Spring na inhoud

© Kim, Hyun-tae/iNaturalist. Licensed under CC-BY-4.0

IS DIT ONTWERP?

Die geroep van die Japannese boompadda

Die geroep van die Japannese boompadda

 Japannese boompadda-mannetjies is baie bekend vir hulle aanhoudende geroep wat klink asof dit nie in ’n spesifieke orde is nie. Maar individuele mannetjies kan geïdentifiseer word selfs wanneer daar ’n groep van hulle is wat baie geraas maak. In Japan het navorsers wat die paddas bestudeer, ontdek dat dit gebeur omdat mannetjies in dieselfde gebied op ’n baie georganiseerde manier na wyfies roep.

 Dink hieraan: Japannese boompadda-mannetjies maak ’n geluid om wyfies te lok. Die geluid begin in die dier se stembande en word al hoe harder wanneer dit in die keelsak, ’n sakkie op die keel wat kan opblaas, weergalm.

 Hoe kan die geroep van een mannetjie onderskei word van dié van ander mannetjies? Navorsers het gevind dat Japannese boompaddas wat naby mekaar is, beslis in ’n spesifieke orde roep, en elke padda vat ’n beurt om te roep. Hierdie effektiewe tegniek verhoed dat die paddas almal gelyktydig geluide maak. En deur dit te doen, is daar ’n duidelike koor van individuele klanke terwyl die paddas terselfdertyd ook energie spaar. Deur hulle geroep af te wissel, is dit ook moontlik vir die paddas om tussen-in te pouseer.

 Navorsers van draadlose kommunikasie is geïnspireer deur die manier waarop die geroep van Japannese boompaddas georganiseer is. Hulle gebruik gevorderde berekeninge om te probeer beheer wanneer data gestuur word sodat verskillende data nie op dieselfde tyd as ander data gestuur word en sodoende met mekaar bots nie. Die gevolg hiervan is dat data op ’n meer betroubare manier gestuur word, en dit gebruik ook minder elektrisiteit.

 Wat dink jy? Het die vermoë van Japannese boompaddas om as ’n koor op ’n georganiseerde manier te roep deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?