Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

Die loodswalvis se selfreinigende vel

Die loodswalvis se selfreinigende vel

 Eendmossels en ander see-organismes wat op die skeepsrompe groei, is ’n groot probleem vir operateurs van skepe. Hierdie biologiese vervuiling (biofouling) maak skepe stadig en veroorsaak dat dit meer brandstof gebruik. Wat meer is, skepe moet dalk elke paar jaar uit diens geneem word sodat dit skoongemaak kan word. Wetenskaplikes soek na ’n oplossing in die natuur.

 Dink hieraan: Uit studies is daar ontdek dat die vel van die loodswalvis (Globicephala melas) die vermoë het om homself skoon te maak. Die vel is bedek met klein riffels, wat nanoriffels genoem word, en wat so klein is dat die larwes van eendmossels nie daaraan kan vassit nie. Die spasies tussen die riffels is gevul met ’n soort gel wat seewier en bakterieë aanval. Die walvis skei nuwe gel af wanneer hy vervel.

 Wetenskaplikes beplan om die loodswalvis se selfreinigende stelsel aan te pas sodat hulle dit op skeepsrompe kan gebruik. In die verlede is ’n spesiale soort verf gebruik om te keer dat hierdie organismes op skeepsrompe groei. Maar die verf wat oor die algemeen gebruik is, is onlangs verbied omdat dit giftig is vir seelewe. Die navorsers se oplossing is om die skeepsrompe met ’n metaalgaas te bedek, wat strek bo-oor ’n aantal gaatjies wat ’n natuurvriendelike chemiese stof afskei. Wanneer die chemiese stof met seewater in aanraking kom, vorm dit ’n taai gel wat die hele skeepsromp soos ’n vel bedek en wat ongeveer 0,7 millimeter dik is. Met verloop van tyd verslyt hierdie vel en neem dit enige organismes saam wat dalk daarop vassit. Dan skei die stelsel ’n nuwe laag gel af om die skeepsromp te bedek.

Eendmossels maak skepe stadig en is moeilik om te verwyder

 Laboratoriumtoetse het getoon dat hierdie stelsel die biologiese vervuiling van skepe honderdvoudig kan verminder. En dit sal skeepvaartmaatskappye baie help omdat dit duur is om ’n skip uit diens uit te neem sodat dit skoongemaak kan word.

 Wat dink jy? Het die loodswalvis se selfreinigende vel deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?