Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Watter Joodse gebruik het daartoe gelei dat Jesus gesê het dat jy nie ’n eed mag aflê nie?

VOLGENS die Wet van Moses kon Jode soms ’n eed aflê. Maar in Jesus se dag het die Jode ’n eed afgelê met omtrent alles wat hulle gesê het. Hulle het dit gedoen sodat mense sou glo wat hulle sê. Maar Jesus het hierdie gebruik twee keer veroordeel. Hy het hulle eerder geleer: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee.”—Matt. 5:33-37; 23:16-22.

Volgens die Theological Dictionary of the New Testament help die Talmoed ons om te sien hoe algemeen dit vir die Jode was om ’n eed af te lê of om te sweer by iets. Die Talmoed verduidelik in die fynste besonderhede watter eed jy moet nakom en watter eed jy nie hoef na te kom nie.

Dit was nie net Jesus wat hierdie verkeerde gebruik veroordeel het nie. Byvoorbeeld, die Joodse geskiedkundige Flavius Josefus het oor ’n Joodse sekte geskryf wat dit vermy het om ’n eed af te lê. Om ’n eed af te lê was vir hulle erger as om ’n leuen te vertel. Hulle het gedink dat as jy ’n eed moes aflê sodat ander jou sal glo, dan moet jy ’n leuenaar wees. Die apokriewe boek die Wysheid van Sirag, of Ekklesiastikus, (23:11) sê: “’n Man wat geneig is om ’n eed af te lê, is sonder wet.” Jesus het die gebruik om ’n eed af te lê, veroordeel. As ons altyd die waarheid praat, dan sal dit nie vir ons nodig wees om ’n eed af te lê net sodat ander ons sal glo nie.