Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor genadedood?

Wat sê die Bybel oor genadedood?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel bespreek nie spesifiek die onderwerp van genadedood nie. a Maar dit het ’n gebalanseerde beskouing wanneer dit kom by lewe en die dood. Dit is verkeerd om iemand se dood te veroorsaak. Maar dit is nie nodig om tot die uiterste te gaan om jou lewe te verleng as jy besig is om te sterf nie.

 Die Bybel sê dat God ons Skepper is, “die bron van die lewe” (Psalm 36:9; Handelinge 17:28). In God se oë is lewe baie kosbaar. Daarom veroordeel God dit wanneer ’n mens iemand anders of jouself doodmaak (Eksodus 20:13; 1 Johannes 3:15). Die Bybel wys ook dat ons voorsorg moet tref om ons eie lewe en die lewens van ander te beskerm (Deuteronomium 22:8). Dit is duidelik dat God wil hê dat ons die geskenk van lewe moet waardeer.

Sê nou ’n persoon is terminaal siek?

 Volgens die Bybel is dit verkeerd om iemand dood te maak selfs wanneer dit lyk asof die persoon definitief en binnekort sal doodgaan. Kyk na die voorbeeld van koning Saul van Israel. Toe hy gedurende ’n oorlog dodelik gewond is, het hy sy dienaar gevra om hom te help om sy lewe te neem (1 Samuel 31:3, 4). Saul se dienaar wou dit nie doen nie. Maar later het ’n ander man gelieg en gesê dat hy gedoen het wat Saul gevra het. Dawid het hierdie man veroordeel en gesê dat hy bloedskuldig is. En Dawid was iemand wat dieselfde beskouing gehad het van hierdie saak as God. — 2 Samuel 1:6-16.

Moet jy alles probeer doen om jou lewe te verleng?

 Die Bybel sê nie dat ’n mens die sterfproses moet verleng wanneer dit duidelik is dat die persoon binnekort gaan sterf nie. Die Bybel gee eerder vir ons ’n gebalanseerde antwoord. Die dood is ons grootste vyand, die gevolg van ons sondige toestand (Romeine 5:12; 1 Korintiërs 15:26). Hoewel ons nie wil doodgaan nie, hoef ons nie daarvoor bang te wees nie. God belowe dat almal wat gesterf het, sal opstaan (Johannes 6:39, 40). Iemand wat respek vir lewe het, sal die beste mediese sorg wil hê. Maar dit beteken nie dat ’n persoon wat in elk geval gaan sterf, mediese behandeling sal kies omdat hy dink dat dit sy lewe sal verleng nie.

Is selfmoord’n sonde wat nie vergewe kan word nie?

 Nee, die Bybel sê nie so nie. Dit is ’n ernstige sonde om jouself dood te maak. b Maar God verstaan die feit dat mense soms sukkel met geeste-siektes, erge stres of selfs genetiese faktore wat tot selfmoord-neigings kan lei (Psalm 103:13, 14). Deur middel van die Bybel vertroos hy diegene wat deur ’n moeilike tyd gaan. En die Bybel sê ook dat daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Dit wys dat daar hoop op ’n opstanding sal wees vir mense wat ernstige foute gemaak het, soos om selfmoord te pleeg.

a Die definisie van genadedood is “om iemand dood te maak wat baie siek of ernstig beseer is sodat hulle nie meer ly nie” (Merriam-Webster Learner’s Dictionary). Wanneer ’n dokter ’n pasiënt help om sy lewe te beëindig, word dit medies-ondersteunde selfmoord genoem.

b Die paar keer wat die Bybel praat van mense wat selfmoord gepleeg het, was dit mense wat nie gehoorsaam was aan God se wil nie. — 2 Samuel 17:23; 1 Konings 16:18; Matteus 27:3-5.