Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Spreuke 22:6 – “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef”

Spreuke 22:6 – “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef”

 “Lei ’n kind op in die weg wat hy moet volg. Selfs as hy oud word, sal hy dit nie verlaat nie.” – Spreuke 22:6, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” – Spreuke 22:6, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Spreuke 22:6

 Ouers wat hulle kinders leer om God lief te hê en sy wette te respekteer, kan verwag dat hierdie opleiding hulle kinders vir die res van hulle lewe sal help.

 “Lei ’n kind op in die weg wat hy moet volg.” Hierdie woorde kan ook vertaal word met “begin ’n kind op die regte pad”. Baie verse in die boek Spreuke moedig ouers aan om hulle kinders van kleins af te leer wat reg en verkeerd is (Spreuke 19:18; 22:15; 29:15). Maar liefdevolle ouers besef dat hulle kinders, net soos grootmense, vrye wil het. So in plaas daarvan om net vir hulle kinders te sê wat om te doen, redeneer hulle met hulle kinders. Hulle help hulle ook om volwasse en verantwoordelike grootmense te word wat goeie besluite op hulle eie kan maak. – Deuteronomium 6:6, 7; Kolossense 3:21.

 Party Bybelgeleerdes stel voor dat hierdie uitdrukking beteken “lei ’n kind op volgens sy geaardheid”, of volgens sy natuurlike neigings. So ’n gevolgtrekking klink dalk prakties, maar die Hebreeuse uitdrukking wat vertaal word met “die weg wat hy moet volg”, verwys moontlik na ’n lewensweg wat goed en regverdig is. Die boek Spreuke beklemtoon twee weë wat ’n persoon kan volg. Die een weg word genoem “die weg van goeie mense”, “die weg van wysheid” en “die regte weg” (Spreuke 2:20; 4:11; 23:19). Die ander weg word genoem “die weg van slegte mense”, “die weg van die dwaas” en “die verkeerde pad” (Spreuke 4:14; 12:15; 16:29). Daarom verwys die weg wat ’n kind “moet volg”, na “die regte weg” – die lewensweg wat in God se Woord, die Bybel, uiteengesit word. – Psalm 119:105.

 “Selfs as hy oud word, sal hy dit nie verlaat nie.” Wanneer ouers hulle kind God se sedelike standaarde leer, sal hy meer geneig wees om sy hele lewe op die regte pad te bly. Maar dit beteken nie dat ’n kind wat behoorlik opgelei is, nooit die regte weg sal “verlaat” of sal ophou lewe op die manier wat God wil hê nie. Byvoorbeeld, ’n persoon wat tyd spandeer saam met mense wat ander aanmoedig om te doen wat sleg is, kan “die regte pad” verlaat en doen wat verkeerd is (Spreuke 2:12-16; 1 Korintiërs 15:33). Selfs al sou dit gebeur, wanneer ouers hulle kinders oplei om God se standaarde te volg, gee hulle hulle kinders die beste geleentheid om suksesvol in die lewe te wees. – Spreuke 2:1, 11.

Konteks van Spreuke 22:6

 Spreuke hoofstuk 22 bestaan uit kort gesegdes wat ons help om God se wysheid in verskillende situasies in ons lewens toe te pas. Hierdie gesegdes beklemtoon die waarde daarvan om ’n goeie reputasie by Jehovah a te hê, iets wat ’n mens kan kry as jy nederig, vrygewig en hardwerkend is (Spreuke 22:1, 4, 9, 29). In teenstelling hiermee wys ander verse dat diegene wat God se standaarde ignoreer en arm mense sleg behandel, die gevolge sal dra. – Spreuke 22:8, 16, 22-27.

 Alhoewel die meeste van die verse in Spreuke hoofstuk 22 nie na die opleiding van kinders verwys nie, beskryf dit ’n lewenswyse wat na God se goedkeuring en ware geluk lei (Spreuke 22:17-19). Deur hulle kinders op te lei om so ’n lewensweg te volg, wys ouers dat hulle die beste vir hulle kinders wil hê. – Efesiërs 6:1-3.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Spreuke te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?