Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan die feit dat God vir jou omgee, jou help?

Hoe kan die feit dat God vir jou omgee, jou help?

God het ons liggame gemaak met die fantastiese vermoë om homself gesond te maak. Wanneer ’n gesonde liggaam gesny, geskraap of gesteek word, “begin daar ’n ingewikkelde proses wat ontwerp is om groot en klein wonde gesond te maak” (Johns Hopkins Medicine). Die liggaam spring onmiddellik aan die werk om die bloeding te stop, die bloedvate wyer te maak, die wond te herstel en die weefsel te versterk.

DINK HIERAAN: As die Skepper ons liggame ontwerp het sodat fisiese wonde gesond word, kan ons dan nie ook op sy belofte vertrou dat hy ons emosionele wonde gesond sal maak nie? Die psalmis het geskryf: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke” (Psalm 147:3). Maar sê nou iets gebeur met jou en dit veroorsaak dat jy emosionele pyn het. Hoe kan jy seker wees dat Jehovah jou pyn nou sal verlig en in die toekoms sal wegneem?

WAT DIE BYBEL ONS LEER OOR GOD SE LIEFDE

God belowe: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help” (Jesaja 41:10). Iemand wat weet dat Jehovah vir hom omgee, voel gerus en het die krag om deur verskillende probleme te kom. Die apostel Paulus noem hierdie innerlike kalmte “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”. Paulus het bygevoeg: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” — Filippense 4:4-7, 9, 13.

Die Bybel help ons om ons geloof te versterk in Jehovah se beloftes oor die mensdom se toekoms. Byvoorbeeld, Openbaring 21:4, 5 vertel ons wat hy sal doen en hoekom ons hom kan vertrou om dit te doen:

  • “Hy sal elke traan van [mense se] oë afvee.” Jehovah sal al ons swaarkry en alles wat ons bekommer, wegneem, selfs al lyk dit na iets kleins vir ander mense.

  • “Die Een wat op die troon sit” in sy hemelse glorie, is die Almagtige Koning van die hele skepping. Hy sal sy krag en gesag uitoefen om te keer dat ons swaarkry en om ons die hulp te gee wat ons nodig het.

  • Jehovah verseker ons dat sy beloftes “betroubaar en waaragtig” is. Dit beteken dat Jehovah se reputasie daarvan afhang dat hy sy beloftes nakom.

“‘Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’ En die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’” — Openbaring 21:4, 5.

Die fisiese heelal en die Bybel vertel ons van ons hemelse Vader se persoonlikheid en eienskappe. Alhoewel die skepping ons beweeg om God se vriend te word, nooi die Bybel ons direk uit: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Handelinge 17:27 sê: ‘Hy is eintlik nie ver van elkeen van ons af nie.’

As jy tyd maak om God te leer ken, sal jy al hoe meer daarvan oortuig word dat ‘hy vir jou sorg’ (1 Petrus 5:7). Hoe kan dit jou prakties help wanneer jy op hierdie manier op Jehovah vertrou?

Kom ons kyk na die voorbeeld van Toroe wat in Japan bly. Hy is grootgemaak deur sy ma wat ’n Christen is. Tog het hy betrokke geraak by die gewelddadige wêreld van die jakoeza, die Japannese Mafia. Hy sê: “Ek het geglo dat God my haat. Ek het gedink dat ek gestraf word wanneer iemand wat ek geken het, doodgaan, veral iemand wat na aan my was.” Toroe erken dat hy “’n wrede en gevoellose mens” geword het as gevolg van hierdie slegte omgewing en die manier waarop hy gedink het. Hy sê oor sy ambisie: “Ek wou jonk doodgaan nadat ek iemand meer beroemd as ek doodgemaak het. Op hierdie manier sou ek ’n naam vir myself maak.”

Maar toe Toroe en sy vrou, Hannah, die Bybel begin studeer het, het hy groot veranderinge gemaak in sy lewe en die manier waarop hy dinge beskou. Hannah sê: “Ek kon duidelik sien hoe my man besig was om te verander.” Toroe sê nou met sekerheid: “Daar is ’n God wat regtig vir elkeen van ons omgee. Hy wil nie hê dat enigiemand moet doodgaan nie, en hy is bereid om diegene wat regtig jammer oor hulle foute is, te vergewe. Hy luister na dinge wat ons vir niemand anders kan vertel nie en dinge wat niemand anders sou verstaan nie. Binnekort sal Jehovah al die probleme, swaarkry en pyn wegneem. Hy help ons selfs nou op maniere wat ons nie verwag nie. Hy is lief vir ons en help ons wanneer ons hartseer is.” — Psalm 136:23.

Ons leer ’n baie belangrike les uit Toroe se ondervinding. God kan en sal binnekort alle swaarkry en trane wegneem. Dit gee ons nie net ’n hoop vir die toekoms nie, maar dit help ons om nou al ’n beter lewe te hê. Die feit dat God vir jou omgee, kan jou help, selfs in ’n wêreld wat so vol swaarkry is.