Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Hebreërs 4:12 – “Die woord van God lewe en is aktief”

Hebreërs 4:12 – “Die woord van God lewe en is aktief”

 “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring diep in ’n mens in en skei siel en gees, en dit skei die gewrigte van die murg, en dit kan gedagtes en bedoelings van die hart openbaar.” – Hebreërs 4:12, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Want die woord van God lewe en is aktief, is skerper as enige tweesnydende swaard, dring deur tot die skeiding van siel en gees, van gewrigte en van murg, en onderskei die gedagtes en bedoelings van die hart.” – Hebreërs 4:12, English Standard Version.

Betekenis van Hebreërs 4:12

 God se boodskap aan die mens, soos in die Bybel opgeteken, het die krag om ons ware gedagtes en beweegredes te openbaar. Daardie boodskap kan mense ook ten goede verander.

 “Die woord van God is lewend.” Die uitdrukking “die woord van God” verwys na God se beloftes, of sy voorneme, soos opgeteken in die Bybel. a ’n Belangrike deel van hierdie voorneme is dat gehoorsame mense vir ewig op aarde in ware vrede en eenheid gaan lewe. – Genesis 1:28; Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

 Hoe is God se woord, of sy voorneme, “lewend”? Om maar een ding te noem, dit het ’n kragtige uitwerking op die hart van diegene wat dit aanvaar, en dit gee hulle hoop en ’n doel in die lewe (Deuteronomium 30:14; 32:47). God se beloftes is ook “lewend” omdat die lewende God daaraan werk om sy beloftes heeltemal te vervul (Johannes 5:17). God is nie soos mense wat ’n belofte maak en dan daarvan vergeet nie of agterkom dat hy dit nie kan nakom nie (Numeri 23:19). Sy woord “sal nie sonder resultate na [hom] toe terugkeer nie”. – Jesaja 55:10, 11.

 “Die woord van God is . . . kragtig.” Die woord “kragtig” kan ook verwys na “het krag”, “is aktief” of “sal bereik wat ook al [daardie woord] bedoel is om te bereik”. Daarom sal enige iets wat Jehovah b God sê of belowe, beslis gebeur (Psalm 135:6; Jesaja 46:10). Eintlik kan God sy beloftes op maniere vervul wat baie beter is as wat ons ons ooit kan indink. – Efesiërs 3:20. c

 God se woord is ook “kragtig” omdat dit diegene wat dit waardeer, help om positiewe veranderinge in hulle lewe en persoonlikheid te maak. God se leringe word deel van hulle, dit wil sê dit beïnvloed hulle denke, hulle leefwyse en hulle doelwitte (Romeine 12:2; Efesiërs 4:24). In daardie sin is ‘die woord van God ook aan die werk’ in diegene wat aanvaar dat dit van God af kom. – 1 Tessalonisense 2:13.

 “Die woord van God is . . . skerper as enige tweesnydende swaard.” Op ’n figuurlike manier is God se woord skerper as enige mensgemaakte swaard as gevolg van die krag wat dit uitoefen. God se boodskap kan die hart – die innerlike mens – raak op maniere wat geen mens se leringe kan nie. Dit word gesien in wat Hebreërs 4:12 volgende sê.

 “Die woord van God . . . dring diep in ’n mens in en skei siel en gees, en dit skei die gewrigte van die murg.” In die Bybel kan “siel” verwys na hoe ’n persoon voorkom, maar die “gees” kan verwys na wie die persoon werklik aan die binnekant is (Galasiërs 6:18). In ’n figuurlike sin dring “die woord van God” regdeur tot “die murg”, ons diepste gevoelens en gedagtes. Deur te openbaar wie ons werklik aan die binnekant is, waar geen mens kan sien nie, beweeg Jehovah se leringe ons om positiewe veranderinge te maak. Dit maak ons en ons Skepper baie bly.

 “Die woord van God . . . kan gedagtes en bedoelings van die hart openbaar.” Die manier waarop ’n persoon op God se woord reageer, kan sy ware gedagtes, selfs sy bedoelings of beweegredes, openbaar. Dit kan sy gedrag of optrede beïnvloed. Byvoorbeeld, wanneer ’n persoon positief op God se woord reageer deur die nodige veranderinge in sy lewe te maak, wys hy dat hy nederig en opreg is. Hy wil sy Skepper gelukkig maak. Maar aan die ander kant as hy probeer om fout te vind met God se woord, wys hy dalk dat hy negatiewe eienskappe het, soos ongepaste trots of selfsug. Dalk probeer hy verskonings maak omdat hy iets doen wat God nie goedkeur nie. – Jeremia 17:9; Romeine 1:24-27.

 Soos een naslaanwerk sê, kan die woord van God “die diepste dele van ons wese raak”. Daar is geen deel van die innerlike mens wat God nie kan sien nie en wat sy woord nie kan openbaar nie. Hebreërs 4:13 sê: “Alles is oop en bloot voor die oë van die Een aan wie ons ’n antwoord moet gee.”

Konteks van Hebreërs 4:12

 Die Bybelboek Hebreërs is in omtrent 61 HJ deur die apostel Paulus geskryf. Dit is ’n brief wat deur God geïnspireer is en geskryf is aan die Jode in Jerusalem en Judea.

 In hoofstuk 3 en 4 beklemtoon Paulus hoe die voorbeeld van die eertydse Israeliete ’n waarskuwing vir Christene is (Hebreërs 3:8-12; 4:11). Jehovah het belowe om die Israeliete uit slawerny te verlos en hulle ’n land te gee waar hulle “in veiligheid [kon] woon” (Deuteronomium 12:9, 10). Maar die geslag Israeliete wat Egipte verlaat het, het oor en oor gewys dat hulle ’n gebrek aan geloof in God se beloftes het en was herhaaldelik ongehoorsaam aan sy wette. As gevolg hiervan het hulle nie ‘in God se rus ingegaan’ en ’n vreedsame verhouding met God geniet nie. Hulle het eerder in die woestyn gesterf. Al het hulle nageslag die Beloofde Land beërf, het hulle ook begin om ongehoorsaam aan Jehovah te wees. Dit het later veroorsaak dat die nasie baie swaargekry het. – Nehemia 9:29, 30; Psalm 95:9-11; Lukas 13:34, 35.

 Paulus verduidelik dat Christene moet leer uit die slegte voorbeeld van die ontroue Israeliete. Anders as hulle, kan ons in God se rus ingaan deur gehoorsaam te wees aan sy woord en sterk geloof te hê in sy beloftes. – Hebreërs 4:1-3, 11.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Hebreërs te kry.

a In Hebreërs 4:12 verwys die uitdrukking “die woord van God” nie net na die Bybel nie. Maar aangesien God sy beloftes in die Bybel laat opteken het, kan dit op Hebreërs 4:12 van toepassing wees.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?