Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Depressie

Depressie

Wat is depressie?

“Ek het ontsteld geraak, ek het my baie laag neergebuig; die hele dag het ek bedroef rondgeloop.”—Psalm 38:6.

WAT NAVORSERS SÊ

Almal voel nou en dan terneergedruk, maar kliniese depressie is ’n langdurige aftakelende versteuring wat inbreuk maak op ’n mens se daaglikse lewe. Dit is noemenswaardig dat nie alle deskundiges saamstem oor wat “normale” droefheid is en wat ’n “versteuring” is nie. Maar daar kan met sekerheid gesê word dat party mense uiters negatiewe emosies ondervind, wat soms met gevoelens van waardeloosheid en ’n oordrewe skuldgevoel gepaardgaan.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel praat van baie mans en vroue wat negatiewe emosies ondervind het. Byvoorbeeld, Hanna was “bitter van siel”—’n uitdrukking wat al met “gebroke van hart” en “diep bedroef” weergegee is (1 Samuel 1:10). Eenkeer was die profeet Elia so bedroef dat hy God in gebed gevra het om sy lewe te neem!—1 Konings 19:4.

Eerste-eeuse Christene is beveel: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). Volgens ’n naslaanwerk kan die uitdrukking “terneergedrukte siele” verwys na diegene “wat tydelik oorweldig is deur die spanning van die lewe”. Dit is duidelik dat selfs getroue mans en vroue wat in die Bybel genoem word, soms terneergedruk gevoel het.

Dra die depressielyer die skuld vir sy toestand?

“Ons weet dat die hele skepping . . . voortdurend saam kreun en saam pyn ly.”—Romeine 8:22.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel leer dat siekte die gevolg is van die opstand van die eerste mensepaar. Byvoorbeeld, Psalm 51:5 sê: “In ongeregtigheid is ek met geboortepyne voortgebring, en in sonde het my moeder my ontvang.” En Romeine 5:12 verduidelik dat ‘die sonde deur een mens [die eerste mens, Adam] in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het’. Omdat ons onvolmaaktheid van Adam geërf het, is elkeen van ons vatbaar vir fisiese sowel as emosionele siektes. Daarom sê die Bybel dat “die hele skepping . . . voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Maar die Bybel bied ook ’n hoop wat geen geneesheer kan bied nie—God se belofte van ’n vreedsame nuwe wêreld waarin alle siektes en versteurings, insluitende depressie, uit die weg geruim sal wees.—Openbaring 21:4.

Wat kan jy doen as jy aan depressie ly?

“Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Jy het nie altyd beheer oor jou omstandighede nie, en slegte dinge sal jou soms raak (Prediker 9:11, 12). Maar daar is praktiese dinge wat jy kan doen sodat negatiewe gevoelens nie jou lewe oorheers nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel erken dat diegene wat siek is, ’n geneesheer nodig het (Lukas 5:31). Dit is dus nie verkeerd om mediese hulp te kry as jy aan ’n aftakelende gemoedsversteuring ly nie. Die Bybel beklemtoon ook die waarde van gebed. Psalm 55:22 sê byvoorbeeld: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.” Gebed is nie ’n sielkundige kruk nie; dit is ware kommunikasie met Jehovah God, wat “naby die gebrokenes van hart” is.—Psalm 34:18.

Jy kan ook daarby baat vind as jy ’n hegte vriend of vriendin vertel hoe jy voel (Spreuke 17:17). “’n Medegelowige het my op ’n mooi manier oorreed om oor my depressie te praat”, sê Daniela, een van Jehovah se Getuies. “Hoewel ek jare lank nie daaroor wou praat nie, het ek gou besef dat ek dit lankal moes gedoen het. Ek was verbaas oor hoe verlig ek daarna gevoel het.”