Spring na inhoud

Wanneer is Jesus gebore?

Wanneer is Jesus gebore?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel meld nie presies op watter dag Jesus Christus gebore is nie, soos die volgende naslaanwerke toon:

  •   “Die werklike geboortedatum van Christus is onbekend.”—New Catholic Encyclopedia.

  •   “Die presiese datum waarop Christus gebore is, is nie bekend nie.”—Encyclopedia of Early Christianity.

 Hoewel die Bybel nie die vraag: “Wanneer is Jesus gebore”, regstreeks beantwoord nie, beskryf dit wel twee gebeure gedurende die tyd van sy geboorte wat baie tot die slotsom laat kom dat hy nie op 25 Desember gebore is nie.

Nie in die winter nie

  1.   Die registrasie. Kort voordat Jesus gebore is, het keiser Augustus ’n verordening uitgevaardig dat “die hele bewoonde aarde geregistreer moet word”. Elkeen moes in “sy eie stad” geregistreer word, wat beteken het dat party ’n reis van ’n week of langer moes onderneem (Lukas 2:1-3). Hierdie bevel—wat waarskynlik uitgevaardig is om belastingheffing en diensplig te vergemaklik—sou enige tyd van die jaar ongewild gewees het, maar dit is onwaarskynlik dat Augustus sy onderdane nog verder sou wou ontstel deur baie van hulle te dwing om ’n lang reis gedurende die koue winter te onderneem.

  2.   Die skape. Herders het “in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou” (Lukas 2:8). Die boek Daily Life in the Time of Jesus sê dat kuddes vanaf “die week voor die Pasga [laat Maart]” tot die middel van November buite gebly het. Dit voeg dan by: “Hulle het die winter onder dak deurgebring; en dit op sigself toon dat die tradisionele datum vir Kersfees, in die winter, waarskynlik nie korrek is nie, aangesien die Evangelie sê dat die herders in die veld was.”

In die vroeë herfs

 Ons kan min of meer bereken wanneer Jesus gebore is deur terug te tel van sy dood op die Pasga, 14 Nisan, in die noordelike lente van die jaar 33 HJ (Johannes 19:14-16). Jesus was omtrent 30 jaar oud toe hy met sy bediening van drie en ’n half jaar begin het; hy is dus in die vroeë noordelike herfs van 2 VHJ gebore.—Lukas 3:23.

Waarom word Kersfees op 25 Desember gevier?

 As daar geen bewyse is dat Jesus Christus op 25 Desember gebore is nie, waarom word Kersfees dan op hierdie dag gevier? Die Encyclopædia Britannica sê dat kerkleiers dit waarskynlik gekies het sodat dit sou “saamval met die heidense Romeinse fees ter viering van die ‘geboortedag van die onoorwonne son’”, tydens die wintersonstilstand. Volgens The Encyclopedia Americana glo baie geleerdes dat dit gedoen is “om die Christelike godsdiens vir heidense bekeerlinge betekenisvoller te maak”.