Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Reg en verkeerd: Die Bybel – ’n Betroubare gids

Reg en verkeerd: Die Bybel – ’n Betroubare gids

Ons kan nie seker wees dat ons besluite goed sal uitdraai as ons dit net baseer op hoe ons of ander mense voel nie. Die Bybel wys hoekom, maar dit doen ook meer as dit. Dit help ons om te weet wat reg en verkeerd is, wat tot ’n gelukkige lewe lei.

ONS HET LEIDING VAN GOD NODIG

In die Bybel verduidelik Jehovah a God dat mense sy hulp nodig het en nie alles op hulle eie kan doen nie (Jeremia 10:23). Dit is hoekom hy riglyne oor wat reg en verkeerd is, in die Bybel voorsien het. Hy is lief vir die mensdom, en hy wil nie hê dat ons slegte besluite moet maak wat ons sal seermaak en ons lewe moeilik sal maak nie (Deuteronomium 5:29; 1 Johannes 4:8). As ons Skepper het hy ook die nodige wysheid en kennis om ons die beste moontlike raad te gee oor wat reg en verkeerd is (Psalm 100:3; 104:24). Tog dwing God mense nooit om volgens sy standaarde te lewe nie.

Jehovah het die eerste man en vrou, Adam en Eva, alles gegee wat hulle nodig gehad het om regtig gelukkig te wees (Genesis 1:​28, 29; 2:​8, 15). Hy het ook vir hulle eenvoudige instruksies gegee, en hy het verwag dat hulle gehoorsaam daaraan moet wees. Maar hy het hulle self laat kies of hulle hierdie instruksies wou volg of nie (Genesis 2:​9, 16, 17). Ongelukkig het Adam en Eva gekies om volgens hulle eie standaarde eerder as God se standaarde te lewe (Genesis 3:6). Wat was die gevolg? Maak dit mense gelukkig om te doen wat ook al hulle dink reg is? Nee. Die geskiedenis bewys dat om God se standaarde te ignoreer, nie blywende vrede en geluk bring nie. – Prediker 8:9.

Die Bybel voorsien die leiding wat ons nodig het sodat ons goeie besluite kan maak, maak nie saak wat ons agtergrond is nie. (2 Timoteus 3:​16, 17; sien die venster “ ’n Boek vir alle mense”.) Kyk hoe die Bybel dit doen.

Vind meer uit oor hoekom die Bybel regtig “die woord van God” genoem kan word (1 Tessalonisense 2:13). Kyk na die video Wie is die Outeur van die Bybel? op jw.org.

DIE BYBEL SÊ VIR ONS WAT GOD WIL HÊ ONS MOET DOEN

Die Bybel vertel ons wat God se verhouding met die mens van die begin af was. Wat dit bevat, help ons om te verstaan wat God as reg en verkeerd, of voordelig en skadelik, beskou (Psalm 19:​7, 11). Die lesse wat ons leer, is altyd waar en sal ons help om goeie besluite in ons daaglikse lewe te maak.

Byvoorbeeld, kyk na die raad in Spreuke 13:20: “Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word, maar dit sal sleg gaan met die een wat met dwase te doen het.” Dit is nou nog waar, net soos dit in die ou tyd was. Die Bybel is vol sulke praktiese en waardevolle beginsels. – Sien die venster “ Die Bybel se tydlose wysheid”.

Maar jy wonder dalk: ‘Hoe kan ek seker wees dat die Bybel se raad my kan help?’ Die volgende artikel sal ’n paar werklike voorbeelde bespreek.

a Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.