Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LEWE NÁ DIE DOOD—IS DIT MOONTLIK?

Hoop vir die dooies—Hoe kan jy daarvan seker wees?

Hoop vir die dooies—Hoe kan jy daarvan seker wees?

Is dit naïef om te dink dat die dooies weer sal lewe? Die apostel Paulus het nie so gedink nie. Hy het onder inspirasie geskryf: “As ons net in hierdie lewe op Christus gehoop het, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Nou is Christus egter uit die dode opgewek, die eersteling van dié wat ontslaap het” (1 Korintiërs 15:19, 20). Paulus was seker dat die opstanding sou plaasvind. Trouens, die opstanding van Jesus Christus het dit gewaarborg (Handelinge 17:31). * Dit is waarom Paulus Jesus “die eersteling” genoem het—hy is die eerste persoon wat tot ewige lewe opgewek is. As Jesus die eerste was, is dit tog logies dat daar ook ander sou wees.

Job het vir God gesê: “Na die werk van u hande sal u vurig verlang.”—Job 14:14, 15

Hier is nog ’n rede waarom jy van die opstandingshoop seker kan wees. Jehovah is die God van waarheid. ‘God kan nie lieg nie’ (Titus 1:2). Jehovah het nog nooit gelieg nie, en hy sal ook nooit nie. Hy sou ons tog nie die hoop op die opstanding gee, selfs toon dat hy mense kan opwek en dan nie doen wat hy belowe het nie. Net die gedagte daaraan is belaglik!

Waarom het Jehovah die toekomstige opstanding moontlik gemaak? As gevolg van sy liefde. “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?”, het Job gevra. “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang” (Job 14:14, 15). Job was daarvan oortuig dat sy liefdevolle hemelse Vader daarna sou smag om hom op te wek. Het God verander? “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). God smag nog steeds daarna om te sien hoe die dooies gesond en gelukkig opgewek word. Dit is die wens van enige liefdevolle ouer as hulle ’n kind aan die dood afgestaan het. Maar die verskil is dat God die mag het om sy wense te vervul.—Psalm 135:6.

Die dood is ’n verskriklike probleem, maar God het die volmaakte oplossing

Jehovah sal sy Seun die mag gee om eindelose vreugde te verskaf aan almal wat al oor die dood van ’n geliefde getreur het. En hoe voel Jesus oor die opstanding? Voordat Jesus Lasarus opgewek het, het hy die pyn van Lasarus se susters en vriende gesien, en hy het self ook “trane gestort” (Johannes 11:35). By ’n ander geleentheid het Jesus die weduwee van Nain teëgekom, wie se enigste seun gesterf het. Jesus “is . . . ontroer deur innige jammerte vir haar, en hy het vir haar gesê: ‘Hou op huil.’” Toe het hy onmiddellik haar seun opgewek (Lukas 7:13). Jesus voel dus baie sterk oor droefheid en die dood. Hoe verheug sal hy tog wees wanneer hy regoor die wêreld droefheid in vreugde verander!

Was jy al ooit bedroef? Jy voel dalk dat die dood ’n probleem is waarvoor daar geen oplossing is nie. Maar daar is ’n oplossing—die opstanding wat God deur middel van sy Seun sal uitvoer. Onthou dat God wil hê dat jy hierdie oplossing moet sien. Hy wil hê dat jy daar moet wees om jou geliefdes te verwelkom. Stel jou voor dat julle saam ’n ewige toekoms beplan en dat julle nooit weer afskeid hoef te neem nie!

Lionel, wat vroeër aangehaal is, sê: “Uiteindelik het ek van die opstanding geleer. Eers was dit moeilik om te glo, en ek het nie die persoon wat my daarvan vertel het, vertrou nie. Maar ek het self gelees wat die Bybel daaroor sê en gesien dat dit waar is! Ek kan nie wag om my oupa weer te sien nie.”

Sal jy graag meer wil weet? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om in jou eie Bybel te sien waarom hulle oortuig is dat die opstanding sal plaasvind. *

^ par. 3 Vir bewyse dat Jesus opgewek is, sien die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? bladsy 78-86, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 9 Sien asseblief hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.