Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Leer jou kind om nederig te wees

Leer jou kind om nederig te wees

DIE UITDAGING

  • Jou kind hou hom groot—en hy is maar net 10 jaar oud!

  • Hy verwag dat almal hom spesiaal moet behandel.

‘Hoekom gedra hy hom so?’ wonder jy dalk. ‘Ek wil hê hy moet goed voel oor homself, maar hy moenie dink dat hy beter is as ander nie!’

Kan kinders geleer word om nederig te wees sonder om hulle selfbeeld af te breek?

WAT JY MOET WEET

In onlangse dekades is ouers aangemoedig om hulle kinders alles te gee wat hulle wil hê; om hulle baie te prys, al het hulle niks gedoen om dit te verdien nie; en om hulle nie te dissiplineer nie. Daar is gesê dat as ’n mens kinders spesiaal laat voel, sal hulle ’n gesonde selfbeeld ontwikkel. Maar wat was die resultaat van hierdie manier van opvoeding? Die boek Generation Me sê: “Dit het kinders nie gehelp om gebalanseerd en gelukkig te wees nie, maar hulle eerder selfbehep laat word.”

Baie kinders wat van kleins af heeltyd geprys is, het nooit geleer hoe om teleurstellings, kritiek en mislukkings te hanteer nie. Hulle sukkel om sterk verhoudings te vorm omdat hulle geleer is om op hulle eie begeertes te fokus. Daarom ly baie van hulle aan angstigheid en depressie.

Kinders ontwikkel ’n goeie selfbeeld wanneer hulle werklik iets bereik, en nie wanneer daar heeltyd vir hulle gesê word dat hulle spesiaal is nie. Dit beteken dat hulle meer moet doen as om net in hulleself te glo. Hulle moet sekere vaardighede aanleer, dit oefen en daaraan werk om dit te verbeter (Spreuke 22:29). Hulle moet ook vir ander mense omgee (1 Korintiërs 10:24). Dit alles vereis nederigheid.

WAT JY KAN DOEN

Prys kinders wanneer hulle dit werklik verdien. As jou dogter in ’n skooltoets goed doen, moet jy haar prys. As sy nie goed doen nie, moet jy nie outomaties die onderwyser die skuld gee nie. Dit sal jou dogter nie help om nederig te wees nie. Help haar eerder om te sien hoe sy volgende keer beter kan doen. Prys haar net wanneer sy werklik iets bereik het.

Help jou kind reg wanneer dit nodig is. Dit beteken nie dat jy jou kind vir elke fout moet kritiseer nie (Kolossense 3:21). Maar ernstige foute en verkeerde gesindhede moet reggestel word, anders kan dit diepgewortel raak.

Sê nou jou seun hou daarvan om te spog. As jy niks daaroor doen nie, sal hy dalk verwaand word, en ander sal hom vermy. Daarom moet jy aan jou kind verduidelik dat dit hom sleg laat lyk wanneer hy spog en dat dit later vir hom ’n verleentheid sal wees (Spreuke 27:2). Verduidelik ook vir hom dat ’n persoon met ’n gebalanseerde beskouing nie oor sy vermoëns hoef te spog nie. Deur hom liefdevol op hierdie manier reg te help, sal jy hom leer om nederig te wees sonder om sy selfbeeld af te breek.—Bybelwaarheid: Matteus 23:12.

Berei jou kind voor vir die werklikheid. As jy altyd vir jou kind gee wat hy wil hê, kan dit hom laat voel dat hy die reg het op alles. As jou kind byvoorbeeld iets wil hê wat jy nie kan bekostig nie, kan jy vir hom verduidelik hoekom dit nodig is om by ’n begroting te bly. As jy ’n uitstappie of ’n vakansie moet kanselleer, kan jy verduidelik dat teleurstellings deel van die lewe is. Jy kan ook vir hom sê wat jy doen om sulke teleurstellings te hanteer. Eerder as om jou kind teen elke moeilike situasie te beskerm, moet jy hom voorberei op die uitdagings wat hy sal ondervind wanneer hy ouer is.—Bybelwaarheid: Spreuke 29:21.

Moedig jou kind aan om te gee. Wys vir jou kind dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’ (Handelinge 20:35). Hoe? Julle kan miskien saam ’n lys maak met die name van mense wat hulp nodig het met inkopies, vervoer en herstelwerk. Neem dan jou kind saam wanneer jy party van hulle gaan help. Laat jou kind sien hoe gelukkig en tevrede jy is terwyl jy na die behoeftes van ander omsien. Die beste manier om jou kind nederigheid te leer, is deur jou voorbeeld.—Bybelwaarheid: Lukas 6:38.