Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

Die intelligente vel van die seekomkommer

Die intelligente vel van die seekomkommer

 Seekomkommers is diere wat op die seebodem en koraalriwwe lewe. Hulle liggaam kan knopperig en bulterig wees of kan selfs skerp punte hê. Hulle vermoë om aan te pas, is ongelooflik. Binne minute of selfs sekondes kan hulle so soepel soos was of so hard soos ’n plank word. Op hierdie manier kan seekomkommers hulle in klein spasies inwurm en dan hulle liggaam hard maak sodat ander seediere wat hulle wil eet, hulle nie daar kan uitkry nie. Die geheim van die seekomkommer is sy ongelooflike vel.

 Dink hieraan: Die vel van die seekomkommer kan hard, halfsag of sag wees. Om tussen hierdie toestande te verander, kan seekomkommers die vesel in hulle vel verbind of losmaak. Hulle doen dit deur middel van proteïene wat veroorsaak dat die vel hard of sag kan word.

 Die proteïene wat die vel hard maak, vorm klein bruggies, of kettings, tussen die vesel in die bindweefsel wat die vel harder maak. Die proteïene wat die vel sag maak, doen dit deur die vesels los van mekaar te maak. Die vel van die seekomkommer kan so sag word dat dit lyk asof dit smelt.

 Wetenskaplikes probeer materiale maak wat dieselfde kenmerke het as die vel van die seekomkommer. Een van hulle doelwitte is om elektrodes vir breinchirurgie te maak wat hard genoeg is sodat dit op presies die regte plek gesit kan word, maar wat later weer sag kan word. As die elektrodes op hierdie manier kan aanpas, sal daar minder kans wees dat dit deur die liggaam verwerp word.

 Wat dink jy? Het die intelligente vel van die seekomkommer geëvolueer? Of is dit ontwerp?