Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Dankbaarheid

Dankbaarheid

Om dankbaarheid te toon het so baie voordele—fisies, verstandelik en emosioneel—dat almal dit deel van hulle daaglikse lewe behoort te maak.

Hoe strek dankbaarheid jou tot voordeel?

WAT DIE MEDIESE WETENSKAP SÊ

Volgens ’n artikel in die Harvard Mental Health Letter “is daar ’n sterk en volgehoue verband tussen dankbaarheid en groter geluk. Dankbaarheid help mense om positiewer gevoelens te hê, goeie ondervindinge te geniet, hulle gesondheid te verbeter, probleme te hanteer en sterk verhoudings op te bou.”

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel spoor ons aan om ’n dankbare gesindheid aan te kweek. Die apostel Paulus, wat ’n goeie voorbeeld hierin gestel het, het geskryf: “Toon dat julle dankbaar is.” Byvoorbeeld, hy het ‘God onophoudelik gedank’ omdat mense goed gereageer het op die boodskap wat hy aan hulle verkondig het (Kolossense 3:15; 1 Tessalonisense 2:13). Dit verskaf ons blywende geluk as ons nie net nou en dan dankie sê nie, maar eerder ’n dankbare gesindheid het. Dit help ons om nie te voel dat ons op alles geregtig is nie en om nie jaloers of gegrief te wees nie, want dit sal mense van ons vervreem en ons van ons vreugde in die lewe beroof.

Ons Skepper het self ’n goeie voorbeeld gestel en dankbaarheid betoon—selfs aan blote mense! Hebreërs 6:10 sê: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie].” Ja, ons Skepper beskou dit as onregverdig as iemand ’n gebrek aan dankbaarheid toon.

“Wees altyd bly. Betuig dank in verband met alles.”1 Tessalonisense 5:16, 18.

Hoe help dankbaarheid ons om ons verhoudings met ander te verbeter?

WAT DIE ONDERVINDING TOON

Wanneer ons opreg dankie sê—vir ’n geskenk, vriendelike woorde of praktiese hulp—laat ons die persoon wat dit gee, voel dat hy of sy vir ons kosbaar is en dat ons hom of haar waardeer. Selfs vreemdelinge reageer goed wanneer mense hulle opreg bedank vir ’n goeie daad, soos om ’n deur oop te hou.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Gee altyddeur”, het Jesus Christus gesê, “en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort” (Lukas 6:38). Kyk na die ondervinding van Rose, ’n dowe meisie in Vanuatu, ’n eilandgroep in die Stille Suidsee.

Rose het die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon, maar sy het min daarby baat gevind omdat nie sy of enigiemand anders in die gemeente gebaretaal geken het nie. ’n Egpaar wat gebaretaal goed kon tolk, het die gemeente besoek en die probleem gesien. Toe het hulle ’n gebaretaalklas begin. Rose was baie dankbaar. “Ek is bly dat ek soveel vriende het wat lief is vir my”, het sy gesê. Dit maak die egpaar wat haar gehelp het, baie bly om te sien hoe dankbaar sy is en dat sy nou aan die vergaderinge deelneem. Rose waardeer ook die feit dat ander gebaretaal geleer het sodat hulle met haar kan kommunikeer.—Handelinge 20:35.

“Die een wat danksegging as sy offerande bring, hy verheerlik [God].”—Psalm 50:23.

Hoe kan jy ’n dankbare gesindheid aankweek?

WAT DIE BYBEL SÊ

Daar is ’n noue verband tussen ons gevoelens en ons gedagtes. Die Bybelskrywer Dawid het tot God gebid en gesê: “Ek het gepeins oor al u dade; ek het die werk van u hande graag oordink” (Psalm 143:5). Ja, Dawid het diep nagedink oor wat God vir hom gedoen het. Hy het ’n dankbare gesindheid gehad omdat hy gereeld oor God se weë gepeins het, iets wat hy sy hele lewe lank gedoen het.—Psalm 71:5, 17.

Die Bybel gee ons die volgende uitstekende raad: ‘Alles wat waar is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is—hou aan om hierdie dinge te bedink’ (Filippense 4:8). Die woorde ‘hou aan om te bedink’ verwys weer eens na die feit dat ons gereeld moet peins, wat ons sal help om ’n dankbare gesindheid te hê.

“Die bepeinsing van my hart sal oor verstandige dinge wees.”Psalm 49:3.