Spring na inhoud

“Een klein daad van eerlikheid”

“Een klein daad van eerlikheid”

 Danielle, een van Jehovah se Getuies in Suid-Afrika, het ’n sak gekry wat ’n kliënt in ’n koffiewinkel vergeet het. In die sak was ’n beursie met geld en kredietkaarte. Sy was vasbeslote om die sak vir die eienaar terug te gee. Danielle het na ’n adres of telefoonnommer gesoek, maar sy kon net ’n man se naam kry. Sy het die man probeer kontak deur sy bank, maar sy het nie daar reggekom nie. Maar dit het nie vir Danielle gekeer nie. Sy het ’n kwitansie van ’n dokter se spreekkamer in die sak gekry en toe die telefoonnommer daarop gebel. Die ontvangsdame wat die oproep beantwoord het, het ingestem om Danielle se telefoonnommer vir die man te gee.

 Die man was verbaas om ’n oproep van sy dokter se spreekkamer te kry. Hulle het hom laat weet dat Danielle sy sak gekry het en dit aan hom wou teruggee. Toe hy die sak kom optel, was Danielle en haar pa daar. Hulle het die geleentheid gebruik om vir hom te vertel hoekom hulle soveel moeite gedoen het om hom te kontak. Hulle het aan hom verduidelik dat hulle, as Jehovah se Getuies, volgens Bybelstandaarde probeer lewe. Dit is hoekom hulle probeer om altyd eerlik te wees. – Hebreërs 13:18.

 ’n Paar uur later het die man vir Danielle en haar pa ’n boodskap gestuur en weer dankie gesê dat hulle sy sak en sy beursie vir hom teruggee het. Hy het geskryf: “Ek waardeer dit regtig baie dat julle soveel moeite gedoen het om my te kry. Ek is baie bly dat ek jou en jou familie kon ontmoet, en ek sal altyd onthou hoe goedhartig en vriendelik julle was. Om vir julle te wys hoe dankbaar ek is, wil ek graag vir julle ’n bydrae gee. Ek weet dat julle persoonlike opofferings maak om God te dien. Danielle se eerlikheid en opregtheid en wat julle vir my gedoen het, wys dat julle goeie mense is. Weereens dankie en mag God julle bediening seën.”

 Danielle se pa was ’n paar maande later weer in kontak met die man. Hy het vir haar pa vertel wat ’n rukkie tevore met hom gebeur het toe hy iemand se beursie opgetel het. Terwyl hy inkopies gedoen het, het hy ’n beursie op die grond sien lê. Toe hy die vrou kry wie se beursie dit is en dit vir haar teruggee, het hy verduidelik hoekom hy dit gedoen het. Hy het gesê dat hy die beursie wou teruggee omdat iemand onlangs ook so eerlik was en sy beursie ook vir hom teruggegee het. Hy sê: “Een klein daad van eerlikheid en goedheid lei na die volgende, en dit maak die lewe beter vir almal in die gemeenskap.”