Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Psalm 23:4 – “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee”

Psalm 23:4 – “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee”

 “Al loop ek in die vallei van diep skaduwee, is ek nie bang vir enige gevaar nie, want u is met my. U stok en u staf stel my gerus.” – Psalm 23:4, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” – Psalm 23:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Psalm 23:4 a

 God beskerm en sorg vir diegene wat hom aanbid – selfs wanneer hulle deur moeilike situasies gaan. Die vers gebruik die illustrasie van ’n skaap onder die sorg van ’n herder om te wys hoe God vir sy aanbidders sorg. b Hulle voel nie alleen wanneer hulle deur aaklige omstandighede gaan nie. Dit word in hierdie vers beskryf as ’n plek van diep skaduwee of duisternis of wanneer ’n mens voor die dood te staan kom. Hulle voel veilig, asof God met hulle is.

 In Bybeltye het ’n herder sy stok of kierie gebruik om die skape teen gevaarlike diere te beskerm. Hy het ook sy staf gebruik, wat gewoonlik ’n lang stok met ’n haak aan die einde is, om die skape te lei of van gevaar af weg te trek. Net so is Jehovah God soos ’n liefdevolle Herder wat sy aanbidders beskerm en lei. Selfs in die donkerste dae van hulle lewe sorg Jehovah vir hulle op verskillende maniere.

  •   Hy leer en vertroos hulle deur middel van sy Woord, die Bybel. – Romeine 15:4.

  •   Hy luister na hulle gebede en gee hulle innerlike vrede. – Filippense 4:6, 7.

  •   Hy gebruik mede-aanbidders om hulle aan te moedig. – Hebreërs 10:24, 25.

  •   Hy gee hulle die vaste hoop van ’n beter toekoms wanneer hy al die slegte dinge wat hulle op die oomblik deurgaan, sal wegneem. – Psalm 37:29; Openbaring 21:3-5.

Konteks van Psalm 23:4

 Psalm 23 is deur Dawid geskryf, wat ’n herder was toe hy jonk was en uiteindelik die koning van die nasie Israel geword het (1 Samuel 17:34, 35; 2 Samuel 7:8). Die psalm begin deur Jehovah as ’n Herder te beskryf wat sy aanbidders lei, voed en nuwe krag gee, net soos ’n letterlike herder met sy skape sou doen. – Psalm 23:1-3.

 In Psalm 23:4, wanneer Dawid God se beskerming beklemtoon, verwys hy nie meer na God in die derde persoon (hy) nie, maar hy slaan eerder oor na die tweede persoon (u). Hierdie klein verandering beklemtoon die intieme verhouding wat Dawid met Jehovah gehad het. Dawid het geweet dat God vir hom omgee en dat hy bewus was van sy probleme. Daarom was Dawid nie bang vir enige gevaar nie.

 In die volgende twee verse van Psalm 23, vers 5 en 6, verander die illustrasie van ’n herder en sy skape na ’n gasheer en sy gas. Soos ’n vrygewige gasheer, behandel Jehovah Dawid soos ’n eregas. Selfs Dawid se vyande kon nie keer dat hy God se sorg geniet nie. Aan die einde van die psalm sê Dawid met vertroue dat God goedheid en liefde aan hom vir die res van sy lewe sal bewys.

 Die woorde in Psalm 23 beskryf hoe God aanhou om liefdevol vir sy aanbidders te sorg. – 1 Petrus 2:25.

a Party Bybels sê dat dit Psalm 22 is. Hoewel daar altesaam 150 Psalms is, nommer party Bybels dit volgens die Hebreeuse Masoretiese teks terwyl ander die Griekse Septuagint, ’n vertaling van die Hebreeuse teks wat in die tweede eeu VHJ voltooi is, volg.

b God, wie se naam Jehovah is, word dikwels in die Bybel beskryf as ’n liefdevolle Herder. Sy aanbidders, wat as skape uitgebeeld word, is afhanklik van hom vir beskerming en ondersteuning. – Psalm 100:3; Jesaja 40:10, 11; Jeremia 31:10; Esegiël 34:11-16.