Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Geloof

Geloof

Baie mense sê dat hulle godsdienstig is, maar hulle sukkel om die betekenis van “geloof” te verstaan. Wat is geloof, en waarom is dit belangrik?

Wat is geloof?

WAT PARTY MENSE SÊ

Baie mense dink dat iemand wat geloof het, net ’n oortuiging aanvaar sonder dat hy enige werklike bewyse het. Byvoorbeeld, dink aan ’n godsdienstige persoon wat sê: “Ek glo aan God.” As hierdie persoon gevra word: “Waarom glo jy aan God?” sal hy dalk sê: “Dis hoe ek grootgemaak is” of hy sê dalk: “Dit is wat ek nog altyd geleer is.” In sulke gevalle lyk dit dalk asof daar nie ’n groot verskil is tussen iemand wat geloof het en iemand wat liggelowig is nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). As ’n persoon wil hê dat sy verwagting gewaarborg moet wees, moet hy of sy goeie redes vir daardie verwagting hê. Trouens, die woord in die oorspronklike taal vir die frase “gewaarborgde verwagting” beteken meer as net ’n innerlike gevoel of blote wensdenkery. Geloof behels dus oortuiging wat op bewyse gegrond is.

“Sy [God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid.”Romeine 1:20.

Waarom is dit belangrik om geloof op te bou?

WAT DIE BYBEL SÊ

“Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.

Soos vroeër genoem is, glo baie mense aan God bloot omdat hulle geleer is om dit te doen. ‘Dis hoe ek grootgemaak is’, sê hulle dalk. Maar God wil hê dat diegene wat hom aanbid, opregte vertroue in hom en in sy liefde moet hê. Dit is een rede waarom die Bybel beklemtoon dat ons hom ernstig moet soek sodat ons hom werklik kan leer ken.

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”Jakobus 4:8.

Hoe kan jy geloof opbou?

WAT DIE BYBEL SÊ

“Geloof volg . . . op wat gehoor word”, sê die Bybel (Romeine 10:17). Die eerste stap om geloof in God op te bou, is dus om te ‘hoor’ wat die Bybel werklik oor hom leer (2 Timoteus 3:16). As jy die Bybel studeer, sal dit jou help om gegronde antwoorde te vind op belangrike vrae, insluitende: Wie is God? Watter bewyse is daar dat hy bestaan? Gee God werklik vir my om? Wat is God se voorneme vir die toekoms?

Bewyse van die feit dat God bestaan, is oral om ons

Jehovah se Getuies sal graag die Bybel met jou studeer. Ons webwerf jw.org sê: “Jehovah se Getuies studeer graag die Bybel met mense, maar ons dwing nooit enigiemand om ’n lid van ons godsdiens te word nie. Ons leer mense op respekvolle wyse wat die Bybel sê, maar ons besef dat elkeen die reg het om te kies wat hy of sy sal glo.”

Op die ou end moet jou geloof gegrond wees op bewyse wat jy sien terwyl jy die waarheid ondersoek van wat jy in die Bybel lees. Dan sal jy die voorbeeld volg van die eerste-eeuse studente wat “die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang [het] en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek [het] of hierdie dinge so was.”—Handelinge 17:11.

“Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”Johannes 17:3.