Spring na inhoud

Wat beteken “oog vir oog”?

Wat beteken “oog vir oog”?

Die Bybel se antwoord

 Die wet van “oog vir oog” was deel van God se Wet wat hy deur middel van Moses aan eertydse Israel gegee het. Jesus het dit ook in sy Bergpredikasie aangehaal (Matteus 5:38; Eksodus 21:24, 25; Deuteronomium 19:21). Dit het beteken dat wanneer kwaaddoeners gestraf word, die straf by die oortreding moet pas. a

 Hierdie wet was van toepassing wanneer ’n persoon iemand anders opsetlik beseer het. Die wet van Moses het gesê wat met so iemand moes gebeur: “Breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand; dieselfde soort gebrek wat hy aan die mens veroorsaak, moet aan hom veroorsaak word.” — Levitikus 24:20.

 Wat was die doel van die wet “oog vir oog”?

 Die wet “oog vir oog” het mense nie die reg gegee om self wraak te neem nie. Dit het aangestelde regters eerder gehelp om die gepaste straf te gee wat nie te swaar was nie maar ook nie te lig nie.

 Die wet het ook gehelp om te keer dat mense ander opsetlik seermaak of selfs planne maak om dit te doen. Die Bybel verduidelik: “Dié wat oorbly [diegene wat gesien het hoe God se geregtigheid uitgevoer word] sal dit hoor en bang wees, en hulle sal nooit weer so iets slegs in jou midde doen nie.” — Deuteronomium 19:20.

 Is die wet “oog vir oog” op Christene van toepassing?

 Nee, hierdie wet geld nie vir Christene nie. Dit was deel van die wet van Moses, en Jesus se offerdood het ’n einde daaraan gemaak. — Romeine 10:4.

 Maar hierdie wet leer ons iets oor die manier hoe God dink. Byvoorbeeld, dit wys dat God lief is vir regverdigheid (Psalm 89:14). Dit wys ons ook wat God se standaard van regverdigheid is — hy wil hê dat mense wat opsetlik verkeerde dinge doen, “in die regte mate” gedissiplineer moet word. — Jeremia 30:11.

 Verkeerde idees oor die wet “oog vir oog”

 Verkeerde idee: Die wet “oog vir oog” was ’n wrede wet.

 Feit: Hierdie wet het mense nie die reg gegee om ander op ’n wrede manier te straf nie. Wanneer die wet reg toegepas is, het dit beteken dat bekwame regters eers iemand sou straf nadat hulle die omstandighede ondersoek het en gekyk het of die oortreding opsetlik was (Eksodus 21:28-30; Numeri 35:22-25). Sodoende het die wet “oog vir oog” help keer dat enige straf te swaar of te lig was.

 Verkeerde idee: Die wet “oog vir oog” het veroorsaak dat mense aanhoudend wraak neem.

 Feit: Die wet van Moses het gesê: “Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester teen die kinders van jou volk nie” (Levitikus 19:18). Die wet het mense nie aangemoedig om self wraak te neem nie, maar om eerder op God te vertrou en op die regstelsel wat hy ingestel het om dinge reg te stel. — Deuteronomium 32:35.

a Hierdie regsbeginsel, wat in Latyn lex talionis genoem word, kan ook in die regstelsels van ander gemeenskappe van die ou tyd gevind word.