Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

1 Korintiërs 10:13 – “God is getrou”

1 Korintiërs 10:13 – “God is getrou”

 “Die versoekings wat julle deurmaak, is iets wat ander mense ook deurmaak. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle ’n versoeking deurmaak wat julle nie kan hanteer nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.” – 1 Korintiërs 10:13, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” – 1 Korintiërs 10:13, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van 1 Korintiërs 10:13

 Hierdie vers beklemtoon iets oor God wat ons nader aan hom bring, sy getrouheid. God se lojale aanbidders kan seker wees dat hy hulle sal help, veral wanneer hulle deur moeilike tye of versoekings gaan.

 “Die versoekings wat julle deurmaak, is iets wat ander mense ook deurmaak.” God se aanbidders kan in die versoeking kom om iets te doen wat hom ongelukkig maak. Sulke toetse, al is dit moeilik, is iets wat baie mense deurmaak. a Daarom kan God se aanbidders seker wees dat hulle sulke dinge ook kan hanteer.

 “God is getrou.” Jehovah b God is betroubaar. Hy het nog altyd sy belofte gehou dat hy nooit diegene wat lief is vir hom en lojaal en gehoorsaam aan hom bly, sal verlaat nie (Deuteronomium 7:9; Psalm 9:10; 37:28). Daarom kan dié wat hom aanbid, vertrou dat hy ook sal bly by die twee aanmoedigende beloftes wat later in die vers voorkom.

 “Hy sal nie toelaat dat julle ’n versoeking deurmaak wat julle nie kan hanteer nie.” God wys dat hy getrou is deur nie toe te laat dat moeilike tye so erg word dat dit onmoontlik is vir iemand om dit te verduur nie. Hy ken die beperkings van al sy aanbidders. – Psalm 94:14.

 “Saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.” God kan moeilike tye laat ophou of vir sy aanbidders gee wat hulle nodig het om dit te verduur. Byvoorbeeld, hy kan leiding deur middel van heilige gees, vertroosting uit die Bybel of praktiese hulp deur middel van mede-aanbidders gee. – Johannes 14:26; 2 Korintiërs 1:3, 4; Kolossense 4:11.

Konteks van 1 Korintiërs 10:13

 Hierdie vers is deel van ’n brief wat die apostel Paulus aan die Christengemeente in Korinte geskryf het. In hierdie deel van sy brief gebruik Paulus die geskiedenis van eertydse Israel as ’n waarskuwende voorbeeld vir die Korintiërs (1 Korintiërs 10:11). Paulus noem ’n hele paar toetse en versoekings waardeur die Israeliete gegaan het, insluitende afgodediens en seksuele onsedelikheid (1 Korintiërs 10:6-10). Party van hulle het nie hierdie versoekings weerstaan nie. As gevolg van hulle voorbeeld het Paulus Christene herinner dat hulle nie oorgerus moet word en dink dat hulle nooit sal ingee vir versoeking nie (1 Korintiërs 10:12). Tog verseker hy hulle met die woorde in 1 Korintiërs 10:13. God se lojale aanbidders kan getrou bly gedurende moeilike tye.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek 1 Korintiërs te kry.

a Die Griekse woord vir “versoeking” kan na ’n toets of moeilike tye verwys.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?