Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek het ’n vurige humeur gehad”

“Ek het ’n vurige humeur gehad”
  • Gebore: 1975

  • Geboorteland: Mexiko

  • Geskiedenis: Gewelddadige humeur; tronkvoël

MY VERLEDE

 Ek is in San Juan Chancalaito gebore, ’n klein dorpie in die staat Chiapas, Mexiko. My familie is deel van die Chol, ’n etniese groep wat van die Majas afkomstig is. Ek is die vyfde kind van 12 kinders. Toe ek ’n kind was, het ek en my broers en susters die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Ongelukkig het ek, toe ek nog jonk was, nie gedoen wat die Bybel sê nie.

 Teen die tyd dat ek 13 jaar oud was, het ek dwelms gebruik en van ander gesteel. Ek het op hierdie ouderdom die huis verlaat en van die een plek tot die ander rondgetrek. Toe ek 16 was, het ek op ’n dagga-plantasie begin werk. Nadat ek amper ’n jaar lank daar gewerk het, het swaar gewapende mans van ’n ander dwelmkartel ons aangeval terwyl ons besig was om ’n groot hoeveelheid dagga per boot te vervoer. Ek het weggekom terwyl hulle geskiet het deur in die rivier te duik en met die stroom af te swem. Daarna het ek na die Verenigde State gevlug.

 In die Verenigde State het ek aangehou om dwelms te verkoop en in nog groter moeilikheid beland. Toe ek 19 jaar oud was, is ek gearresteer, aangekla van diefstal en poging tot moord en tronk toe gestuur. In die tronk het ek by ’n bende aangesluit en nog gewelddadige misdade gepleeg. As gevolg hiervan is ek na ’n hoësekuriteits-gevangenis in Lewisburg, Pennsilvanië, gestuur.

 In hierdie tronk het my gedrag net erger geword. Omdat ek alreeds bende-tatoeëermerke gehad het, was dit maklik om by dieselfde bende in hierdie tronk aan te sluit. Ek het gewelddadiger geword en was in die een bakleiery na die ander. Een keer het ek saam baklei toe ’n bende-geveg in die tronk uitgebreek het. Ons het erg baklei en selfs baseball bats en gewigte gebruik. Die tronkwagte het traangas gebruik om die geveg op te breek. Daarna het hulle my in die spesiale beheer-eenheidvir gevaarlike gevangenes gesit. Ek het ’n vurige humeur gehad en lelike taal gebruik. Dit was vir my maklik om mense seer te maak. Ek het dit eintlik geniet. Ek het glad nie spyt gevoel oor wat ek gedoen het nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 In die spesiale beheer-eenheid moes ek meeste van die dag in my tronksel bly. Daarom het ek die Bybel begin lees om die tyd vinniger te laat verbygaan. Later het ’n tronkwag vir my die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gegee. a Terwyl ek hierdie Bybelstudiehulp gelees het, het ek baie van die dinge onthou wat ek as kind geleer het toe ek die Bybel saam met die Getuies gestudeer het. Daarna het ek besef net hoe sleg my lewe geword het as gevolg van my gewelddadige persoonlikheid. Ek het ook aan my familie gedink. Ek het gedink aan twee van my susters wat Getuies van Jehovah geword het en toe tref dit my: ‘Hulle gaan vir ewig lewe.’ Toe wonder ek: ‘Hoekom kan ek nie?’ Dit het my vasbeslote gemaak om te verander.

 Maar ek het geweet dat ek hulp nodig gehad het om te verander. Daarom het ek eers tot Jehovah God gebid en hom gesmeek om my te help. Daarna het ek vir die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Verenigde State geskryf en vir ’n Bybelstudie gevra. Die takkantoor het gereël dat ’n gemeente daar naby my moes kontak. Op daardie tyd was ek nie toegelaat om besoekers te ontvang wat nie familie van my was nie. Daarom het ’n Getuie van die gemeente aanmoedigende briewe en Bybelpublikasies vir my gestuur, en dit het my begeerte om te verander sterker gemaak.

 Ek het ’n groot stap geneem toe ek besluit het om die bende waaraan ek al jare lank behoort het, te verlaat. Die leier van die bende was ook in die spesiale beheer-eenheid. Daarom het ek in een van ons ontspanningstye na hom toe gegaan en vir hom gesê dat ek een van Jehovah se Getuies wil word. Ek was verbaas toe hy vir my sê: “As jy ernstig hieroor is, dan moet jy dit doen. Ek kan nie teen God werk nie. Maar as jy die bende net wil verlaat, dan weet jy wat gaan gebeur.”

 Oor die volgende twee jaar het die tronkpersoneel opgelet dat my persoonlikheid verander het. Daarom het hulle my vriendeliker behandel. Byvoorbeeld, die wagte het opgehou om my hande te boei wanneer hulle my uit my tronksel gevat het om te gaan was. Een van die wagte het selfs na my toe gekom en my aangemoedig om aan te hou om goeie veranderinge te maak. Die tronkowerheid het my selfs vir my laaste jaar oorgeplaas na ’n minimumsekuriteits-kamp wat naby die tronk was. In 2004, nadat ek tien jaar lank in die tronk was, is ek vrygelaat en met ’n tronkbus na Mexiko teruggestuur.

 Kort nadat ek in Mexiko aangekom het, het ek uitgevind waar die naaste Koninkryksaal van Jehovah se Getuies is. Ek het my eerste vergadering bygewoon met die enigste ordentlike klere wat ek gehad het, my tronkuniform. Al was dit al wat ek gehad het om aan te trek, het die Getuies het my nog steeds vriendelik verwelkom. Toe ek sien hoe liefdevol hulle was, het ek gevoel dat ek saam met ware Christene is (Johannes 13:35). By daardie vergadering het die gemeente se ouer manne gereël dat ek ’n regte Bybelstudie moet kry. Ek is ’n jaar later, op 3 September 2005, gedoop as een van Jehovah se Getuies.

 In Januarie 2007 het ek begin dien as ’n voltydse bedienaar, wat beteken dat ek 70 uur elke maand daaraan spandeer om ander van die Bybel te leer. In 2011 het ek die Bybelskool vir Ongetroude Broers (word nou Skool vir Koninkrykspredikers genoem) voltooi. Hierdie skool het my baie gehelp om my verantwoordelikhede in die gemeente beter te doen.

Ek geniet dit nou om ander te leer om vreedsaam te wees

 In 2013 het ek met my liewe vrou, Pilar, getrou. Sy sê, met ’n bietjie humor daarby, dat sy dit moeilik vind om die dinge te glo wat ek haar oor my verlede vertel. Ek het nooit weer teruggegaan na my vorige lewe nie. Ek en my vrou glo albei dat die persoon wat ek vandag is, ’n bewys is van die krag wat die Bybel het om iemand se lewe te verander. — Romeine 12:2.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Ek dink dat Jesus se woorde in Lukas 19:10 op my van toepassing is. Daar het hy gesê: “[Ek] het gekom om te soek en te red wat verlore was.” Ek voel nie meer verlore nie. Ek maak ook nie meer mense seer nie. As gevolg van die Bybel het ek nou ’n doel in die lewe en is ek vreedsaam teenoor alle mense. Maar die belangrikste ding van alles is dat ek ’n goeie verhouding met my Skepper, Jehovah, het.

[VOETNOOT]

a Hierdie boek word deur Jehovah se Getuies uitgegee, maar dit word nie meer gedruk nie. Hulle gebruik nou die boek Wat leer die Bybel werklik? om die Bybel met mense te studeer.