Spring na inhoud

Wie was Maria Magdalena?

Wie was Maria Magdalena?

Die Bybel se antwoord

 Maria Magdalena was ’n getroue navolger van Jesus Christus. Haar naam, Magdalena, verwys dalk na die dorp Magdala (moontlik Magadan), wat naby die See van Galilea was. Maria het dalk eens op ’n tyd daar gebly.

 Maria Magdalena was een van die vroue wat saam met Jesus en sy dissipels gereis het en het na hulle materiële behoeftes omgesien (Lukas 8:1-3). Sy was ’n ooggetuie van Jesus se teregstelling, en sy was een van die eerste mense wat hom gesien het nadat hy uit die dood opgewek is. – Markus 15:40; Johannes 20:11-18.

 Was Maria Magdalena ’n prostituut?

 Die Bybel sê nie dat Maria Magdalena ’n prostituut was nie. Al wat dit oor haar sê, is dat Jesus sewe demone uit haar uitgedryf het. – Lukas 8:2.

 Waar het die idee dat sy ’n prostituut is, vandaan gekom? Honderde jare ná Maria Magdalena se dood is daar gesê dat sy dieselfde persoon was as die onbekende vrou (waarskynlik ’n prostituut) wat Jesus se voete met haar trane gewas het en met haar hare afgedroog het (Lukas 7:36-38). Maar daar is geen bewyse in die Bybel hiervan nie.

 Was Maria Magdalena ’n “apostel vir die apostels”?

 Nee. Die Katolieke Kerk noem Maria “sint Maria Magdalena” sowel as “die apostel vir die apostels” omdat sy onder die eerste persone was wat die apostels vertel het dat Jesus uit die dood opgewek is (Johannes 20:18). Maar dit beteken nie dat sy ’n apostel was nie. En nêrens in die Bybel word sy een genoem nie. – Lukas 6:12-16.

 Die Bybel is na aan die einde van die eerste eeu HJ voltooi. Maar dit was eers in die sesde eeu dat kerkleiers self besluit het om vir Maria Magdalena ’n hoër posisie te gee. In geskrifte uit die tweede en derde eeu – wat nie deel van die Bybel is nie – word daar gesê dat party van Jesus se apostels jaloers was op Maria. Hierdie stories is opgemaak en is nie deel van die geïnspireerde Skrif nie.

 Was Maria Magdalena Jesus Christus se vrou?

 Nee. Die Bybel maak dit duidelik dat Jesus nie getrou het nie. a