Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Die beste prys van my lewe

Die beste prys van my lewe
  • GEBORE 1967

  • GEBOORTELAND FINLAND

  • GESKIEDENIS PROFESSIONELE TENNISSPELER

MY VERLEDE

 Ek het grootgeword in die rustige, groen buitewyke van Tampere, Finland. My gesin was nie baie godsdienstig nie, maar opvoeding en goeie maniere was vir ons belangrik. My ma is Duits, en toe ek klein was, het ek nou en dan gaan kuier in Wes-Duitsland, waar my ouma en oupa gewoon het.

 Ek was van kleins af lief vir sport. In my vroeë jare, het ek allerhande sport gespeel, maar toe ek omtrent 14 was, het ek besluit om op tennis te konsentreer. Teen die tyd dat ek 16 was, het ek twee of drie keer ’n dag geoefen – ek het twee professionele oefensessies gehad, en in die aand het ek op my eie geoefen. Ek was gefassineer deur die verskillende aspekte van die sport; tennis was ’n manier waarop ek myself verstandelik en fisies kon uitdaag. Al het ek dit geniet om met my vriende te kuier en nou en dan ’n bier te drink, het ek nooit ’n probleem gehad met dwelms of alkohol nie. My lewe het om tennis gedraai – dit was my prioriteit.

 Toe ek 17 was, het ek aan ATP-toernooie begin deelneem. a Nadat ek ’n hele paar toernooie gewen het, was ek oor die hele land bekend. Toe ek 22 was, was ek onder die top 50 tennisspelers in die wêreld.

 Ek het jare lank om die wêreld gereis om professionele tennis te speel. Ek het fassinerende plekke gesien, maar ek het ook die probleme in die wêreld gesien, insluitende misdaad, dwelmmisbruik en omgewingskwessies. Byvoorbeeld, terwyl ek in die Verenigde State was, is daar vir ons gesê om nie na seker gebiede in die stede te gaan nie as gevolg van die hoë misdaadsyfer. Al hierdie dinge het my ontstel. En al het ek iets gedoen waarvoor ek lief was, het ek aan die einde van die dag leeg gevoel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 My meisie, Sanna, het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek het dit nogal snaaks gevind om hierdie godsdienstige kant van haar te sien, maar dit het my nie gepla dat sy studeer nie. In 1990 het ons getrou, en sy is die volgende jaar as een van Jehovah se Getuies gedoop. Ek het nie gedink dat ek ’n godsdienstige persoon is nie, maar ek het tog geglo dat daar ’n God is. Ek het onthou dat my Duitse ouma die Bybel baie gelees het, en sy het my selfs geleer hoe om te bid.

 Eendag, toe ek en Sanna by ’n Getuiepaartjie gekuier het, het die man, Kari, vir my die Bybelprofesie gewys oor “die laaste dae” (2 Timoteus 3:1-5). Dit het ’n groot indruk op my gemaak, want ek het besef dat dit verduidelik hoekom daar soveel probleme in die wêreld is. Ons het nie daardie dag verder oor godsdiens gepraat nie. Maar daarna het ek gereeld gesprekke met Kari oor die Bybel gehad, en alles wat ek geleer het, het sin gemaak. Omdat ek so besig was en baie gereis het, was dit vir ons moeilik om mekaar gereeld te sien, maar dit het Kari nie afgesit nie. Hy het eenvoudig die vrae wat ek gedurende ons studiesessies gehad het, per brief beantwoord. Die Bybel het logiese antwoorde op al die diep vrae van die lewe gehad, en ek het stadig maar seker die tema van die Bybel raakgesien – dat God se Koninkryk Sy wil sal uitvoer. Om te leer dat God se naam Jehovah is en om te sien wat hy vir ons gedoen het, het ’n groot indruk op my gemaak (Psalm 83:18). Wat my die meeste geraak het, was sy voorsiening van die losprysoffer – dit was nie net ’n tegniese reëling of ’n wetlike formaliteit nie. Dit was eerder ’n bewys van God se liefde (Johannes 3:16). Ek het ook geleer dat ek die geleentheid het om God se vriend te word en vir ewig in ’n vreedsame paradys te lewe (Jakobus 4:8). Ek het my begin afvra: “Hoe kan ek my waardering toon?”

 Ek het lank en mooi oor my lewe nagedink. Ek het uit die Bybel geleer dat dit ’n mens werklik gelukkig maak om te gee, en ek wou graag my oortuigings met ander deel (Handelinge 20:35). Omdat ek ’n professionele tennisspeler was, was ek omtrent 200 dae ’n jaar weg van die huis af om aan toernooie deel te neem. Ons gesin se hele lewe het om my gedraai – my oefensessies, my roetine, my loopbaan. Ek het besef dat ek ’n verandering moes maak.

 Ek het geweet dat min mense my besluit sou verstaan om ’n belowende loopbaan in sport op te gee vir godsdienstige redes. Maar die geleentheid om Jehovah beter te leer ken en die ewige lewe te hê, was baie kosbaarder as enige prys wat ek in tennis kon wen, en daarom was dit nie ’n moeilike besluit nie. Ek was vasbeslote om nie te luister na wat ander mense dalk sou sê nie – dit was my besluit. ’n Bybelteks wat my veral gehelp het om sulke druk te hanteer, was Psalm 118:6: “Jehovah is aan my kant; ek sal nie vrees nie. Wat kan die mens aan my doen?”

 In daardie tyd het ek ’n baie goeie aanbod van party borge ontvang, wat my in staat sou stel om jare lank, sonder enige bekommernis, professionele tennis te speel. Maar ek het klaar geweet wat ek wil doen, en daarom het ek nie die aanbod aanvaar nie en uiteindelik opgehou om aan ATP-toernooie deel te neem. Ek het aangehou om die Bybel te studeer, en op 2 Julie 1994 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 In my geval was dit nie ’n persoonlike tragedie wat my aan God laat dink het nie. En ek het ook nie gedink dat ek iemand was wat na die waarheid gesoek het nie. Volgens my het ek ’n goeie lewe gelei en ek kon nie vir meer vra nie. Maar, onverwags, asof Bybelwaarheid vir my gewag het om dit te vind, het ek ontdek dat die lewe ’n dieper betekenis het, en my lewe het ver beter geword as wat ek my ooit kon voorstel! Ons gesin is hegter en sterker as ooit tevore. En ek is baie bly dat my drie seuns my voetstappe gevolg het – nie as sportmanne nie, maar as Christene.

 Ek geniet dit nog steeds om tennis te speel. Deur die jare heen kon ek vir my gesin sorg deur in die tennisbedryf te werk, byvoorbeeld as ’n afrigter en ’n bestuurder van ’n tennissentrum. Maar my lewe draai nie meer om sport nie. In die verlede sou ek elke week ure lank oefen om ’n beter tennisspeler te word, ’n kampioen. Nou, as ’n voltydse prediker, geniet ek dit om my tyd te gebruik om ander te help om die Bybelbeginsels wat my lewe verander het, te leer en toe te pas. Dit maak my die gelukkigste om my verhouding met Jehovah God eerste te stel en om ander te vertel van my hoop op ’n beter toekoms. – 1 Timoteus 6:19.

a ATP staan vir Vereniging van Professionele Tennisspelers (Association of Tennis Professionals). Dit is die bestuursliggaam van manlike professionele tennisspelers. Die ATP-toer organiseer verskeie professionele toernooie waarin die wenners punte en kontantpryse ontvang. Die totale aantal punte wat ’n speler in die toernooie kry, bepaal sy plek op die wêreldranglys.