Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Numeri 6:24-26 – “Die HERE sal jou seën en jou behoed”

Numeri 6:24-26 – “Die HERE sal jou seën en jou behoed”

 “Mag Jehovah julle seën en julle beskerm. Mag Jehovah julle sy goedkeuring gee, en mag hy goed wees vir julle. Mag Jehovah met goedkeuring na julle kyk en aan julle vrede gee.” – Numeri 6:24-26, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” – Numeri 6:24-26, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Numeri 6:24-26

 Hierdie woorde staan bekend as die priesterlike seën, wat na Aäron vernoem is wat Israel se eerste hoëpriester was (Eksodus 28:1). Hierdie seën het van God gekom (Numeri 6:22, 23). Hy het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns: ‘So moet julle die volk Israel seën.’” Daarna het God die woorde in Numeri 6:24-26 gesê. Getroue priesters was gehoorsaam aan daardie opdrag van God. Hulle het God se naam, Jehovah, a ook geëer. In vers 27 lees ons: “En hulle [die priesters] moet my naam oor die volk Israel uitroep, sodat ek hulle kan seën.”

 “Mag Jehovah julle seën en julle beskerm.” Jehovah seën sy aanbidders deur hulle te beskerm, hulle te lei en hulle suksesvol te maak (Spreuke 10:22). In Numeri 6:24-26 word die woord “julle” in Hebreeus elke keer in enkelvoud weergegee. Dit kan wys dat God nie net die nasie Israel as ’n geheel wou seën nie, maar ook elke Israeliet persoonlik.

 “Mag Jehovah julle sy goedkeuring gee, en mag hy goed wees vir julle.” Om God te vra dat “sy aangesig oor [iemand moet] skyn”, was ’n versoek dat God daardie persoon moet goedkeur. b Die woorde kan ook vertaal word as: “Mag die HERE vir jou glimlag” (Numeri 6:25, New International Reader’s Version). Jehovah wys dat hy sy volk goedkeur deur hulle met liefde, meegevoel en genade te behandel. – Jesaja 30:18.

 “Mag Jehovah c met goedkeuring na julle kyk en aan julle vrede gee.” Jehovah ‘verhef sy aangesig’ teenoor sy aanbidders deur hulle liefdevol te beskou en hulle vrede te gee. Volgens ’n naslaanwerk “verwys die Hebreeuse woord vir vrede (shalom) nie net na iemand wat nie konflik met ander het nie. Maar dit beteken dat hy goed en volkome voel, fisies sowel as in sy verhouding met God.”

 Om baat te vind by die seën wat in die verse genoem word, moes die Israeliete gehoorsaam wees aan Jehovah (Levitikus 26:3-6, 9). Wanneer hulle gehoorsaam was, het hy hulle gehelp net soos hy belowe het. Dit is wat gebeur het tydens die heerskappy van party van hulle konings, soos Salomo en Hiskia. – 1 Konings 4:20, 25; 2 Kronieke 31:9, 10.

 Alhoewel dit nie vereis word van Christene om hierdie seën op te sê nie, kan hulle soortgelyke gevoelens uitdruk wanneer hulle tot God bid oor ander of wanneer hulle mede-Christene aanmoedig (1 Tessalonisense 5:11, 25). Jehovah verander nie. Hy wil altyd sy getroue aanbidders seën en beskerm. Daarom kan ware Christene vrede geniet omdat hulle weet dat Jehovah se “aangesig” met goedkeuring oor hulle skyn.

Konteks van Numeri 6:24-26

 Die eerste tien hoofstukke van die boek Numeri bevat God se instruksies aan die Israeliete terwyl hulle naby die berg Sinai gekamp het op pad na die Beloofde Land. Gedurende die jaar wat hulle daar gekamp het, het Jehovah die volk as ’n nasie georganiseer en vir hulle die stel wette gegee wat bekend staan as die Wetsverbond.

 Jehovah het vir Moses gesê hoe Aäron en sy seuns – wat as priesters gekies is – die Israeliete moet seën (Numeri 6:22, 23). Daarna het Aäron en sy nakomelinge die woorde in Numeri 6:24-26 gebruik om die nasie te seën. Mettertyd het dit ’n tradisie geword vir ’n priester om die seën ná die laaste offerande van die dag by die tempel op te sê.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Numeri te kry.

a Jehovah is die algemene Afrikaanse weergawe van die persoonlike naam van God in Hebreeus. Om uit te vind waarom baie Bybelvertalings die titel Here in plaas van God se persoonlike naam gebruik, kyk na die artikel “Wie is Jehovah?

b In teenstelling hiermee sê die Bybel dat Jehovah sy gesig van die Israeliete af weggedraai het wanneer hy nie hulle dade goedgekeur het nie. – Jesaja 59:2; Miga 3:4.

c Volgens die NIV Study Bible is die herhaling van God se naam in hierdie verse “vir beklemtoning en om krag te gee aan die uitdrukking in [vers 27]”. Maar party beweer dat die feit dat God se naam drie keer in hierdie verse herhaal word, die idee ondersteun dat God ’n Drie-eenheid is. Dit is nie die geval nie. ’n Bybelkommentaar wat die Drie-eenheid ondersteun, erken dat die feit dat God se naam drie keer hier gebruik word “nie die priester wat hierdie seën gegee het of die mense wat dit gehoor het, aan hierdie idee sou laat dink het nie. Om God se naam drie keer te herhaal, het die seën vir hulle net pragtiger en vollediger gemaak” (The Pulpit Commentary, deel 2, bladsy 52). Vir meer inligting, sien die artikel “Is God ’n Drie-eenheid?