Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  Sleutels tot gesinsgeluk

Wanneer ’n huweliksmaat spesiale behoeftes het

Wanneer ’n huweliksmaat spesiale behoeftes het

Sedert ek met chroniesemoegheidsindroom gediagnoseer is, moet my man alleen sekulêre werk doen. Maar hy praat nooit met my oor ons rekeninge nie. Waarom hou hy my so in die duister? Ons geldsake moet in so ’n benarde toestand wees dat hy weet ek sal paniekbevange raak as ek uitvind.—Nancy. *

DIE huwelik kan ’n uitdaging wees, maar wanneer een huweliksmaat chronies siek word terwyl die ander een gesond bly, kan dit baie komplikasies meebring. * Sorg jy vir ’n siek maat? Indien wel, kwel enige van die volgende vrae jou dalk: ‘Hoe sal ek die mas opkom as my maat se gesondheid nog verder versleg? Hoe lank kan ek voortgaan om vir my maat te sorg en terselfdertyd al die kook-, skoonmaak- en sekulêre werk te doen? Waarom voel ek skuldig dat ek gesond is?’

As jy daarenteen die siek eggenoot is, wonder jy dalk: ‘Hoe kan ek my selfrespek behou as ek nie my vrag van verantwoordelikheid kan dra nie? Verwyt my maat my omdat ek siek is? Is ons geluk as ’n egpaar iets van die verlede?’

Ongelukkig het party huwelike nie die druk wat deur ’n chroniese siekte veroorsaak word, deurstaan nie. Maar dit beteken nie dat julle huwelik tot mislukking gedoem is nie.

Baie egpare bly bymekaar en floreer selfs ten spyte van ’n chroniese siekte. Beskou die voorbeeld van Josjiaki en Kazoeko. Weens ’n ruggraatbesering kan Josjiaki glad nie sonder hulp beweeg nie. Kazoeko verduidelik: “My man het hulp nodig met alles. Omdat ek hom moet versorg, is my nek, skouers en arms gedurig seer en is ek ’n buitepasiënt by ’n ortopediese hospitaal. Ek voel dikwels dat die versorging oorweldigend is.” Maar ondanks die probleme sê Kazoeko: “Ons band as ’n egpaar het sterker geword.”

Wat is dan onder sulke omstandighede die sleutel tot geluk? Om maar een ding te noem, diegene wat ’n gesonde mate van bevrediging en vergenoegdheid in hulle huwelik behou, beskou die siekte as ’n aanslag nie net op die siek maat nie, maar op hulle albei as ’n egpaar. As een maat siek is, het dit immers ’n groot uitwerking op albei, al is dit op verskillende  maniere. Hierdie verhouding van onderlinge afhanklikheid tussen ’n man en vrou word in Genesis 2:24 beskryf: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.” Wanneer ’n eggenoot aan ’n slepende siekte ly, is dit dus noodsaaklik dat beide man en vrou saam werk om die uitdaging die hoof te bied.

En volgens navorsing aanvaar egpare wat ondanks ’n chroniese siekte ’n goeie verhouding behou, hulle situasie en vind hulle doeltreffende maniere om hulle daarby aan te pas. Baie van die vaardighede wat hulle aangeleer het om die situasie die hoof te bied, stem ooreen met die tydlose raad in die Bybel. Kyk na die volgende drie wenke.

Wees bedagsaam teenoor mekaar

“Twee is beter as een”, sê Prediker 4:9. Waarom? Vers 10 verduidelik: “Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp.” ‘Help jy jou metgesel op’ met woorde van waardering?

Kan julle praktiese maniere soek om mekaar te help? ’n Man met die naam Jong, wie se vrou gedeeltelik verlam is, sê: “Ek probeer my vrou die heeltyd in ag te neem. Wanneer ek dors is, dink ek daaraan dat sy moontlik ook dors is. As ek buitentoe wil gaan om na die pragtige natuurskoon te kyk, vra ek haar of sy saam met my wil gaan. Ons deel die pyn en verduur die situasie saam.”

As jy daarenteen versorging van jou maat ontvang, kan jy jou afvra of daar sekere dinge is wat jy vir jouself kan doen sonder om jou gesondheid in gevaar te stel. As daar is, kan dit jou gevoel van eiewaarde versterk en dit miskien vir jou maat makliker maak om aan te hou om jou te versorg.

In plaas van aan te neem dat jy weet wat die beste manier is om bedagsaamheid teenoor jou maat te betoon, kan jy hom of haar gerus vra wat hy of sy die meeste sal waardeer. Nancy, wat aan die begin genoem is, het uiteindelik vir haar man gesê watter uitwerking dit op haar het as sy nie weet wat die gesin se finansiële situasie is nie. Nou probeer haar man om beter hieroor te kommunikeer.

PROBEER DIE VOLGENDE: Maak ’n lys van maniere waarop jy voel dat jou maat jou huidige situasie ’n bietjie makliker kan maak, en laat jou maat dieselfde doen. Gee dan vir mekaar julle lys. Elkeen van julle moet een of twee voorstelle kies wat redelikerwys toegepas kan word.

Volg ’n gebalanseerde rooster

“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”, het die wyse koning Salomo geskryf (Prediker 3:1). Maar dit lyk dalk onmoontlik om ’n gebalanseerde rooster te volg weens die ontwrigtende uitwerking wat ’n chroniese siekte op ’n gesin se rooster kan hê. Wat kan julle doen om ten minste ’n mate van balans te verkry?

Miskien kan julle elke nou en dan ernstige mediese sorge opsy skuif. Kan julle nog party van die dinge geniet wat julle voor die siekte saam gedoen het? Indien nie, watter nuwe bedrywighede kan julle probeer? Dit kan iets so eenvoudig wees soos om vir mekaar te lees of iets so uitdagend soos om ’n nuwe taal te leer. As julle dinge saam doen wat die siekte julle nog toelaat om te doen, sal dit julle band as “een vlees” versterk—en julle gelukkiger maak.

Kan julle ’n stokperdjie saam beoefen om balans in julle lewe te verkry?

Nog iets wat help om balans te handhaaf, is om met ander te assosieer. Die Bybel sê in Spreuke 18:1: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek.” Het jy in hierdie vers opgelet dat afsondering ’n ongewenste uitwerking op die verstand kan hê? In teenstelling hiermee kan dit jou opbeur en help om weer die regte perspektief te verkry as jy van tyd tot tyd met ander assosieer. Neem gerus die inisiatief en nooi iemand om vir julle te kom kuier.

Balans word soms ’n probleem vir diegene wat hulle maat versorg. Party probeer om te  veel te doen, raak stadigaan uitgeput en stel hulle eie gesondheid in gevaar. Uiteindelik kan hulle dalk nie eens meer vir hulle geliefde maat sorg nie. Moet dus nie jou persoonlike behoeftes ignoreer as jy vir ’n maat sorg wat chronies siek is nie. Sit gereeld ’n bietjie stil tyd opsy om jou te verkwik. * Vir party bring dit groot verligting mee om van tyd tot tyd met ’n vertroude vriend van dieselfde geslag oor hulle kwellinge te praat.

PROBEER DIE VOLGENDE: Maak ’n lys van die struikelblokke waarvoor jy te staan kom in die versorging van jou maat. Maak dan ’n lys van die stappe wat jy kan doen om dit te bowe te kom of om dit doeltreffender die hoof te bied. Moet dit nie te veel probeer ontleed nie; vra jou eerder af: ‘Wat is die eenvoudigste, mees voor die hand liggende manier om die situasie te verbeter?’

Probeer ’n positiewe uitkyk behou

Die Bybel waarsku: “Moenie sê: ‘Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie” (Prediker 7:10). Moet dus nie tob oor wat kon gewees het nie. Onthou dat alle geluk in hierdie wêreld op die een of ander manier beperk is. Die sleutel hier is om jou situasie te aanvaar en daarvan te maak wat jy kan.

Wat kan jou en jou maat in hierdie verband help? Praat oor julle seëninge. Wees bly oor selfs die geringste verbetering in jou gesondheid. Vind dinge om na uit te sien, en stel saam bereikbare doelwitte.

’n Egpaar, Sjodji en Akiko, het die bogenoemde raad met goeie resultate toegepas. ’n Ruk nadat Akiko met fibromialgie gediagnoseer is, moes hulle ’n spesiale toewysing in die voltydse Christelike bediening verlaat. Was hulle teleurgesteld? Natuurlik. Maar Sjodji gee hierdie raad aan enigiemand in soortgelyke omstandighede: “Moenie jou mismoedig maak deur te dink aan die dinge wat jy nie meer kan doen nie. Behou ’n positiewe uitkyk. Al hoop julle albei om eendag tot ’n normale roetine terug te keer, moet julle vir eers konsentreer op julle lewe soos dit is. In my geval beteken dit om my aandag op my vrou toe te spits en haar te help.” Hierdie praktiese raad kan jou ook help as jou maat spesiale behoeftes het.

^ par. 3 Van die name is verander.

^ par. 4 Hierdie artikel bespreek situasies waarin ’n eggenoot aan ’n slepende siekte ly. Maar egpare wat te kampe het met fisiese probleme weens ’n ongeluk of met emosionele probleme soos depressie, kan ook baat vind by die toepassing van die volgende materiaal.

^ par. 20 Na gelang van jou omstandighede sal dit moontlik raadsaam wees om dit te oorweeg om ten minste deeltydse hulp van professionele gesondheidswerkers of gemeenskapsinstansies te kry, indien dit beskikbaar is.

VRA JOU AF . . .

Wat is nóú vir my en my maat die belangrikste om te doen?

  • Om meer oor die siekte te praat

  • Om minder oor die siekte te praat

  • Om ons minder te bekommer

  • Om bedagsamer teenoor mekaar te wees

  • Om ’n gemeenskaplike belangstelling te hê wat niks met die siekte te doen het nie

  • Om meer met ander te assosieer

  • Om gemeenskaplike doelwitte te hê