Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SLEUTELS TOT GESINSGELUK

As jy ’n gestremde kind het

As jy ’n gestremde kind het

CARLO: * “Ons seun, Angelo, het Downsindroom. Sy siekte eis ’n groot tol van ons—fisies, verstandelik en emosioneel. Dink hoeveel energie dit vereis om na ’n gesonde kind te kyk, en maal dit dan met honderd. Soms ly ons huwelik daaronder.”

MIA: “Dit verg volharding en ongelooflik baie geduld om Angelo die eenvoudigste dinge te leer. Wanneer ek baie moeg is, raak ek gewoonlik geïrriteerd en ongeduldig met my man, Carlo. Soms verskil ons oor iets, en dan loop dit uit op ’n rusie.”

Kan jy die dag onthou toe jou kind gebore is? Jy kon seker nie wag om die baba vas te hou nie. Wanneer ouers soos Carlo en Mia hoor dat hulle kind siek of gestremd is, word die vreugde egter oorskadu deur bekommernis.

Het jy ’n gestremde kind? Dan wonder jy miskien of jy opgewasse is teen die situasie. Indien wel, moet jy nie moed verloor nie. Ouers soos jy het soortgelyke probleme al suksesvol die hoof gebied. Beskou drie algemene uitdagings waarvoor jy moontlik te staan sal kom en hoe die wysheid in die Bybel jou kan help.

UITDAGING 1: JY VIND DIT MOEILIK OM DIE DIAGNOSE TE AANVAAR.

Baie ouers voel verpletterd wanneer hulle hoor dat hulle kind siek is. “Toe die dokters vir my gesê het dat ons seun, Santiago, serebrale verlamming het, kon ek dit nie glo nie”, sê Juliana, ’n ma in Mexiko. “Dit het gevoel asof my wêreld in duie stort.” Ander voel dalk soos ’n Italiaanse ma met die naam Villana. “Ek het besluit om ’n baba te hê al behels dit risiko’s vir vroue van my ouderdom”, sê sy. “Wanneer my seun nou sukkel met probleme weens Downsindroom, voel ek skuldig.”

As jy radeloos of skuldig voel, moet jy besef dat dit normaal is om met sulke gevoelens te worstel. Siekte was nooit deel van God se oorspronklike voorneme nie (Genesis 1:27, 28). Hy het ouers nie geskep met die vermoë om onnatuurlike dinge maklik te aanvaar nie. In sekere sin sal jy moontlik moet “treur” oor wat verlore is—die gesondheid van jou kind. Dit sal tyd neem om jou emosies te verwerk en jou by jou nuwe situasie aan te pas.

Sê nou jy voel verantwoordelik vir jou kind se toestand? Onthou dat niemand weet presies watter uitwerking erflikheid, omgewing en ander faktore op ’n kind se gesondheid het nie. Aan die ander kant kom jy dalk in die versoeking om jou huweliksmaat die skuld te gee. Weerstaan hierdie versoeking. Dit sal beter wees as jy met jou huweliksmaat saamwerk en daarop konsentreer om julle kind te versorg.—Prediker 4:9, 10.

WENK: Leer meer oor jou kind se toestand. “Dit verg wysheid om ’n goeie gesin op te bou”, sê die Bybel, “en dit verg insig om dit sterk te maak.”—Spreuke 24:3, New Century Version.

Jy kan baie by mediese deskundiges en uit betroubare publikasies leer. Die proses om meer van jou kind se toestand te leer, is in sekere opsigte soos om ’n nuwe taal te leer. Aan die begin sal dit moeilik wees, maar jy kán dit leer.

Carlo en Mia, wat aan die begin aangehaal word, het hulle dokter en ’n organisasie wat spesialiseer in hulle seun se toestand, gevra vir inligting. “Dit het ons gehelp om nie net te verstaan watter probleme ons kon verwag nie, maar ook wat die ‘positiewe’ aspekte van Downsindroom is”, sê hulle. “Ons het geleer dat ons seun in baie opsigte ’n normale lewe sou kon lei. Dit was vir ons ’n groot vertroosting.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Konsentreer op wat jou kind wel kan doen. Beplan om dinge saam as ’n gesin te doen. Wanneer jou kind selfs net ’n klein “oorwinning” behaal, moet jy gou wees om jou kind te prys en in sy of haar vreugde te deel.

UITDAGING 2: JY VOEL UITGEPUT EN EMOSIONEEL AFGESONDER.

Jy voel moontlik dat die versorging van jou siek kind al jou energie in beslag neem. Jenney, ’n ma in Nieu-Seeland, sê: “Nadat daar vasgestel is dat my seun ’n gesplete ruggraat [spina bifida] het, het ek ’n paar jaar lank dikwels uitgeput en huilerig gevoel as ek enige ekstra huishoudelike take probeer doen het.”

Nog ’n uitdaging is moontlik dat jy afgesonder voel. Ben het ’n seun wat aan spierdistrofie en Aspergersindroom ly. Ben sê: “Die meeste mense sal nooit werklik verstaan hoe dit is om in ons situasie te wees nie.” Jy wil dalk graag met iemand praat. Maar die meeste van jou vriende het gesonde kinders. Jy huiwer dus om hulle in jou vertroue te neem.

WENK: Vra hulp. En aanvaar dit wanneer dit aangebied word. Juliana, wat vroeër aangehaal word, erken: “Soms voel ek en my man te verleë om hulp te vra.” Sy voeg egter by: “Ons het geleer dat ons nie op ons eie die mas kan opkom nie. Wanneer ander ons help, voel ons nie so alleen nie.” As ’n hegte vriend of familielid aanbied om by jou kind te sit gedurende ’n sosiale geleentheid of ’n Christelike vergadering, aanvaar die aanbod dankbaar. “’n Ware metgesel het te alle tye lief”, sê ’n Bybelspreuk, “en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.

Sien om na jou gesondheid. Net soos ’n ambulans gereeld met brandstof gevul moet word sodat dit kan aanhou om pasiënte na die hospitaal te neem, moet jy jou energievlakke weer aanvul deur middel van ’n gesonde dieet, oefening en rus sodat jy kan aanhou om jou kind die sorg te gee wat hy of sy verdien. Javier, wie se seun kreupel is, stel dit soos volg: “My seun kan nie loop nie, en daarom voel ek dat ek gesond moet probeer eet. Ek is immers die een wat hom oral rondstoot of ronddra. My voete is sy voete!”

Hoe kan jy tyd maak om na jou gesondheid om te sien? Party ouers maak beurte om na hulle kind te kyk. Dan kan een ouer rus of na ander persoonlike behoeftes omsien. Jy sal tyd moet uitkoop van minder belangrike bedrywighede, en dit kan moeilik wees om ’n balans te handhaaf. Maar Mayuri, ’n ma in Indië, sê: “Uiteindelik kom jy wel in ’n roetine.”

Praat met ’n betroubare vriend. Selfs vriende wat nie siek kinders het nie, kan empatieke luisteraars wees. Jy kan ook tot Jehovah God bid. Sal gebed werklik help? Yazmin het twee kinders met sistiese fibrose, en sy sê: “Daar was al tye dat die druk so erg was dat dit gevoel het asof ek versmoor.” Maar sy voeg by: “Ek bid tot Jehovah vir verligting en krag. Dan voel ek dat ek weer kan aangaan.”—Psalm 145:18.

PROBEER DIE VOLGENDE: Let op wat jy eet en hoeveel oefening en slaap jy kry. Kyk hoe jy tyd kan uitkoop van minder belangrike take sodat jy na jou gesondheid kan omsien. Hou aan om die nodige aanpassings in jou rooster te maak.

UITDAGING 3: JY GEE JOU SIEK KIND MEER AANDAG AS WAT JY DIE RES VAN DIE GESIN GEE.

’n Kind se siekte kan bepaal wat die gesin eet, waarheen die gesin gaan en hoeveel tyd ouers saam met elke kind deurbring. Gevolglik kan die ander kinders voel dat hulle afgeskeep word. Wat meer is, ouers kan so besig raak met die versorging van hulle siek kind dat hulle huwelik daaronder ly. “Soms sê my vrou dat sy die grootste deel van die las dra en dat ek glad nie vir ons seun omgee nie”, sê Lionel, ’n pa in Liberië. “Ek voel dat sy my verkleineer, en soms reageer ek op ’n ongevoelige manier.”

WENK: Om al jou kinders te verseker dat jy in hulle belangstel, kan jy aktiwiteite beplan wat hulle geniet. “Soms doen ons iets spesiaals vir ons oudste seun”, sê Jenney, wat vroeër aangehaal word, “al eet ons net middagete by sy gunstelingrestaurant.”

Toon belangstelling in al jou kinders

Om jou huwelik te beskerm, moet jy met jou maat praat en moet julle saam bid. Aseem, ’n pa in Indië wie se seun epileptiese aanvalle kry, sê: “Al voel ek en my vrou soms uitgeput en gefrustreerd, maak ons ’n punt daarvan om te sit, met mekaar te gesels en saam te bid. Elke oggend, voordat ons kinders wakker word, neem ons die tyd om oor ’n vers uit die Bybel te praat.” Ander egpare praat met mekaar voor slapenstyd, wanneer hulle alleen is. Julle intieme gesprekke en hartgrondige gebede sal julle huwelik versterk gedurende uiters stresvolle tye (Spreuke 15:22). Een egpaar stel dit so: “Gedurende die moeilikste tye het ons van die mooiste oomblikke in ons lewe as egpaar ondervind.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Prys jou ander kinders vir enige ondersteuning wat hulle aan jou siek kind verleen. Sê gereeld vir hulle en jou huweliksmaat dat jy hulle liefhet en waardeer.

BLY OPTIMISTIES

Die Bybel belowe dat God binnekort alle siektes en gebreke wat jonk sowel as oud teister, uit die weg sal ruim (Openbaring 21:3, 4). Dan sal “geen inwoner . . . sê: ‘Ek is siek’ nie”. *Jesaja 33:24.

Intussen kan jy suksesvol wees as die ouer van ’n gestremde kind. “Moenie moed opgee wanneer dit lyk asof alles skeefloop nie”, sê Carlo en Mia, wat vroeër aangehaal word. “Konsentreer op die dinge wat jou kind wonderlik maak—en daar is baie.”

^ par. 3 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 29 Jy kan meer lees oor die Bybel se belofte van volmaakte gesondheid in hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

VRA JOU AF . . .

  • Wat doen ek om te sorg dat ek fisies, emosioneel en geestelik so gesond as moontlik bly?

  • Wanneer laas het ek my ander kinders geprys vir die hulp wat hulle verleen?