Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Lukas 2:14 – “Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”

Lukas 2:14 – “Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”

 “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en vrede op aarde onder mense wat sy goedkeuring geniet.” – Lukas 2:14, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” – Lukas 2:14, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Lukas 2:14

 Hierdie woorde van lof, wat die engele bekendgemaak het toe Jesus gebore is, wys dat diegene wat geloof in Jesus stel, God se goedkeuring kan kry en vrede kan geniet.

 “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo.” Met hierdie uitdrukking beklemtoon die engele dat God waardig is om alle eer te ontvang. Die uitdrukking vestig ook die aandag op die feit dat Jesus se geboorte en aardse bediening heerlikheid aan Jehovah a God sou bring. Byvoorbeeld, Jesus het altyd die eer aan God gegee wanneer hy ander geleer het, soos toe hy gesê het: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16-18). Toe Jesus wonderwerke verrig het, het die mense dikwels “God begin loof” (Lukas 5:18, 24-26; Johannes 5:19). Selfs Jesus se dood het God verheerlik. Dit het dit vir God moontlik gemaak om sy voorneme te laat waar word om die aarde met regverdige mense wat vrede liefhet, te vul. – Genesis 1:28.

 “Vrede op aarde.” Hierdie vrede beteken nie net dat daar nie oorlog is nie. Dit sluit die vrede, of innerlike kalmte, in wat net moontlik is wanneer ’n mens Jehovah se goedkeuring het. Danksy Jesus kan mense hierdie vreedsame verhouding met God hê (Jakobus 4:8). En as die Koning van God se Koninkryk sal Jesus volkome en blywende vrede op die hele aarde bring. – Psalm 37:11; Lukas 1:32, 33.

 “Mense wat sy goedkeuring geniet.” Hierdie uitdrukking verwys na mense wat God se goedkeuring het omdat hulle ware geloof in hom en in die een wat hy gestuur het, Jesus, betoon. Dit verwys nie na die welbehae wat God teenoor alle mense betoon ongeag wat hulle gesindhede of optrede is nie. En dit verwys ook nie na die goedkeuring van mense nie. Sommige Bybelvertalings, soos die King James Version, gee hierdie uitdrukking weer as “welwillendheid teenoor mense”. Maar ouer Griekse manuskripte wat betroubaarder is, ondersteun die Nuwe Wêreld-vertaling en baie ander moderne vertalings wat die gedagte oordra van vrede onder mense wat deur God goedgekeur word. – Sien “Lukas 2:14 in ander vertalings”.

Konteks van Lukas 2:14

 Lukas hoofstuk 2 beskryf die vroeë jare van Jesus se lewe as ’n mens. Kort ná sy geboorte het ’n engel aan herders verskyn “wat in die oop veld gebly het en hulle kuddes in die nag opgepas het” (Lukas 2:4-8). b Die engel het ‘goeie nuus aan hulle bekendgemaak van groot vreugde’ en vir die herders vertel: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid ’n redder gebore, wat Christus die Here is” (Lukas 2:9-11). Daar is vir die herders vertel waar hulle die pasgebore baba kon vind, en toe het hulle baie engele gesien wat God geloof het. Toe hulle in Betlehem aangekom het, het die herders vir Maria en Josef saam met die baba Jesus gekry (Lukas 2:12-16). Nadat die herders hulle ongelooflike ondervinding oorvertel het, het hulle na hulle kuddes teruggekeer, en “hulle het God geloof en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het”. – Lukas 2:17-20.

Lukas 2:14 in ander vertalings

 “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” – Lukas 2:14, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

 “Wat God nou gedoen het, bring vir Hom eer in die hoogste hemele en op aarde bring dit vrede vir die mense wat Hy liefhet.” – Lukas 2:14, Die Lewende Bybel.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Lukas te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?

b Die feit dat die herders die nag buite deurgebring het, wys dat hierdie gebeure nie in die winter plaasgevind het nie. Om meer uit te vind, lees die artikel “Wanneer is Jesus gebore?