Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat jy toe dat God elke dag met jou praat?

Laat jy toe dat God elke dag met jou praat?

HOE dikwels kyk jy na jouself in ’n spieël? Die meeste van ons doen dit elke dag—dalk ’n hele paar keer per dag. Waarom? Omdat ons besorg is oor ons voorkoms.

Om die Bybel te lees, is soos om in ’n spieël te kyk (Jakobus 1:23-25). Die boodskap in God se Woord is kragtig en stel ons in staat om onsself te sien soos ons werklik is. Dit “dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees” (Hebreërs 4:12). Met ander woorde, dit skei wat ons op die oog af is, van wat ons werklik innerlik is. Net soos ’n spieël wys dit vir ons waar aanpassings nodig is.

Die Bybel wys ons nie net waar aanpassings nodig is nie, maar help ons ook om hierdie aanpassings te maak. Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16, 17). Let op dat drie uit die vier voordele wat beklemtoon word—om tereg te wys, om dinge reg te stel en om te dissiplineer—verband hou met aanpassings in ons gesindheid en dade. As ons gereeld in ’n spieël moet kyk om seker te maak dat ons voorkoms aanvaarbaar is, hoeveel te meer moet ons dan God se Woord, die Bybel, gereeld lees!

Toe Jehovah God Josua aangestel het om die nasie Israel te lei, het Hy vir hom gesê: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel” (Josua 1:8). Ja, om suksesvol te wees, moes Josua God se Woord “dag en nag”, of gereeld, lees.

Die eerste psalm beklemtoon eweneens die voordele van gereelde Bybellees deur te sê: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het en nie op die weg van sondaars gestaan het en nie op die sitplek van spotters gesit het nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Psalm 1:1-3). Ons wil beslis soos hierdie man wees.

Baie mense maak dit ’n daaglikse gewoonte om die Bybel te lees. Toe een Christen gevra is waarom hy die Bybel elke dag lees, het  hy geantwoord: “As ek gedurende die dag herhaaldelik tot God bid en verwag dat hy na my moet luister, moet ek dan nie ook na God luister deur sy Woord elke dag te lees nie? As ons ’n goeie vriend wil wees, sal ons nie al die praatwerk doen nie.” Dit is ’n goeie punt. Om die Bybel te lees, is soos om na God te luister omdat ons sodoende sy beskouing van sake kry.

Bied die uitdaging die hoof

Dalk het jy al tevore met ’n Bybelleesprogram probeer begin. Het jy al die Bybel van voor tot agter deurgelees? Dit is ’n uitstekende manier om beter vertroud te raak met die inhoud daarvan. Party wou al verskeie kere die hele Bybel lees, maar elke keer het iets hulle program onderbreek. Het jy al voor hierdie uitdaging te staan gekom? Wat kan jy doen om die doelwit te bereik om die hele Bybel te lees? Probeer gerus die volgende twee wenke toepas.

Kan jy elke dag tydd opsysit om die Bybel te lees?

Maak Bybellees deel van jou daaglikse roetine. Kies ’n tyd wanneer jy heel waarskynlik elke dag jou Bybellees sal kan doen. Dink ook aan ’n alternatiewe plan. Kies ook ’n ander tyd ingeval jy om die een of ander rede nie jou Bybellees op die vasgestelde tyd kan doen nie, sodat ’n dag nooit sal verbygaan sonder dat jy God se Woord gelees het nie. As jy dit doen, sal jy die voorbeeld van die eertydse Bereane volg. Die Bybel sê van hulle: “Hulle het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was.”—Handelinge 17:11.

Hou ’n spesifieke doel voor oë. As jy byvoorbeeld elke dag drie tot vyf hoofstukke van die Bybel lees, sal jy die hele Bybel in net een jaar kan deurlees. Die tabel op die volgende bladsye wys hoe dit gedoen kan word. Maak dit gerus jou doelwit om hierdie program te gebruik. Skryf onder die opskrif “Datum” wanneer jy die aangewese hoofstukke gaan lees. Merk dan in die venster wat voorsien word, die dele wat jy klaar gelees het. As jy dit doen, sal dit jou help om te sien hoe jy vorder.

Moenie ophou nadat jy die hele Bybel een keer deurgelees het nie. Jy kan dieselfde rooster gebruik om die hele Bybel elke jaar deur te lees, en jy kan moontlik elke keer op ’n ander plek begin. Of as jy die Bybel ’n bietjie stadiger wil deurlees, kan jy twee of drie dae neem om elkeen van die dele op die rooster te lees.

Elke keer dat jy die Bybel lees, sal jy nuwe dinge vind wat op jou lewe van toepassing is—dinge wat jy nog nooit tevore opgemerk het nie. Waarom? “Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander”, en ons lewens en omstandighede verander ook voortdurend (1 Korintiërs 7:31). Wees dus vasbeslote om daagliks in die spieël van God se Woord, die Bybel, te kyk. Sodoende kan jy seker maak dat jy God toelaat om elke dag met jou te praat.—Psalm 16:8.