Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN

Hoe om kinders te help om mislukking te hanteer

Hoe om kinders te help om mislukking te hanteer

 Die een of ander tyd sal jou kind voor die een of ander mislukking of teleurstelling te staan kom. Hoe kan jy hulle help om daaroor te kom?

 Wat jy moet weet

 Mislukking is deel van die lewe. Die Bybel sê: “Ons almal struikel” (Jakobus 3:2). Kinders struikel ook. Maar mislukkings kan goed wees – dit help kinders om te leer om moeilike situasies te oorkom. Dit is nie iets waarmee kinders gebore word nie, maar dit is iets wat hulle kan leer om te doen. ’n Ma met die naam Laura sê: “Ek en my man het al gesien dat dit beter is vir kinders om te leer hoe om teleurstellings te hanteer eerder as om te maak asof niks gebeur het nie. Dit help hulle om deur te druk wanneer dinge nie gebeur soos wat hulle verwag het dit sou nie.”

 Baie kinders kan nie mislukking hanteer nie. Party kinders het nie geleer hoe om mislukking te hanteer nie omdat hulle ouers hulle wil beskerm en hulle wil laat voel dat hulle niks verkeerds gedoen het nie. Byvoorbeeld, wanneer ’n kind nie goed doen in sy of haar skoolwerk nie, blameer party ouers dadelik die onderwyser. Wanneer ’n kind met ’n vriend stry, blameer die ouers sommer die vriend.

 Maar hoe moet kinders leer om verantwoordelikheid vir hulle foute te neem as hulle ouers hulle teen die gevolge beskerm?

 Wat jy kan doen

  •   Leer jou kinders dat dit wat hulle doen, gevolge het.

     Die Bybel sê: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.” – Galasiërs 6:7.

     Alles wat ons doen, het gevolge. Wanneer ons iets beskadig, kos dit geld om dit reg te maak. Wanneer ons foute maak, is daar negatiewe gevolge. Kinders moet verstaan dat alles wat ’n mens doen, gevolge het en dat hulle ook ’n mate van verantwoordelikheid dra vir dit wat hulle doen. Daarom moet jy nie iemand anders die skuld gee vir jou kinders se foute of verskonings vir hulle maak nie. Laat hulle eerder redelike gevolge dra wat pas by hulle ouderdom. Die kind moet natuurlik duidelik kan sien dat daar gevolge is as hulle iets verkeerds gedoen het.

  •   Help jou kinders om oplossings te kry.

     Bybelwaarheid: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan” – Spreuke 24:16.

     Ons voel dalk baie teleurgesteld wanneer ons misluk, maar dit is nie die einde van die wêreld nie. Help jou kinders om die oplossing te kry in plaas daarvan om te dink aan hoe onregverdig die situasie is. Byvoorbeeld, wanneer jou seun op skool ’n toets druip, help hom om te verstaan hoe hy beheer kan neem van die situasie deur volgende keer harder te leer en deur vasbeslote te wees om beter te doen (Spreuke 20:4). As jou dogter met ’n vriendin gestry het, help haar om te verstaan hoe sy kan jammer sê en dinge regmaak selfs al is dit nie heeltemal haar skuld nie. – Romeine 12:18; 2 Timoteus 2:24.

  •   Leer jou kinders om nederig te wees.

     Bybelwaarheid: ‘Ek sê vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie.’ – Romeine 12:3.

     Om vir jou kind te sê dat hy of sy “die beste” in iets is, is nie realisties nie en sal hom of haar ook nie help nie. Selfs kinders wat baie goed doen op skool, sal nie elke keer 100 persent kry nie. En kinders wat baie goed doen in ’n sekere sport, sal nie altyd wen nie. Kinders wat nie te veel van hulleself dink nie, kan mislukkings en teleurstellings beter hanteer.

     Die Bybel sê dat mislukking ons sterker kan maak en ons kan help om deursettingsvermoë te ontwikkel (Jakobus 1:2-4). Al is dit teleurstellend om te misluk, kan jy jou kinders help om realisties te wees.

     Dit neem tyd en harde werk om kinders te leer om mislukking te hanteer, soos die geval is met enigiets. Maar as dit gedoen word terwyl hulle nog jonk is, sal dit hulle help om reg op te tree wanneer hulle tieners is. Die boek Letting Go With Love and Confidence sê: “Tieners wat weet hoe om hulle probleme te hanteer, sal nie sommer gevaarlike of dom dinge doen wanneer hulle onder druk is nie. Hulle sal meer geneig wees om dinge beter te hanteer wanneer iets nuuts en onverwags gebeur.” As hulle nou al oor mislukkings kan kom, sal dit hulle beslis help wanneer hulle ouer word.

 Wenk: Stel die voorbeeld. Onthou, hoe jy teleurstelling in jou lewe hanteer, sal jou kind leer hoe om sy teleurstelling te hanteer.