Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEA/G. Dagli Orti/De Agostini via Getty Images

Ulrich Zwingli se soeke na Bybelwaarheid

Ulrich Zwingli se soeke na Bybelwaarheid

 Vandag kan die meeste opregte godsdienstige mense seker maak of wat hulle glo, gebaseer is op wat die Bybel leer of nie. Dit was nie die geval aan die begin van die 16de eeu nie. Hoekom nie? Omdat die meeste mense nie toegang gehad het tot ’n Bybel in hulle eie taal nie. As gevolg hiervan kon min kerklede dit wat hulle in die Kerk geleer het, vergelyk met wat die Bybel eintlik sê. En godsdiensleiers het ook nie regtig baie gehelp nie. Die boek History of the Christian Church sê: “Die Kerk in Switserland was korrup. Die godsdiensleiers was onkundig, bygelowig en onsedelik.”

 Gedurende hierdie tyd het Ulrich Zwingli na Bybelwaarheid begin soek. Wat het hy gevind? Hoe het hy dit wat hy geleer het, met ander gedeel? En wat kan ons leer uit sy lewe en oortuigings?

Zwingli begin soek

 As ’n jongman wou Zwingli ’n Katolieke priester word. In daardie tyd moes Zwingli, net soos enige iemand wat ’n priester wou word, filosofie, kerktradisies en die geskrifte van die “Kerkvaders” bestudeer – maar nie die Bybel nie.

 Hoe het Zwingli begin om Bybelwaarheid te vind? Terwyl hy by die universiteit in Basel, Switserland was, het hy die lesings bygewoon van Thomas Wyttenbach, wat die Kerk se stelsel van aflaatbriewe a veroordeel het. Volgens een skrywer het Zwingli by Wyttenbach “geleer dat Christus se dood een keer vir ons sondes geoffer is” (1 Petrus 3:18). Toe Zwingli besef het dat Jesus se losprys die enigste manier is hoe ons sondes vergewe kan word, het hy die lering verwerp dat kerkleiers sondes kon vergewe inruil vir geld (Handelinge 8:20). Nogtans het Zwingli aangehou studeer en op 22 ’n Katolieke priester geword.

 Gedurende sy 20’s het Zwingli op sy eie Grieks geleer sodat hy die oorspronklike taal van die Nuwe Testament kon verstaan soos dit oor die algemeen genoem word. Hy het ook die werke van Erasmus bestudeer en geleer dat Jesus, volgens die Bybel, die enigste Middelaar tussen God en die mens is (1 Timoteus 2:5). As gevolg hiervan het Zwingli begin twyfel aan die Katolieke se lering dat ’n persoon heiliges kon gebruik om met God te praat.

 Zwingli het selfs ernstiger na waarheid begin soek toe hy omtrent 30 jaar oud was. Maar intussen het hy as ’n kapelaan gedien in ’n reeks oorloë regoor Europa vir die beheer van Italië. In die oorlog by Marignano in 1515 het hy gesien hoe Katolieke duisende ander Katolieke doodmaak. ’n Paar jaar later het Zwingli baie van die Griekse Geskrifte met die hand oorgeskryf en selfs gememoriseer. Teen 1519 het hy in Zürich, die middelpunt van politieke mag in Switserland, gebly. Dit is waar hy begin glo het dat die Kerk moet ophou om enige iets te leer wat nie in die Bybel bewys kon word nie. Maar hoe kon hy ander help om dieselfde te glo?

“Ons het nog nooit so iets gehoor nie”

 Zwingli het geglo dat mense godsdiensleuens sou verwerp as hulle Bybelwaarheid hoor. So toe hy ’n priester geword het in Zürich se prominente Grossmünster-kerk, het hy met ’n ongewone plan vorendag gekom: Hy sou nie meer uit die Latynse Bybelleesboek b lees wat baie eeue lank deur die geestelikes opgesê was nie. Hy sou eerder die Evangelies verkondig deur direk uit die Bybel, hoofstuk vir hoofstuk, van begin tot einde, te lees. In plaas daarvan om die idees van die Kerkvaders te gebruik om die Skrif te verduidelik, sou hy toelaat dat die Bybel homself verduidelik. Hy het dit gedoen deur dele van die Bybel wat makliker was om te verstaan, te gebruik om moeiliker dele te verduidelik. – 2 Timoteus 3:16.

Sergio Azenha/Alamy Stock Photo

Die Grossmünster-kerk in Zürich

 In sy preke het Zwingli beklemtoon dat die Bybel prakties is. Hy het die Bybel gebruik om mense oor sedelike standaarde te leer. Hy het ook gepreek dat dit verkeerd is om Maria, die moeder van Jesus, te aanbid, om tot heiliges te bid, om vir aflaatbriewe te betaal en dat die godsdiensleiers onsedelik was. Hoe het mense gereageer? Ná sy eerste preek het party mense gesê: “Ons het nog nooit so iets gehoor nie.” En een geskiedkundige het oor Zwingli se Katolieke gehoor geskryf: “Dié wat opgehou het om kerkdienste by te woon omdat die dwaasheid en die onsedelikheid van die priesters vir hulle walglik was, het nou teruggekeer.”

 In 1522 het die godsdiensleiers probeer om Zürich se politieke leiers te kry om mense te keer om enige iets doen wat teen die Kerk se leerstellings is. As gevolg hiervan was Zwingli aangekla van kettery. Hy het geweier om dit waaraan hy glo, prys te gee, en daarom het hy as ’n Katolieke priester bedank.

Wat het Zwingli gedoen?

 Zwingli was nie meer ’n priester nie, maar hy het nog steeds gepreek, en hy het aangehou om ander te probeer oortuig om te glo wat hy geglo het. As gevolg van wat hy gepreek het, het hy gewild onder die mense geword, en dit het daartoe gelei dat baie van Zürich se politieke leiers na hom geluister het. Deur middel van hierdie politieke invloed het hy probeer om godsdiens in Zürich te hervorm. Byvoorbeeld, in 1523 het hy Zürich se regsowerheid oortuig om dit onwettig vir enige iemand te maak om godsdiensleringe aan ander te leer wat nie in die Bybel bewys kon word nie. In 1524 het hy hulle oorreed om afgodediens onwettig te maak. Die burgerlike magistrate het, met die ondersteuning van die plaaslike predikante en die mense, baie altare, afgode, beelde en relieke vernietig. Die boek Zwingli—God’s Armed Prophet sê: “Behalwe vir die Vikings wat plekke van aanbidding beroof het, het die Westerse Kerk nog nooit soveel doelbewuste vernietiging gesien nie.” Teen 1525 het hy ook die owerhede oorreed om eiendomme wat aan die Kerk behoort, in hospitale te verander en om monnike en nonne toe te laat om te trou. Hy het ook voorgestel dat die mis vervang moes word deur ’n eenvoudige viering wat gebaseer is op wat in die Bybel beskryf word (1 Korintiërs 11:23-25). Geskiedkundiges sê dat Zwingli se pogings Zürich se politieke en godsdiensleiers bymekaargebring het. Hy het ook die weg voorberei sodat die Hervorming kon plaasvind en die nuwe Protestantse godsdiens gevorm kon word.

Die 1536-uitgawe van die Zürich-Bybel, Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, Warwick, New York

 Zwingli se betekenisvolste werk was die vertaling van die Bybel. Gedurende die 1520’s het hy ’n groep geleerdes gelei wat uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks, asook die Griekse Septuagint en die Latynse Vulgaat gewerk het. Hulle metode was eenvoudig. Hulle het elke vers in die oorspronklike taal gelees, sowel as uit gerespekteerde vertalings. Hulle het dan elke vers se betekenis bespreek en dan hulle gevolgtrekkings neergeskryf. Hulle werk om God se Woord te verduidelik en te vertaal, het uiteindelik daartoe gelei dat die Zürich-Bybel in 1531 as ’n enkele boek uitgegee is.

 Zwingli was dalk opreg, maar hy het nie die verskillende beskouings van ander gerespekteer nie, en hy was aggressief. Byvoorbeeld, hy het in 1525 deelgeneem aan die verhoor van die Anabaptiste, wat nie met hom saamgestem het dat babas gedoop moet word nie. Toe die howe later die doodsvonnis opgelê het op enige iemand wat gekant was teen die doop van babas, het hy nie daardie wrede beslissing teëgestaan nie. Hy het politieke leiers ook aangehits om militêre mag te gebruik om mense te forseer om nuwe leringe te aanvaar. Maar ’n hele paar streke wat oorheersend Katoliek in Switserland was, het sy hervormings teëgestaan. Dit het tot ’n burgeroorlog gelei. Zwingli het saam met soldate van Zürich na die slagveld gegaan, waar hy op die ouderdom van 47 doodgemaak is.

Zwingli se erfenis

 Ulrich Zwingli het beslis ’n plek in die geskiedenis, alhoewel hy nie so bekend is soos die invloedryke Protestantse Hervormers Martin Luther en Johannes Calvyn nie. Anders as Luther het Zwingli die leerstellings van die Rooms-Katolieke Kerk op ’n meer dramatiese manier verwerp. En sy pogings het dit vir mense makliker gemaak om Calvyn se idees te aanvaar. Daarom is hy al die Derde Man van die Hervorming genoem.

 Die uitwerking van Zwingli se werk is positief sowel as negatief. Om sy beskouings te bevorder, het hy baie betrokke geraak by die politiek en oorlog. Deur dit te doen, het hy nie die voorbeeld van Jesus Christus gevolg nie, wat geweier het om by die politiek betrokke te raak en sy dissipels geleer het om hulle vyande lief te hê en nie dood te maak nie. – Matteus 5:43, 44; Johannes 6:14, 15.

 Tog word Zwingli onthou as ’n ywerige student van die Bybel wat vasbeslote was om dit wat hy geleer het, met ander te deel. Hy het baie Bybelwaarhede ontdek en ander gehelp om dieselfde te doen.

a Aflaatbriewe is bevele wat deur kerkleiers uitgevaardig is wat na bewering die straf sou verminder of selfs sou verwyder wat mense ná hulle dood in die vaevuur sou verduur.

b ’n Bybelleesboek is ’n boek met Bybelverse wat vooraf gekies is en wat regdeur die jaar gelees word.