Spring na inhoud

Een Bybelstudie word baie

Een Bybelstudie word baie

 Marta, een van Jehovah se Getuies in Guatemala, is besig om die Kekchi-taal te leer sodat sy die Bybel se boodskap kan verkondig aan mense wat daardie taal praat. Eendag het sy ’n man gesien wat die hospitaal verlaat het. Toe Marta hom sien, het sy gedink dat hy dalk van ’n Kekchi-dorpie in ’n bergagtige gebied kom waar Jehovah se Getuies nie baie preek nie. Sy het na hom toe gegaan en met hom gepraat, al het sy nie baie woorde in Kekchi geken nie.

 Marta het aangebied om ’n Bybelstudie met die man te hou. Hy was bly om die Bybelstudie te aanvaar, maar hy het vir haar gesê dat hy nie geld het om daarvoor te betaal nie. Marta het aan hom verduidelik dat Jehovah se Getuies die Bybel gratis met mense studeer. Sy het ook vir hom gesê dat hy oor die foon kan studeer en dat sy hele gesin kon insit by die studie. Die man het ingestem. Omdat hy Spaans kon praat en lees, het Marta vir hom die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Spaans gegee. Sy het ook vir hom die Bybelstudiehulp Wat leer die Bybel werklik? in Kekchi gegee. Die volgende week het die man, sy vrou en hulle twee kinders die Bybel saam met Marta oor die foon begin studeer. Hulle het twee keer ’n week studeer. Marta sê: “Omdat ek nie Kekchi vlot kon praat nie, het ons die studie in Spaans gehou. Die man het vir sy vrou vertaal wat ons gesê het, en die kinders het Spaans verstaan.”

 Hierdie man was ’n pastoor in sy kerk. Hy het vir die mense in sy kerk begin leer wat hy in sy Bybelstudie geleer het. Hulle het gehou van wat hy gesê het en hom gevra waar hy hierdie nuwe dinge geleer het. Toe hy hulle vertel het van sy Bybelstudie, het hulle een vir een aangesluit. Kort voor lank het omtrent 15 mense elke week bymekaargekom om saam met Marta oor die foon te studeer. Later het hulle ’n mikrofoon naby die foon gesit sodat almal kon hoor.

 Toe Marta vir die ouermanne in haar gemeente oor hierdie Bybelstudie vertel, het een van hulle die dorpie waar die studente woon, besoek. Hy het hulle na ’n openbare toespraak genooi wat deur die kringopsiener a gehou sou word. Om by die dorpie uit te kom waar die toespraak gehou sou word, moes hulle ’n uur met ’n kar ry en dan twee ure loop om daar uit te kom. Die studente het ingestem om te kom en 17 van hulle het dit bygewoon.

 ’n Paar weke later het die kringopsiener en ’n paar ander Getuies vier dae saam met die studente spandeer. In die oggende het hulle Bybelvideo’s in Kekchi gekyk op jw.org en die brosjure Wie doen vandag Jehovah se wil? studeer. In die middae het hulle dele op JW Broadcasting gekyk. Die kringopsiener het ook gereël dat die studente elkeen ’n persoonlike studiehouer kry.

 Gedurende die vier dae het die Getuies ook in Kekchi-dorpies daar naby gepreek en mense genooi na ’n spesiale vergadering. By daardie vergadering het die broers die 47 mense wat daar was, genooi om hulle eie Bybelstudie te aanvaar. Elf gesinne het ingestem tot ’n Bybelstudie.

 ’n Paar maande later het die ouermanne gereël om elke naweek ’n vergadering in die oorspronklike dorpie te hou. Vandag woon daar omtrent 40 mense gereeld die vergaderinge by. En toe die broers die Herdenking van Jesus se dood daar gehou het, was hulle baie bly toe 91 mense dit bygewoon het.

 Marta dink terug aan hoe hierdie ondervinding begin en ontwikkel het en sê: “Ek is dankbaar teenoor Jehovah. Partykeer voel ek dat ek nie baie kan doen nie. Maar God kan ons gebruik om ander te help. Hy het geweet wat in die hart van elkeen van daardie mense in die dorpie was, en hy het hulle na sy mense toe getrek. Jehovah is lief vir hulle.”

a ’n Kringopsiener is ’n bedienaar van Jehovah se Getuies wat omtrent 20 gemeentes besoek wat ’n kring uitmaak.