Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Uiteindelik weer saam met my pa

Uiteindelik weer saam met my pa
  • GEBORE: 1954

  • GEBOORTELAND: Filippyne

  • GESKIEDENIS: Geen verhouding met pa wat hom mishandel het nie

MY VERLEDE

 Baie toeriste besoek die bekende watervalle naby die dorpie Pagsanjan in die Filippyne. My pa, Nardo Leron, het daar arm grootgeword. Omdat hy die korrupsie in die regering, polisie en sy werksplek gesien het, het hy bitter en kwaad geword.

 My ouers het hard gewerk om hulle agt kinders groot te maak. Hulle het baie keer lank van die huis weggebly om in die landerye in die berge te werk. Ek en my broer Rodelio moes gereeld na onsself kyk en was baie keer honger. Toe ons kinders was, het ons nie baie tyd gehad om te speel nie. Ek en my broers en susters moes vandat ons sewe jaar oud was, op ’n plantasie werk. Ons moes kokosneute wat baie swaar was, by ’n steil bergpaadjie opdra. As dit te swaar was, moes ons dit sleep.

 Ons pa het ons geslaan, maar dit was erger om te sien hoe hy ons ma slaan. Ons het hom probeer keer, maar ons kon nie. Ek en Rodelio het in die geheim besluit om ons pa dood te maak wanneer ons ouer is. Ek wou so graag ’n pa hê wat lief was vir ons!

 Ek het weggeloop van die huis toe ek 14 jaar oud was omdat ek kwaad en gefrustreerd was oor my pa se geweld. Ek het ’n ruk lank op die straat gebly en dagga begin rook. Ek het uiteindelik op ’n boot gewerk en toeriste na die watervalle gevat.

 ’n Paar jaar later het ek by ’n universiteit in Manila begin studeer. Maar omdat ek naweke moes teruggaan na Pagsanjan om te werk, het ek min tyd gehad om te studeer. My lewe was moeilik en doelloos, en dagga was nie meer genoeg om my stres te verlig nie. Ek het toe metamfetamien, kokaïen en heroïen begin gebruik. Dwelms en seksuele onsedelikheid het hand aan hand gegaan. Armoede, ongeregtigheid en swaarkry was oral om my. Ek het die regering gehaat en het hulle vir alles blameer. Ek het God gevra: “Hoekom is die lewe so?” Maar ek het nie antwoorde gekry by die verskillende godsdienste wat ek na toe gegaan het nie. Ek het toe meer dwelms gebruik om nie so hopeloos te voel nie.

 In 1972 het studente in die Filippyne proteste teen die regering gereël. Ek het aan een van die proteste deelgeneem, en dit het lelik hand uitgeruk. Baie mense is gearresteer, en maande later is krygswet regdeur die land afgekondig.

 Ek het weer op die straat beland, maar hierdie keer was dit omdat ek bang was vir die regering omdat ek deelgeneem het aan die protes. Ek het gesteel sodat ek dwelms kon koop en uiteindelik het ek my liggaam aan ryk mense en uitlanders verkoop vir seksuele dienste. Ek het nie omgegee of ek lewe of doodgaan nie.

 Intussen het my ma en jonger broer die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. My pa was woedend en het hulle Bybellektuur uitgebrand. Maar hulle al twee het deurgedruk en is as Getuies gedoop.

 ’n Getuie het eendag met my pa gepraat oor die Bybel se belofte van ’n toekoms wanneer daar geregtigheid op die aarde sal wees (Psalm 72:12-14). My pa het gehou van wat hy gehoor het en het besluit om self meer uit te vind. Hy het nie net in die Bybel geleer oor God se belofte van ’n regverdige regering nie, maar ook wat God van getroude mans en pa’s verwag (Efesiërs 5:28; 6:4). Kort daarna het hy en al my ander broers en susters Getuies geword. Ek was ver van die huis af, en daarom het ek niks hiervan geweet nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 In 1978 het ek Australië toe getrek. Maar selfs in hierdie rustige en ryk land kon ek nie innerlike vrede kry nie. Ek het nog steeds drank en dwelms misbruik. Later daardie jaar het Jehovah se Getuies my besoek. Ek het gehou van wat hulle my in die Bybel gewys het oor vrede op aarde, maar ek was versigtig om by hulle betrokke te raak.

 Kort hierna het ek vir ’n paar weke na die Filippyne teruggegaan. My broers en susters het vir my vertel dat my pa hard probeer het om ’n beter persoon te word, maar ek was nog steeds bitter en wou niks met hom te doen gehad het nie.

 My jonger suster het die Bybel gebruik om vir my te wys hoekom daar so baie swaarkry en ongeregtigheid is. Ek was verstom dat ’n tienermeisie met min ondervinding die antwoorde op my vrae kon hê. Voordat ek daar weg is, het my pa my die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gegee. a Hy het gesê: “Hou op om weg te hardloop. Hierdie boek gaan jou help om te kry waarna jy soek.” Hy het my aangemoedig om Jehovah se Getuies in Australië te kontak.

 Ek het na my pa geluister en ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies naby my huis in Brisbane gekry. Ek het toe ja gesê vir ’n Bybelstudie. Bybelprofesieë soos Daniël hoofstuk 7 en Jesaja hoofstuk 9 het my geleer dat God se regering, wat sonder korrupsie is, in die toekoms oor ons sal regeer. Ek het geleer dat die aarde ’n paradys gaan word. Ek wou hê dat God my moes aanvaar, maar ek het besef dat ek my emosies onder beheer moes kry, nie meer dwelms en drank kon misbruik nie en moes ophou om onsedelik te lewe. Ek het die meisie gelos saam met wie ek gebly het en opgehou om dwelms en drank te misbruik. Omdat ek meer op Jehovah vertrou het, het ek hom gevra om my te help om ander veranderinge te maak.

 Ek het geleidelik besef dat wat ek besig was om te leer, ’n persoon regtig kon verander. Die Bybel sê dat jy ’n “nuwe persoonlikheid” kan aanleer as jy hard werk (Kolossense 3:9, 10). Toe ek dit probeer doen het, het ek besef dat my pa dalk regtig sy persoonlikheid verander het. Ek wou nie meer sy vyand wees of kwaad vir hom wees nie. Ek wou net vrede met hom maak. Ek het my pa uiteindelik vergewe en ontslae geraak van die haat wat ek van kinderjare af gevoel het.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Toe ek jonk was, het ek baie keer gedoen wat ander doen, maar dit het veroorsaak dat ek ’n vernietigende en slegte lewe lei. Dit is waar wat die Bybel sê, in my geval het slegte omgang my op die verkeerde pad gebring (1 Korintiërs 15:33). Maar ek het goeie vriende onder Jehovah se Getuies gemaak, en hulle het my gehelp om ’n beter persoon te word. Ek het ook my pragtige vrou, Loretta, daar gekry. Saam leer ons ander mense hoe die Bybel hulle kan help.

Ek geniet ’n ete saam met my vrou en vriende

 As gevolg van die Bybel het my pa iemand geword wat ek nooit gedink het hy kan wees nie. Hy is ’n liefdevolle man vir my ma en ’n nederige, vreedsame Christen. Nadat ek as een van Jehovah se Getuies in 1987 gedoop is, het ons mekaar weer gesien. My pa het my toe vir die eerste keer in my lewe ’n drukkie gegee!

 My pa het meer as 35 jaar lank saam met my ma ander mense oor die Bybel se hoop geleer. Hy het ’n ywerige en liefdevolle man geword en was bekend daarvoor dat hy mense help. Gedurende daardie jare het ek geleer om hom te respekteer en lief te kry. Ek was trots om sy seun te wees! Hy het in 2016 gesterf, maar ek het goeie herinneringe as ek aan hom dink. Ek weet dat ons albei groot veranderinge aan ons persoonlikheid gemaak het toe ons toegepas het wat die Bybel leer. Daar is geen haat in my hart meer nie. Ek is so bly dat ek my hemelse Vader, Jehovah God, gevind het. Hy belowe om ’n einde te maak aan alles wat gesinsprobleme veroorsaak.

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.