Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek was besig om my eie graf te grawe”

“Ek was besig om my eie graf te grawe”
  • Gebore: 1978

  • Geboorteland: El Salvador

  • Geskiedenis: Gewelddadige bendelid

MY VERLEDE

 “As jy regtig oor God wil leer, hou aan om saam met Jehovah se Getuies te studeer.” Ek was verbaas om dit te hoor. Op daardie stadium was ek al ’n rukkie besig om saam met Jehovah se Getuies te studeer. Maar as julle my reaksie wil verstaan, sal ek julle eers ’n bietjie oor my lewe moet vertel.

 Ek is gebore in Quezaltepeque, ’n dorp in El Salvador. Ek was die 6de van 15 kinders. My ouers het my probeer leer om eerlik te wees en om die wet te gehoorsaam. En Leonardo en ander Getuies van Jehovah het elke nou en dan gekom om ons oor die Bybel te leer. Maar ek het alles wat ek geleer is, geïgnoreer en die een slegte besluit ná die ander geneem. Toe ek 14 was, het ek saam met my skoolvriende alkohol begin drink en dwelms gebruik. Hulle het die skool een vir een verlaat om by ’n bende aan te sluit, en ek het hulle slegte voorbeeld gevolg. Ons het ons dae op die strate deurgebring en mense gedwing om hulle geld vir ons te gee en gesteel om ons slegte gewoontes te onderhou.

 Die bende het my familie geword. Ek het geglo dat ek aan hulle lojaal moes wees. Eendag het ’n mede-bendelid, wat onder die invloed van dwelms was, een van ons bure aangerand. Tydens die bakleiery het my buurman dit reggekry om my vriend te oormeester en die polisie te bel. Ek was woedend en het my buurman se kar met ’n knopkierie begin slaan sodat hy my vriend kan laat gaan. My buurman het my gesmeek om op te hou terwyl ek venster ná venster stukkend geslaan het en die res van sy kar beskadig het, maar ek het geweier om te luister.

 Toe ek 18 was, was daar ’n geveg tussen my bende en die polisie. Net toe ek ’n tuisgemaakte bom wou gooi, het dit in my hand ontplof – ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Ek onthou net dat ek na my verminkte hand gekyk het – en toe het ek flou geword. Toe ek in die hospitaal wakker word, het ek uitgevind dat ek my regterhand verloor het, sowel as die gehoor in my regteroor en dat ek amper blind is in my regteroog.

 Nadat ek ontslaan is, het ek net weer teruggegaan na my bende toe, al was ek beseer. Maar kort daarna het die polisie my gearresteer, en ek is tronk toe gestuur. Daar het my verhouding met die bendelede nog sterker geword. Ons was die hele dag saam – van ontbyt af, wanneer ons ons eerste daggasigaret gerook het, totdat ons saans gaan slaap het.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Toe ek in die tronk was, het Leonardo my besoek. Terwyl ons gesels het, het hy na ’n tatoeëermerk op my regterarm gewys. “Weet jy wat hierdie drie kolletjies beteken?” het hy gevra. “Natuurlik”, het ek gesê, “seks, dwelms en ruk-en-rol.” Maar Leonardo het gesê: “Ek sou eerder sê dit beteken hospitaal, tronk en die dood. Jy was al in ’n hospitaal, en nou is jy in die tronk. Jy weet wat volgende is.”

 Leonardo se woorde het my geskok. Hy was reg. Ek was besig om my eie graf te grawe deur my lewenswyse. Leonardo het gevra of ek die Bybel saam met hom wil studeer, en ek het ja gesê. Wat ek uit die Bybel geleer het, het my beweeg om my lewe te verander. Die Bybel sê byvoorbeeld dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’ (1 Korintiërs 15:33). Een van die eerste dinge wat ek dus moes doen, was om nuwe vriende te maak. Daarom het ek nie meer na die vergaderinge toe gegaan wat die bende gehou het nie. Ek het eerder die vergaderinge begin bywoon wat Jehovah se Getuies in die tronk gehou het. By die Getuies se vergadering het ek ’n ander gevangene ontmoet met die naam Andrés, wat in die tronk as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Hy het my genooi om saam met hom ontbyt te eet. Daarna het ek nie meer my dag met ’n daggasigaret begin nie. Ek en Andrés het eerder elke oggend ’n Bybelteks bespreek.

 Die bendelede het onmiddellik opgelet dat ek besig is om te verander. Toe het een van die bendeleiers gesê dat hy met my wil praat. Ek was bang. Ek het nie geweet wat hy met my sou doen wanneer hy uitvind wat ek van plan is om te doen nie, want dit is amper onmoontlik om ’n bende te verlaat. Hy het gesê: “Ons het gesien dat jy nie meer na ons vergaderinge toe kom nie, maar dat jy na Jehovah se Getuies se vergaderinge toe gaan. Wat is jy van plan om te doen?” Ek het gesê dat ek wil aanhou om die Bybel te studeer en om my lewe te verander. Ek was baie verbaas toe hy vir my sê dat die bende my sou respekteer solank ek bewys dat ek regtig een van Jehovah se Getuies wil wees. Toe sê hy: “As jy regtig oor God wil leer, hou aan om saam met Jehovah se Getuies te studeer. Ons verwag dat jy sal ophou om slegte dinge te doen. Ek wil jou gelukwens. Jy is op die regte pad. Die Getuies kan jou regtig help. Ek het in die Verenigde State die Bybel saam met hulle studeer, en party van my familielede is Jehovah se Getuies. Moenie bang wees nie. Hou so aan.” Ek was nog steeds bang, maar tog ook baie bly. Ek het Jehovah God in my hart bedank. Ek het gevoel soos ’n voël wat uit sy hok vrygelaat is, en ek het Jesus se woorde verstaan: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” – Johannes 8:32.

 Maar party van my vorige vriende het my getoets deur vir my dwelms aan te bied. Ek moet erken dat ek soms ingegee het. Maar met verloop van tyd, ná baie opregte gebede, het ek uiteindelik my slegte gewoontes oorkom. – Psalm 51:10, 11.

 Nadat ek uit die tronk gekom het, het baie gedink dat ek weer sou teruggaan na my vorige lewenswyse, maar ek het nie. Ek het eerder dikwels teruggegaan na die tronk toe om ander gevangenes te vertel van die dinge wat ek uit die Bybel geleer het. Uiteindelik was my vorige vriende oortuig daarvan dat ek verander het. Ongelukkig was dit nie die geval met my vorige vyande nie.

 Terwyl ek eendag velddiens gedoen het, is ek en my velddiensmaat skielik omring deur gewapende lede van ’n ander bende, wat my wou doodmaak. My velddiensmaat het vriendelik maar moedig vir hulle verduidelik dat ek nie meer ’n bendelid was nie. Intussen het ek probeer kalm bly. Nadat hulle my geslaan het en my gewaarsku het om nie weer na daardie gebied toe te kom nie, het die mans hulle wapens laat sak en ons laat gaan. Die Bybel het regtig my lewe verander. In die verlede sou ek probeer wraak neem. Maar nou volg ek die Bybel se raad in 1 Tessalonisense 5:15: “Sorg dat niemand ’n ander kwaad vir kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is teenoor mekaar en teenoor alle ander mense.”

 Vandat ek een van Jehovah se Getuies geword het, het ek altyd probeer om eerlik te wees. Dit was nie maklik nie. Maar met Jehovah God se hulp, die raad uit die Bybel en die ondersteuning van my nuwe vriende het ek dit reggekry. Ek wil nooit weer teruggaan na my ou lewe nie. – 2 Petrus 2:22.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Voorheen was ek ’n gewelddadige man vol woede. Ek is oortuig daarvan dat ek nie nou sou gelewe het as ek aangehou het met daardie lewenswyse nie. Wat ek uit die Bybel geleer het, het my heeltemal verander. Ek het opgehou met my slegte gewoontes. Ek het geleer om in vrede te lewe met my vorige vyande (Lukas 6:27). En ek het nou nuwe vriendskappe wat my help om goeie eienskappe te ontwikkel (Spreuke 13:20). Ek is gelukkig en het ’n doel in die lewe. Ek dien ’n God wat gereed was om my te vergewe vir al die slegte dinge wat ek gedoen het. – Jesaja 1:18.

 In 2006 het ek ’n spesiale opleidingskool vir ongetroude Christenpredikers bygewoon. ’n Paar jaar later het ek met my lieflike vrou getrou, en ons het ’n dogter. Nou gebruik ek baie van my tyd om die Bybelbeginsels wat my gehelp het, aan ander te leer. Ek dien ook as ’n ouer man in die plaaslike gemeente, en ek probeer om jongmense te help om die foute te vermy wat ek gemaak het toe ek hulle ouderdom was. Nou grawe ek nie meer my eie graf nie, maar ek bou eerder vir die ewige toekoms wat God in die Bybel belowe.