Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan ons werklik God se hart bly maak?

Kan ons werklik God se hart bly maak?

Het jy al ooit gelees van mense wat in die Bybel geprys word en vir jouself gesê: ‘Ek kan nie soos hulle wees nie!’ Jy dink dalk: ‘Ek is nie onberispelik of regverdig nie, en ek doen beslis nie altyd die regte ding nie.’

Job was “onberispelik en regskape”.—Job 1:1

Die aartsvader Job word beskryf as “onberispelik en regskape” (Job 1:1). Lot is ’n “regverdige man” genoem (2 Petrus 2:8). En volgens die Bybel het Dawid gedoen “wat reg was” in God se oë (1 Konings 14:8). Maar kom ons ondersoek die lewens van hierdie Bybelkarakters van naderby. Ons sal sien dat (1) hulle foute gemaak het, (2) ons baie uit hulle voorbeeld kan leer en (3) onvolmaakte mense werklik God se hart kan bly maak.

HULLE HET FOUTE GEMAAK

“[God het] die regverdige Lot verlos . . . , wat baie ontsteld was oor die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag.”—2 Petrus 2:7

Job het ’n hele paar persoonlike ontberinge deurgemaak wat vir hom onregverdig gelyk het. Hy het verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat God nie omgee of hy aan Hom getrou bly of nie (Job 9:20-22). Job was so oortuig van sy eie regverdigheid dat dit vir ander geklink het asof hy homself regverdiger as God ag.—Job 32:1, 2; 35:1, 2.

Lot het gehuiwer om ’n besluit te neem wat eenvoudig moes gewees het. Hy was baie ontsteld oor die growwe onsedelikheid van die mense wat in Sodom en Gomorra gewoon het en het selfs “sy regverdige siel gepynig” oor hulle gedrag (2 Petrus 2:8). God het gesê dat hy van plan was om daardie goddelose stede te vernietig en het Lot die geleentheid gegee om saam met sy gesin gered te word. Jy sou dink dat Lot, wat ontsteld was, die eerste sou wees om te vlug. Maar op hierdie kritieke oomblik het hy getalm. Die engele wat gestuur is om hom en sy gesin te red, moes hulle hande gryp en hulle uit die stad na veiligheid lei.—Genesis 19:15, 16.

Dawid het “[God] met sy hele hart gevolg . . . deur net te doen wat reg was in [God se] oë”.—1 Konings 14:8

Dawid het eenkeer ’n gebrek aan selfbeheersing getoon en egbreuk met ’n ander man se vrou gepleeg. Boonop het Dawid, in ’n poging om dit weg te steek, haar man laat doodmaak! (2 Samuel, hoofstuk 11). Die Bybel sê: “Wat Dawid gedoen het, was sleg in die oë van Jehovah.”—2 Samuel 11:27.

Job, Lot en Dawid het almal foute gemaak, en party van hulle foute was baie ernstig. Maar soos ons sal sien, het hulle opreg begeer om God gehoorsaam te dien. Hulle was bereid om te toon dat hulle jammer is en om hulle weë te verander waar dit nodig was. Hulle het dus guns in God se oë gevind, en oor die algemeen verwys die Bybel na hulle as getroue manne.

WAT KAN ONS LEER?

As onvolmaakte mense sal ons beslis foute maak (Romeine 3:23). Maar wanneer ons foute maak, moet ons toon dat ons jammer is en dan doen wat ons kan om sake reg te stel.

Hoe het Job, Lot en Dawid hulle foute probeer regstel? In werklikheid was Job ’n man van onkreukbaarheid. Nadat God met hom geredeneer het, het Job sy verkeerde denke reggestel en sy woorde teruggeneem (Job 42:6). Lot se beskouing van die onsedelike gedrag van die mense in Sodom en Gomorra was ten volle in lyn met God se standaarde. Die probleem was dat hy op daardie stadium nie ’n gevoel van dringendheid gehad het nie. Hy het uiteindelik uit die veroordeelde stad gevlug en God se oordeel vrygespring. Uit gehoorsaamheid het hy nie eens teruggekyk na wat hy agtergelaat het nie. Hoewel Dawid ’n ernstige fout gemaak het toe hy God se wet verbreek het, het hy getoon wat werklik in sy hart was toe hy opreg berou gehad het en God om genade gesmeek het.—Psalm 51.

God se gunstige beskouing van daardie manne stem ooreen met die redelike standaarde wat hy vir onvolmaakte mense stel. God “weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Wat verwag God dan van ons, aangesien hy weet dat ons beslis foute sal maak?

God “weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:14

HOE KAN ONVOLMAAKTE MENSE WERKLIK GOD SE HART BLY MAAK?

Die raad wat Dawid aan sy seun Salomo gegee het, toon hoe ons God se hart kan bly maak. “Jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien hom met ’n volkome hart” (1 Kronieke 28:9). Wat is ’n volkome hart? Dit is ’n hart wat lief is vir God en vasbeslote is om sy wil en vereistes te leer ken en in ooreenstemming daarmee op te tree. Dit is nie ’n volmaakte hart nie, maar ’n hart wat God graag gehoorsaam wil dien en bereid is om teregwysing te aanvaar. Waarom het God Job as “onberispelik” beskou, Lot ’n “regverdige man” genoem en gesê dat Dawid ‘net gedoen het wat reg was’ in Sy oë? Omdat hulle God liefgehad het en aan hom gehoorsaam wou wees. Hoewel hulle foute gemaak het, kon hulle God se hart bly maak.

’n Volkome hart is vasbeslote om God se wil te leer ken en dit te doen en het ’n sterk begeerte om hom gehoorsaam te dien

As ons dus slegte gedagtes het wat ons wens nooit in ons verstand opgekom het nie of iets sê waaroor ons spyt voel of dinge doen wat ons later besef, verkeerd was, kan die voorbeelde wat ons so pas bespreek het, ons moed gee. God weet dat ons nie nou volmaak kan wees nie. Maar hy verwag wel dat ons hom moet liefhê en hard moet probeer om gehoorsaam te wees. As ons hart volkome is wat dit betref, kan ons die vertroue hê dat ons ook God se hart kan bly maak.