Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Preek jy vir alle soorte mense?

Preek jy vir alle soorte mense?

DON, een van Jehovah se Getuies in Kanada, hou daarvan om met mense wat op die straat woon te praat. Don vertel een van sy ondervindinge: “Peter was een van die smerigste mense wat ek nog ooit op die straat ontmoet het. Hy was onbeskof en wou niks met mense te doen gehad het nie. Hy wou nooit enigiemand se hulp aanvaar nie.” Oor ’n tydperk van 14 jaar het Don aangehou om Peter vriendelik te behandel.

Eendag het Peter vir Don gevra: “Hoekom praat jy nog met my? Almal los my uit. Hoekom gee jy om?” Don gebruik toe drie tekste op ’n mooi manier om sy hart te probeer bereik. Hy het begin deur vir Peter te vra of hy weet dat God ’n persoonlike naam het en hom toe gevra om Psalm 83:18 uit die Bybel te lees. Om te wys waarom hy omgee, het Don toe vir Peter gevra om Romeine 10:13, 14 te lees wat sê dat “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, . . . gered [sal] word”. Daarna het Don Matteus 9:36 gelees en toe vir Peter gevra om dit self te lees. Die vers sê: “Toe [Jesus] die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder.” Met trane in sy oë het Peter gevra: “Is ek een van daardie skape?”

Daarna het Peter begin bad, sy baard geknip en die klere aangetrek wat Don vir hom gegee het. Van toe af het hy altyd stukke beter gelyk.

Peter het ’n dagboek gehad. Hy het altyd oor diep neerslagtige dinge geskryf, maar wat hy later geskryf het, was baie anders. Hy het geskryf: “Vandag het ek geleer wat God se naam is. Wanneer ek bid, kan ek sy naam gebruik. Dit is wonderlik om sy naam te ken. Don sê dat Jehovah my Vriend kan wees en dat hy altyd na my sal luister, maak nie saak wanneer of wat nie.”

Peter se laaste woorde in sy dagboek was aan sy broer en suster geskryf. Hy het geskryf:

“Vandag voel ek niks lekker nie. Ek voel baie oud vandag. Al is dit my laaste dag, weet ek dat ek my vriend [Don] weer in die Paradys sal sien. Wanneer julle hierdie woorde lees, sal ek reeds dood wees. As julle ’n man by my begrafnis sien wat lyk of hy nie daar hoort nie, gaan praat met hom en lees asseblief hierdie blou boekie [hy verwys na die Bybelstudiehulp “Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” wat hy jare tevore ontvang het]. * Dit sê dat ek weer my vriend in die Paradys sal sien. Ek glo dit met my hele hart. Liefde, julle broer, Peter.”

Ná die begrafnis het Peter se suster, Ummi, gesê: “Omtrent twee jaar gelede het Peter my gekontak. Vir die eerste keer in jare het hy gelukkig gelyk. Hy het selfs geglimlag.” Sy het vir Don gesê: “Ek sal die boek lees. Enigiets wat my broer kon help, moet spesiaal wees.” Sy het ook ingestem om die boek Wat leer die Bybel werklik? met een van Jehovah se Getuies te studeer.

Ons moet leer om nie net na mense se uiterlike te kyk nie, maar ons moet hulle leer liefkry en geduldig met alle soorte mense wees (1 Tim. 2:3, 4). Wanneer ons dit doen, kan ons mense soos Peter help om die waarheid te leer. Ons kan seker wees dat God, wat “sien wat die hart is”, die waarheid sal laat groei in die hart van mense met die regte gesindheid.—1 Sam. 16:7; Joh. 6:44.

^ par. 7 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.