Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die naam “Tattannoe” is op die een kant van hierdie spykerskrif-tablet geskryf

Nog ’n bewys

Nog ’n bewys

Is daar argeologiese bewyse wat die Bybelverslag bevestig? In 2014 het ’n artikel in die tydskrif Biblical Archaeology Review die vraag bespreek: “Hoeveel mense wat in die Hebreeuse Bybel genoem word, se bestaan kan argeologies bewys word?” Die antwoord was: “Ten minste 50!” Iemand wat nie in hierdie artikel genoem is nie, is Tattenai. Wie was hy? Kom ons kyk waar hy in die Bybelverslag inpas.

Jerusalem was op ’n tyd deel van die uitgestrekte Persiese Ryk. Die stad was in ’n gebied wat in Persië as Oorkant-die-Rivier bekend gestaan het, dit wil sê wes van die Eufraatrivier. Nadat Babilonië deur Persië verower is, is die Joodse gevangenes vrygelaat en toestemming gegee om Jehovah se tempel in Jerusalem te herbou (Esra 1:1-4). Maar vyande van die Jode het hierdie projek teëgestaan en dit as ’n verskoning gebruik om die Jode daarvan te beskuldig dat hulle teen Persië gedraai het (Esra 4:4-16). Terwyl Darius I (522-486 VHJ) regeer het, het ’n Persiese amptenaar met die naam Tattenai hierdie saak ondersoek. Die Bybel noem hom “die goewerneur anderkant die Rivier”.—Esra 5:3-7.

Die naam Tattenai verskyn op ’n hele paar spykerskrif-tablette wat behoue gebly het. Dit was moontlik deel van ’n versameling dokumente wat aan ’n familie behoort het. Een van die tablette wat uit die 20ste regeringsjaar van Darius I (502 VHJ) dateer, is ’n skuldbewys en verbind ’n lid van hierdie familie met die Bybelkarakter. Dit verwys na ’n persoon wat ’n getuie van die transaksie was. Hierdie persoon was ’n kneg van “Tattannoe, die goewerneur van Oorkant-die-Rivier”. In die Bybelboek Esra word hierdie man Tattenai genoem.

Wat het hierdie man gedoen? In 535 VHJ het Kores die Grote die gebiede waaroor hy geheers het, in provinsies verdeel. Een van hierdie provinsies is Babilon en Oorkant-die-Rivier genoem. Later is hierdie provinsie in twee verdeel, en een deel is Oorkant-die-Rivier genoem. Dit het Coele-Sirië, Fenisië, Samaria en Juda ingesluit en is waarskynlik vanuit Damaskus beheer. Tattenai het van omtrent 520 tot 502 VHJ oor hierdie streek regeer.

Tattenai het na Jerusalem toe gegaan om die saak te ondersoek. Hy het toe vir Darius laat weet dat die Jode beweer dat Kores vir hulle toestemming gegee het om Jehovah se tempel te herbou. Darius het beveel dat die koninklike argief deursoek moet word, en daar is gevind dat die bewering waar is (Esra 5:6, 7, 11-13; 6:1-3). Tattenai is beveel om nie in te meng nie, en hy het die bevel gehoorsaam.—Esra 6:6, 7, 13.

Daar word nie baie in die geskiedenis oor “Tattenai die goewerneur anderkant die Rivier” gesê nie. Maar hy word wel in die Bybel genoem en wanneer daar na hom verwys word, word die regte titel gebruik. Dit is nog ’n argeologiese bewys dat die Bybel met die geskiedenis ooreenstem.