Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP: MOET JY DIE EINDE VAN DIE WÊRELD VREES?

Die einde van die wêreld—Vreeswekkend, fassinerend en frustrerend

Die einde van die wêreld—Vreeswekkend, fassinerend en frustrerend

Hoe voel jy oor 21 Desember 2012, die datum op die Majakalender waarop daar volgens baie mense ’n wêreldwye verandering sou plaasgevind het? Afhangende van wat jy verwag het, voel jy dalk nou verlig of teleurgestel. Of dalk het jy eenvoudig belangstelling verloor. Was dit maar net nog ’n onakkurate voorspelling oor die einde van die wêreld?

Wat van “die einde van hierdie wêreld” wat in die Bybel beskryf word? (Matteus 24:3, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Party mense vrees dat die aarde verbrand sal word. Ander word gefassineer deur scenario’s oor die einde. En baie het eenvoudig moeg geword om te hoor dat die einde naby is. Maar is dit dalk reaksies op fiksie eerder as feite?

Jy sal moontlik verbaas wees om te sien wat die Bybel werklik oor die einde van die wêreld sê. Die Bybel gee ons nie net redes om uit te sien na die einde nie, maar dit erken ook dat dit frustrerend kan wees as dit lyk of die einde lankal moes gekom het. Ons nooi jou om te kyk na die Bybel se antwoorde op ’n paar algemene vrae oor die einde van die wêreld.

Sal die aarde verbrand word?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: “[God] het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie.”PSALM 104:5.

Die aarde sal nie vernietig word nie, nie deur vuur of deur enigiets anders nie. Die Bybel toon eerder dat hierdie planeet die mens se ewige tuiste is. Psalm 37:29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 115:16; Jesaja 45:18.

Nadat God die aarde geskep het, het hy gesê dat dit “baie goed” is, en hy voel nog steeds so (Genesis 1:31). Hy is beslis nie van voorneme om dit te vernietig nie, maar belowe eerder om “die verderwers van die aarde te verderf” en dit teen blywende skade te beskerm.—Openbaring 11:18.

Maar jy wonder miskien oor 2 Petrus 3:7. Hierdie Bybelvers sê: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê.” Toon dit nie dat die aarde verbrand sal word nie? Wel, die Bybel gebruik die woorde “hemele”, “aarde” en “vuur” soms figuurlik, oftewel as simbole. Byvoorbeeld, wanneer Genesis 11:1 sê: “Die hele aarde het steeds een taal . . . gehad”, gebruik dit “aarde” met verwysing na die mensegemeenskap.

Die konteks van 2 Petrus 3:7 toon dat die hemele, aarde en vuur wat in hierdie vers genoem word, ook simbole is. Verse 5 en 6 tref ’n vergelyking met die Vloed van Noag se dag. Dit het ’n eertydse wêreld vernietig, en tog het ons planeet nie verdwyn nie. Die Vloed het eerder ’n gewelddadige gemeenskap, of “aarde”, uitgewis. Dit het ook ’n soort “hemele”—die mense wat oor daardie aardse gemeenskap geheers het—vernietig (Genesis 6:11). Tweede Petrus 3:7 voorspel eweneens die permanente vernietiging, asof deur vuur, van die huidige goddelose mensegemeenskap en die korrupte regerings wat daaroor heers.

Wat sal gebeur wanneer die einde van die wêreld kom?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”1 JOHANNES 2:17.

“Die wêreld” wat sal verbygaan, is nie die aarde nie, maar die wêreld van mense wat nie in ooreenstemming met God se wil lewe nie. Net soos ’n snydokter ’n kankeragtige gewas moontlik sal verwyder om ’n pasiënt se lewe te red, sal God die goddeloses ‘uitroei’, of verwyder, sodat goeie mense die lewe op aarde waarlik kan geniet (Psalm 37:9). “Die einde van hierdie wêreld” is dus ’n goeie ding.

Hierdie positiewe beskouing van “die einde van hierdie wêreld” word gesteun deur Bybelvertalings wat die uitdrukking weergee as “die voleinding van die stelsel van dinge” of “die einde van die era” (Matteus 24:3; New International Version). Aangesien mense sowel as die aarde deur die einde heen behoue sal bly, is dit redelik om aan te neem dat ’n nuwe era, ’n nuwe stelsel van dinge, hierop sal volg, nie waar nie? Die Bybel bevestig dit, want dit praat van “die komende stelsel van dinge”.—Lukas 18:30.

Jesus het hierdie toekomstige tydperk “die hernuwing van alle dinge” genoem. In daardie tyd sal hy die mensdom herstel tot die toestand wat God oorspronklik vir hulle in gedagte gehad het (Matteus 19:28, NIV). Ons sal dan die volgende geniet:

As ons “die wil van God” doen, of doen wat hy van ons vra, hoef ons nie die einde van die wêreld te vrees nie. Ons sal eerder daarna kan uitsien.

Is die einde van die wêreld werklik naby?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, [moet julle] weet dat die koninkryk van God naby is.”LUKAS 21:31.

In die boek The Last Days Are Here Again skryf professor Richard Kyle dat “skielike verandering en maatskaplike chaos ’n atmosfeer skep wat bevorderlik is vir voorspellings oor die einde van die wêreld”. Dit is veral die geval wanneer die verandering en chaos blykbaar moeilik is om te verduidelik.

Die Bybelprofete wat van die einde gepraat het, het egter nie probeer verduidelik waarom onverklaarbare gebeure in hulle dag plaasvind nie. Hulle is eerder deur God geïnspireer om toestande te beskryf wat daarop sou dui dat die einde van die wêreld naby is. Kyk na party van hierdie profesieë en besluit self of dit in ons tyd vervul word.

Soos Jesus gesê het, is “al hierdie dinge” vir ons ’n teken dat die einde van die wêreld naby is (Matteus 24:33). Jehovah se Getuies glo dat die bewyse onweerlegbaar is, en hulle vertel ander van hulle oortuiging deur in 236 lande te preek.

Dui onvervulde verwagtinge daarop dat die einde nooit sal kom nie?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie.”1 TESSALONISENSE 5:3.

Die Bybel vergelyk die wêreld se vernietiging met die barenswee van ’n swanger vrou—die geboortepyne is onafwendbaar en kom skielik. Die tyd wat die einde voorafgaan, kan met die swangerskap self vergelyk word, want die verwagtende vrou is bewus van die toenemende tekens dat sy geboorte gaan gee. Haar dokter skat moontlik op watter datum die baba sal kom; maar al gebeur dit nie dán nie, is sy nog steeds seker dat haar baba binnekort gebore sal word. Net so verander onvervulde verwagtinge oor die einde nie die onmiskenbare tekens dat ons in “die laaste dae” lewe nie.—2 Timoteus 3:1.

‘As die teken dat die einde naby is, so duidelik is’, vra jy dalk, ‘waarom erken so baie mense dit nie?’ Die Bybel toon dat baie mense die bewyse as onbelangrik sal afmaak wanneer die einde naby is. Pleks van te erken dat groot veranderinge gedurende die laaste dae plaasvind, sal hulle spot en sê: “Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3, 4). Met ander woorde, die teken van die laaste dae is duidelik, maar baie sal dit ignoreer.—Matteus 24:38, 39.

Hierdie artikel het net ’n paar van die skriftuurlike bewyse ondersoek dat die einde naby is. * Sal jy graag meer wil leer? Indien wel, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in aanraking kom en hulle aanbod van ’n gratis Bybelstudie aanvaar. Studiesessies kan by jou huis, op ’n ander plek wat vir jou gerieflik is of selfs oor die telefoon gehou word. Al wat dit jou sal kos, is jou tyd, en dit sal vir jou voordele meebring wat van onskatbare waarde is.

^ par. 39 Vir meer inligting, sien hoofstuk 9, “Lewe ons in ‘die laaste dae’?,” van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.