Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ou Egiptiese reliëfbeeld bevestig ’n verslag in die Bybel

Ou Egiptiese reliëfbeeld bevestig ’n verslag in die Bybel

 Hierdie beeld met hiërogliewe is agt meter hoog en staan naby die ingang van die ou Egiptiese tempel van die god Amon in Karnak. Volgens geleerdes beskryf hierdie beeld farao Sisak se oorwinnings in lande noordoos van Egipte, insluitende Juda en die noordelike koninkryk van Israel.

Die Karnak-reliëf; die inlasfoto wys gevangenes wat geboei is

 Die reliëfbeeld wys hoe Amon meer as 150 gevangenes in boeie aan Sisak, of Sjesjonk, oorhandig. a Elke gevangene verteenwoordig een van die dorpe of volke wat oorwin is. Die dorpe se name is in die ovaal vorme op die liggaam van elke gevangene geskryf. ’n Hele paar van hierdie name is nog leesbaar, en party van hulle is vir Bybellesers baie bekend, soos Bet-Sean, Gibeon, Megiddo en Sunem.

 Egipte se aanval op Juda word in die Bybel genoem (1 Konings 14:25, 26). Die Bybel gee ook spesifieke besonderhede oor hierdie aanval deur Sisak. Ons lees: “In die vyfde jaar van koning Rehabeam het Sisak, die koning van Egipte, teen Jerusalem opgetrek ... met twaalfhonderd strydwaens en met sestigduisend ruiters; en die manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het, was ontelbaar ... Hy het die versterkte stede ingeneem wat aan Juda behoort het en eindelik tot by Jerusalem gekom.” – 2 Kronieke 12:2-4.

 Die Karnak-reliëf is nie die enigste argeologiese bewys dat Sisak die Israelitiese gebied ingeneem het nie. ’n Fragment van ’n klipmonument, of stele, wat gevind is by die plek waar die Bybelse stad Megiddo was, dra ook die naam “Sjesjonk”.

 Die Bybel se akkurate verslag van Sisak se oorwinning oor Juda is ’n voorbeeld van hoe eerlik die Bybelskrywers was. Hulle was baie eerlik wanneer hulle geskryf het oor hulle eie nasie se oorwinnings en die tye toe hulle verslaan is. Sulke eerlikheid was nie iets algemeens onder ander eertydse skrywers nie.

a Die Bybelse spelling “Sisak” kom ooreen met die Hebreeuse uitspraak van die naam.