Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Hoe om ware vriende te maak

Hoe om ware vriende te maak

DIE UITDAGING

Danksy tegnologie kan jy met meer mense in aanraking bly as op enige ander tyd in die geskiedenis—en dít met die grootste gemak. Maar jou vriendskappe voel dalk ’n bietjie oppervlakkig. Een jong man het dit so gestel: “Dit voel vir my asof my vriendskappe sommer net kan opdroog. Maar my pa ken mense met wie hy al dekades lank goeie vriende is!”

Waarom is dit deesdae so moeilik om blywende en betekenisvolle vriendskappe te hê?

WAT JY MOET WEET

Tegnologie is dalk gedeeltelik hiervoor verantwoordelik. SMS’e, sosiale netwerke en ander sosiale media laat dit lyk asof ’n mens ’n vriendskap met iemand aan die gang kan hou sonder om in sy geselskap te wees. Betekenisvolle gesprekke is vervang deur ’n rits teksboodskappe en twiets. “Mense het al hoe minder persoonlike gesprekke”, sê die boek Artificial Maturity. “Studente bestee meer tyd voor ’n skerm en minder tyd met mekaar.”

In party gevalle kan tegnologie vriendskappe hegter laat lyk as wat dit werklik is. Die 22-jarige Brian * sê: “Ek het besef dat ek altyd die eerste stap moes neem om vir my vriende boodskappe te stuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan. Toe het ek opgehou om dit te doen, want ek wou sien hoeveel van hulle die inisiatief sou neem om my te kontak. Om eerlik te wees, daar was maar min. Party vriendskappe was blykbaar nie so heg as wat ek gedink het nie.”

Maar help teksboodskappe en sosiale media jou dan nie om met ander in aanraking te bly en om dus jou vriendskappe te versterk nie? Ja, veral as julle ook persoonlik tyd saam deurbring. Maar dikwels help sosiale media ’n mens net om ’n brug na ander te bou sonder om werklik nader aan hulle te kom.

WAT JY KAN DOEN

Definieer ware vriendskap. Die Bybel beskryf ’n vriend as iemand wat “sterker aanhang as ’n broer” (Spreuke 18:24). Is dit die soort vriend wat jy wil hê? Is dit die soort vriend wat jy is? Om jou te help om hierdie vrae te beantwoord, kan jy drie eienskappe neerskryf waarna jy in ’n vriend soek. Skryf dan drie eienskappe neer wat jou ’n goeie vriend maak. Vra jou af: ‘Watter een van my aanlyn vriende het die eienskappe wat ek in ’n vriend waardeer? Watter eienskappe sal daardie vriende in my raaksien?’Bybelbeginsel: Filippense 2:4.

Stel prioriteite. Aanlyn vriendskappe is dikwels gegrond op iets wat julle in gemeen het, soos ’n stokperdjie. Maar dit is belangriker om dieselfde waardes te hê as om dieselfde belangstellings te hê. “Ek het dalk nie baie vriende nie”, sê die 21-jarige Leanne, “maar die vriende wat ek wel het, maak dat ek ’n beter mens wil wees.—Bybelbeginsel: Spreuke 13:20.

Gaan uit en ontmoet mense. Om in iemand se teenwoordigheid te wees, is die heel beste omdat julle mekaar se stemtoon, gesigsuitdrukkings en lyftaal kan waarneem.—Bybelbeginsel: 1 Tessalonisense 2:17.

Skryf ’n brief. Dit klink dalk outyds, maar wanneer jy ’n brief skryf, wys jy dat jy genoeg vir iemand omgee om hom jou onverdeelde aandag te gee. Sulke aandag is vandag seldsaam omdat mense probeer om baie dinge gelyktydig te doen. Byvoorbeeld, in haar boek Alone Together, skryf Sherry Turkle oor ’n jong man wat gesê het dat hy nog nooit ’n persoonlike brief ontvang het nie. Hy sê oor die tyd toe mense nog briewe geskryf het: “Ek mis daardie dae, al het ek nie in daardie tyd gelewe nie.” Probeer gerus hierdie ‘ou tegnologie’ om vriende te maak.

Die slotsom: Ware vriendskappe behels meer as om net met mekaar in kontak te bly. Jy en jou vriend moet albei liefde, empatie en geduld aan die dag lê en vergewensgesind wees. Hierdie eienskappe maak ’n vriendskap die moeite werd. Maar dit is moeilik om dit aan die dag te lê as julle net aanlyn met mekaar praat.

^ par. 8 Van die name in hierdie artikel is verander.