Spring na inhoud

Wie se name is in “die boek van die lewe” geskryf?

Wie se name is in “die boek van die lewe” geskryf?

Die Bybel se antwoord

 “Die boek van die lewe”, wat ook “die boekrol van die lewe” of “gedenkboek” genoem word, bevat die name van mense wat die vooruitsig het om die ewige lewe te ontvang (Openbaring 3:5; 20:12; Maleagi 3:16). God bepaal hierdie name op grond van ’n persoon se getroue gehoorsaamheid aan hom.—Johannes 3:16; 1 Johannes 5:3.

 God hou elkeen van sy getroue knegte in sy geheue, asof hy hulle name ‘vanaf die grondlegging van die wêreld’ van mense in ’n boek neerskryf (Openbaring 17:8). Die getroue man Abel was blykbaar die eerste een wie se naam in die boek van die lewe opgeteken is (Hebreërs 11:4). Maar dit is nie net ’n onpersoonlike lys van name nie, want die boek van die lewe toon vir ons dat Jehovah ’n liefdevolle God is wat ‘dié ken wat aan hom behoort’.—2 Timoteus 2:19; 1 Johannes 4:8.

Kan name uit “die boek van die lewe” uitgewis word?

 Ja. God het oor ongehoorsame mense in eertydse Israel gesê: “Elkeen wat teen my gesondig het, dié sal ek uit my boek uitwis” (Eksodus 32:33). Maar as ons getrou bly, sal ons in “die boekrol van die lewe” bly.—Openbaring 20:12.