Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | BRETT SCHENCK

‘Ek is oortuig dat lewe deur God ontwerp is’

‘Ek is oortuig dat lewe deur God ontwerp is’

Brett Schenck is ’n afgetrede omgewingskonsultant in die Verenigde State. Hy het die onderlinge afhanklikheid van plante, diere en die omgewing gestudeer. Waarom glo hy aan ’n Skepper? Ontwaak! het met hom gesels oor sy wetenskap en sy geloof.

Wat is jou agtergrond?

My pa was ’n meganiese ingenieur. Hy het dikwels geesdriftig met my gesels oor wiskunde en wetenskap. As ’n seun is ek gefassineer deur die plante en diere in die spruitjies en poele naby ons huis in New Paris, Ohio, VSA. Ek het dus besluit om ekologie te studeer aan die Purdue-universiteit.

Het jy in godsdiens belanggestel?

Ja, ek het. My pa het my aangespoor om ons Lutherse godsdiens te ondersoek. Ek het ’n studie gemaak van Koine- (gewone) Grieks, een van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is. Ek het groot respek vir die Bybel gekry.

Hoe het jy die evolusieteorie beskou?

My kerk het dit aanvaar. My kollegas het dit geglo. Ek het dit dus nooit bevraagteken nie. Maar ek het ook aan God geglo. Ek het gedink dat die twee opvattings versoenbaar is. Hoewel ek respek gehad het vir die Bybel, het ek nie gedink dat dit van God af kom nie.

Wat het gemaak dat jy jou beskouing van die Bybel verander?

Twee van Jehovah se Getuies, Steve en Sandy, het my en my vrou, Debbie, besoek. Hulle het vir ons gewys dat die Bybel, hoewel dit nie ’n wetenskaphandboek is nie, wetenskaplik akkuraat is. Dit sê byvoorbeeld van God: “Daar is Een wat bo die kring van die aarde woon” (Jesaja 40:22). Dit sê ook: “Hy . . . hang die aarde op aan niks” (Job 26:7). Ek het op daardie stadium satellietfoto’s gebruik in my studie van die ekologie, en daarom het hierdie tekste my beïndruk. Dit is geskryf lank voordat enigiemand foto’s van die kring van die aarde  geneem het wat toon dat dit aan niks hang nie. Terwyl ek en my vrou die Bybel saam met Steve en Sandy gestudeer het, het ek geleer dat dit profesieë bevat wat bewaarheid is, asook raad wat werk en verduidelikings wat my tevrede gestel het. Ek het mettertyd oortuig geraak dat die Bybel die Woord van God is.

Wanneer het jy jou mening verander oor die oorsprong van lewe?

Steve het vir my die Bybel se duidelike woorde gewys: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm” (Genesis 2:7). Die eerste mens het ’n opgetekende lewensgeskiedenis. Dit het die vraag laat ontstaan: Stem die Bybel ooreen met wetenskaplike feite? Steve het my aangespoor om navorsing hieroor te doen, en ek het.

Wat het jy oor evolusie uitgevind?

Baie dinge. Om maar net een te noem, die evolusieteorie probeer die oorsprong van spesies verduidelik. Lewende dinge het doeltreffende organe, soos die hart, longe en oë. En op mikroskopiese vlak sien ons wonderlik ontwerpte ‘masjiene’ binne selle. Waar kom die ontwerpe hiervoor vandaan? Evolusioniste beweer dat die beste meganismes outomaties gekies word omdat die lewende dinge wat dit het, ’n groter kans op oorlewing het. Maar hierdie idee beantwoord nie die volgende vraag nie: Waar kom hierdie meganismes vandaan? Ek het uitgevind dat baie wetenskaplikes nie glo dat die evolusieteorie hierdie vraag beantwoord nie. ’n Professor in dierkunde het my in sy vertroue geneem en gesê dat hy nie een van die evolusieteorieë glo nie. Maar hy het ander nie hiervan vertel nie omdat hy bang was dat hy sy werk sou verloor.

Versterk jou kennis van die ekologie jou geloof?

Ja, beslis. My werk het ’n studie behels van hoe lewende dinge van mekaar afhanklik is. Op die aarde is alle lewende dinge van iets anders afhanklik. Dink aan blomme en bye. Die kleur, geur, nektar en vorm van blomme is bedoel om bye te lok en hulle vol stuifmeel te maak. Bye is ontwerp om nektar op te suig en om een blom se stuifmeel na ’n ander plant te neem om dit te bestuif. Dit is duidelik dat blomme en bye ontwerp is om te voorsien wat die ander een nodig het.

‘Die herstelvermoë van die hele stelsel van lewe op die aarde oortuig my dat lewe deur God ontwerp is’

In ’n ekosisteem sien ons onderlinge afhanklikheid op ’n ontsaglike skaal. ’n Ekosisteem is ’n omgewing waarin moontlik duisende soorte diere, plante, bakterieë en swamme saamleef. Alle diere is afhanklik van plante vir voedsel en suurstof, en die meeste blomplante is afhanklik van diere. Hoewel ekosisteme uiters kompleks is en die organismes daarin broos is, kan dit duisende jare voortbestaan. Selfs nadat ’n komplekse ekosisteem deur besoedeling beskadig is, herstel dit gou weer sodra die bron van die besoedeling verwyder is. Wanneer ek dink aan die herstelvermoë van die hele stelsel van lewe op die aarde, is ek oortuig dat lewe deur God ontwerp is.

Waarom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Ek was diep besorg oor die manier waarop die mensegemeenskap die omgewing verniel. Ek het geweet dat ekosisteme ondanks hulle herstelvermoë nie onvernietigbaar is nie. Jehovah se Getuies het my geleer dat God, volgens die Skrif, “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 11:18). Hierdie woorde was vir my belangrik. Terwyl ek my studie van die Bybel voortgesit het, het ek tot die besef gekom dat die hoop wat die Bybel bied, betroubaar is.

Ek geniet dit om ander van my oortuigings te vertel en ek het die Bybel al met ’n paar wetenskaplikes gestudeer. Toe ek 55 was, het ek besluit om vroeg af te tree sodat ek meer tyd daaraan kan bestee om mense te help om kennis in te neem van die Skepper van lewe en van sy voorneme vir ons pragtige aarde.