Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om pandemie-uitputting te hanteer

Hoe om pandemie-uitputting te hanteer

 Het die vrees van COVID-19 jou uitgeput laat voel? As jy so voel, is jy nie alleen nie. Mense regoor die wêreld moes vir die afgelope paar maande leer om saam met die gevaar van hierdie pandemie te lewe. Dr. Hans Kluge, streeksdirekteur vir die Wêreldgesondheidsorganisasie in Europa, sê: “[Baie mense] moes groot opofferings maak om te keer dat COVID-19 versprei. In hierdie omstandighede is dit maklik en natuurlik om nie om te gee nie en ontmoedig te voel. Dit is alles tekens van uitputting.”

 As jy voel dat jy pandemie-uitputting het, moenie moed verloor nie. Die Bybel help baie mense om die lewe gedurende hierdie stresvolle tye te hanteer. Dit kan jou ook help.

 Wat is pandemie-uitputting?

 Pandemie-uitputting is nie ’n mediese toestand nie, maar word gebruik om mense se natuurlike reaksie te beskryf. Hulle het hierdie reaksie omdat die pandemie hulle lewe verander het en veroorsaak het dat hulle onseker voel oor die toekoms. Elke persoon reageer anders, maar ’n paar van die algemene tekens van pandemie-uitputting sluit in:

  •   Geen motivering nie

  •   Verandering in eet- en slaapgewoontes

  •   Geïrriteerdheid

  •   Stres oor dinge wat gewoonlik goed hanteer word

  •   Sukkel om te konsentreer

  •   Gevoelens van hopeloosheid

 Hoekom is pandemie-uitputting gevaarlik?

 Pandemie-uitputting kan vir ons en vir ander gevaarlik wees. As ons nie versigtig is nie, kan ons stadig maar seker die motivering verloor om veiligheidsmaatreëls vir COVID te volg. Ons kan dalk geleidelik oorgerus raak, al hou die virus aan om te versprei en mense dood te maak. Ons wil dalk meer vryheid hê omdat ons moeg is om onder beperkings te lewe, ’n gesindheid wat ons en ander in gevaar kan stel.

 Gedurende hierdie stresvolle tye sien baie dat die volgende woorde in die Bybel waar is: “As jy mismoedig word in moeilike tye, sal jy min krag hê” (Spreuke 24:10). Die Bybel bevat waarhede wat ons kan help om situasies te hanteer wat ons ontmoedig, insluitende hierdie pandemie.

 Watter Bybelwaarhede kan jou help om pandemie-uitputting te hanteer?

  •   Bly op ’n fisiese, maar nie ’n sosiale afstand nie

     Wat die Bybel sê: “’n Ware vriend . . . is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

     Hoekom dit saak maak: Ware vriende bou mekaar op (1 Tessalonisense 5:11). Maar as jy jouself vir lang tydperke afsonder, is dit sleg vir jou gesondheid. – Spreuke 18:1.

     Probeer die volgende: Bly in kontak met jou vriende deur middel van video- en foonoproepe of e-pos en teksboodskappe. Praat met vriende wanneer jy ’n slegte dag het, en maak seker hoe dit met hulle gaan. Ruil idees uit oor wat julle help om die lewe gedurende die pandemie te hanteer. Vind maniere om iets liefdevol vir ’n vriend te doen, en dan sal jy en jou vriend beter voel.

  •   Maak die beste van jou huidige omstandighede

     Wat die Bybel sê: “Maak die beste gebruik van julle tyd.” – Efesiërs 5:16.

     Hoekom dit saak maak: As jy jou tyd wyslik gebruik, kan dit jou help om positief te bly en om nie te bekommerd te wees nie. – Lukas 12:25.

     Probeer die volgende: Eerder as om op dinge te fokus wat jy nie meer kan doen nie, soek na maniere om die meeste van jou situasie te maak. Byvoorbeeld, is daar projekte waarvoor jy nou tyd het of stokperdjies wat jy nou graag wil doen? Kan jy meer tyd met jou gesin spandeer?

  •   Bly by ’n roetine

     Wat die Bybel sê: “Laat alles . . . ordelik plaasvind.” – 1 Korintiërs 14:40.

     Hoekom dit saak maak: Wanneer mense ’n roetine het, is hulle geneig om gelukkiger te voel.

     Probeer die volgende: Maak ’n rooster met jou huidige situasie in gedagte. Sit spesifieke tye opsy om skoolwerk, sekulêre werk en huishoudelike takies te doen, sowel as om dinge te doen wat jou nader aan God kan bring. Sluit ander aktiwiteite in wat goed is vir jou, soos om tyd saam met jou familie te spandeer, buite te wees en te oefen. Kyk nou en dan na jou rooster en maak aanpassings as dit nodig is.

  •   Pas aan by die seisoene

     Wat die Bybel sê: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit.” – Spreuke 22:3.

     Hoekom dit saak maak: Afhangend van waar jy bly, kan die verandering in seisoen jou geleenthede verminder om vars lug en sonlig te kry. Hierdie dinge is goed vir jou fisiese en emosionele gesondheid.

     Probeer die volgende: As dit begin winter word, probeer om jou sitkamer of werksarea rond te skuif sodat jy meer sonlig kan kry. Al is dit koud, kyk of daar dinge is wat jy buite kan doen. As dit moontlik is, kry winterklere wat jou sal toelaat om meer tyd buite te spandeer.

     In die somer sal meer mense buite wil wees, so wees versigtig. Beplan waarheen jy wil gaan, en kies tye wanneer daar nie baie mense sal wees nie.

  •   Hou aan om COVID-veiligheidsmaatreëls te volg

     Wat die Bybel sê: “Die dwaas is roekeloos en het te veel selfvertroue.” – Spreuke 14:16.

     Hoekom dit saak maak: COVID-19 is dodelik, en as ons nie versigtig is nie, kan ons dit kry.

     Probeer die volgende: Kyk gereeld na plaaslike betroubare riglyne en maak seker dat jy nog steeds versigtig is. Dink aan hoe die dinge wat jy doen jou, jou familie en ander sal raak.

  •   Versterk jou verhouding met God

     Wat die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” – Jakobus 4:8.

     Hoekom dit saak maak: God kan jou help om enige uitdaging te hanteer. – Jesaja 41:13.

     Probeer die volgende: Lees elke dag ’n gedeelte in God se Woord, die Bybel. Hierdie program van Bybellees kan jou help om nader aan God te kom.

 Jehovah se Getuies hou nog steeds vergaderinge gedurende die COVID-19-pandemie. Kontak hulle asseblief om uit te vind hoe jy gehelp kan word deur hierdie reëling. Byvoorbeeld, regoor die wêreld gebruik hulle videoverbinding om hulle gemeentelike vergaderinge, die jaarlikse herdenking van Jesus se dood en die jaarlikse streekbyeenkoms te hou.

 Bybelverse wat jou kan help met pandemie-uitputting

 Jesaja 30:15: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.”

 Betekenis: As ons op God se raad vertrou, kan dit ons help om kalm te bly in moeilike tye.

 Spreuke 15:15: “Vir die een wat swaarkry, is elke dag sleg, maar vir die een met ’n vrolike hart is die lewe ’n fees.”

 Betekenis: As ons op positiewe dinge fokus, kan dit ons help om selfs in moeilike tye gelukkig te wees.

 Spreuke 14:15: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.”

 Betekenis: Volg gesondheidsvoorsorgmaatreëls, en moenie net dink dat sulke beperkings onnodig is nie.

 Jesaja 33:24: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”

 Betekenis: God belowe om ’n einde te maak aan alle soorte siektes.