Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Een daad van Christelike liefde

Een daad van Christelike liefde

IN DIE laat 1950’s, in ’n klein dorpie in Goedjarat, Indië, is John se pa as een van Jehovah se Getuies gedoop. John, sy ma en sy vyf broers en susters was getroue Katolieke, en daarom was hulle baie gekant teen hulle pa se geloof.

Eendag het John se pa hom gevra om ’n koevert by ’n broer se huis te gaan aflewer. Maar John het daardie oggend sy vinger erg gesny toe hy ’n groot metaaldrom wou oopmaak. John wou aan sy pa gehoorsaam wees. Hy het sy vinger met ’n lap toegedraai en toe begin loop om die koevert te gaan aflewer.

Toe John by die broer se huis aankom, was net die broer se vrou by die huis. Sy was ook ’n Getuie. Toe sy die koevert by hom vat, het sy gesien dat hy sy vinger seergemaak het. Sy het haar noodhulpkissie gaan haal, sy vinger ontsmet en ’n verband omgedraai. Toe het sy vir hom ’n lekker koppie tee gemaak en vriendelik met hom oor die Bybel gepraat.

Omdat sy so vriendelik was, het John se gesindheid teenoor die Getuies begin verander. Hy het haar toe uitgevra oor twee dinge waaroor die Getuies en Katolieke verskil—of Jesus God is en of Christene tot Maria moet bid. Die suster het Goedjarati geleer en kon John in sy eie taal antwoord. Sy het hom die boekie “This Good News of the Kingdom” gegee.

Toe John die boekie gelees het, was dit asof hy vir die eerste keer Bybelwaarhede gehoor het. Hy het na sy priester gegaan en hom dieselfde twee vrae gevra. Die priester het baie kwaad geword en hom met ’n Bybel gegooi. Hy het geskree: “Jy het Satan geword! Wys my in die Bybel dat Jesus nie God is nie en dat jy Maria nie moet aanbid nie. Wys my!” John was so geskok en het toe vir die priester gesê: “Ek sal nooit weer my voete in ’n Katolieke kerk sit nie.” En hy het ook nooit weer nie!

John het saam met die Getuies begin studeer, sy standpunt vir die waarheid ingeneem en Jehovah begin dien. Later het ’n hele paar van sy familielede ook Getuies geword. John het nog steeds die litteken op sy vinger waar hy homself 60 jaar gelede gesny het. Hy onthou nog baie goed hoe daardie een daad van Christelike liefde hom beweeg het om Jehovah te begin dien.—2 Kor. 6:4, 6.