Spring na inhoud

29 NOVEMBER 2018
RUSLAND

Dennis Christensen ontvang internasionale ondersteuning

Dennis Christensen ontvang internasionale ondersteuning

Broer Dennis Christensen is al meer as 525 dae lank in die tronk omdat hy sy geloof beoefen het en hy het al meer as 50 keer in die hof verskyn. Die Zjeleznodorozjni-streekhof in Oriol, Rusland, wat Dennis se saak hanteer, het verhore vir die middel van Desember gereël. Al is Dennis nou al langer as agtien maande in aanhouding, het hy glad nie sy positiewe gesindheid verloor nie. Dit bewys ongetwyfeld dat Jehovah hom ondersteun in antwoord op miljoene gebede deur ons wêreldwye broederskap.

Dennis het al honderde kaartjies en tekeninge van mede-Getuies in Rusland en ander lande ontvang wat van hulle liefdevolle ondersteuning getuig. Toe Dennis op 30 Oktober in die hof verskyn het, het hy ’n paar van die kaartjies en prente wat kinders vir hom gestuur het deur die venster van sy aanhoudingsel gewys sodat almal wat gekom het om hom te ondersteun daardeur aangemoedig kon word.

Op 30 Oktober 2018 het Dennis Christensen tydens ’n pouse in sy verhoor ’n paar van die aanmoedigende briewe wat hy ontvang het deur die venster van sy aanhoudingsel gewys.

Behalwe ons wêreldwye broederskap toon die internasionale gemeenskap ook groot belangstelling in Dennis se saak. Op 21 Julie 2017 het die Menseregte-gedenksentrum in Moskou Dennis se status na dié van politieke gevangene verander. Op 20 Junie 2018 het Rusland se Raad vir Menseregte gevra dat die Kantoor van die Hoofaanklaer die wettigheid van die kriminele vervolging van Jehovah se Getuies moet staaf. Op 26 September 2018 het die Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid Dennis amptelik as ’n “gewetensbeswaarde gevangene” verklaar.

Rusland het tydens ’n openbare hofsitting gewaarborg dat die verbod op die regsentiteite van Jehovah se Getuies nie die individuele Getuies se regte sou beïnvloed om hulle geloof te beoefen nie. Plaaslike en federale wetstoepassingsinstansies het hierdie waarborg geïgnoreer en die wet verdraai om hulle optrede te regverdig en het Dennis en baie ander gearresteer en hulle van “ekstremistiese” bedrywighede aangekla. Rusland het hierdie jaar talle klopjagte oral in die Federasie uitgevoer. Toe hierdie berig verskyn het, was daar 25 broers en susters in die tronk, 18 was onder huisarres en meer as 40 is allerhande ander beperkings opgelê. Die uitspraak in Dennis se verhoor sal dus bepaal wat met die meer as 90 ander Getuies van Jehovah in ongeveer 30 streke van Rusland gebeur wat op die uitkoms van hulle kriminele ondersoek wag.

Ons sien gretig uit na die dag wanneer Jehovah “reg [sal] laat geskied” vir ons dierbare broers en susters teen wie kriminele aanklagte ingebring is as gevolg van hulle geloof. Ons weet dat ons internasionale familie sal voortgaan om te bid dat Jehovah sal aanhou om hulle te versterk en aan te moedig. – Lukas 18:7.