglyne wat ons kan help om pynlike emosies te verwerk en moeilike omstandighede die hoof te bied. Die Bybel kan ons ook hoop gee op ’n toekomstige lewe op die aarde sonder siekte en pyn. God se Woord belowe: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.”—Jesaja 35:5, 6.

^ par. 5 Ter wille van konsekwentheid verwys die term “geestesversteuring” in hierdie artikel na geestesiektes sowel as gedrags- en sielkundige versteurings.

^ par. 32 Ontwaak! staan nie enige spesifieke mediese behandeling voor nie. Christene moet seker maak dat enige behandeling waarop hulle besluit, nie in stryd is met Bybelbeginsels nie.

^ par. 40 Sien ook die artikel “Stres—Hoe om dit te beheer” in die Ontwaak! van Mei 2014.