Spring na inhoud

“Ek het vir jou oproep gewag”

“Ek het vir jou oproep gewag”

 Ed en sy vrou, Jennie, het in 2010 vir die eerste keer probeer om telefoongetuieniswerk te doen. a Jennie sê: “Ek het glad nie daarvan gehou nie. Ek het vir my man gesê: ‘Ek sal dit nooit weer doen nie!’” Ed het ook so gevoel. Hy verduidelik: “Ek hou nie daarvan om oproepe van telefoonbemarkers te kry nie. So ek kon myself nie indink dat ek oor die telefoon kon getuig nie.”

 Toe het die COVID-19-pandemie begin, en Jehovah se Getuies het opgehou om van deur tot deur te preek. Maar omdat hulle gehoorsaam is aan Jesus se bevel om die goeie nuus te verkondig, het hulle aangehou om aan die bediening deel te neem, meestal deur briewe te skryf en oor die telefoon te getuig (Matteus 24:14; 28:19, 20). Terselfdertyd was Christelike vergaderinge, insluitende vergaderinge vir velddiens, deur middel van videoverbinding gehou. By een so ’n vergadering het Ed weer telefoongetuieniswerk probeer doen, al was dit vir hom moeilik. Hoe het hy gevoel toe hy sy eerste oproep wou maak? Hy sê: “Ek was so senuweeagtig dat ek vir hulp gebid het! Toe maak ek die oproep. En toe ontmoet ek vir Tyrone.” b

 Tyrone en sy vrou, Edith, woon in die platteland van Kentucky, VSA. Tyrone is 83 jaar oud en kan nie goed sien nie. Maar toe Ed vir hom ’n Bybelstudie aangebied het, het hy dit aanvaar. Hy het die studiemateriaal met ’n vergrootglas gelees en die Bybel gereeld saam met Ed oor die foon studeer.

 Omtrent ’n maand later het Tyrone en Edith albei die vergaderinge begin bywoon wat deur die plaaslike gemeente gehou is. Maar omdat hulle nie ’n internetverbinding gehad het nie, het hulle deur middel van die telefoon ingeskakel. Hoekom het Edith begin belangstel?

 Gedurende die studie met Tyrone, het Ed en Jennie gehoor hoe Edith Tyrone in die agtergrond help met sy antwoorde en om tekste in hulle Bybel te kry. Maar dit is hoe ver haar deelname gegaan het. Jennie sê: “Ons kon aan haar stem hoor dat sy baie hartseer was, maar nie ek of Ed het geweet hoekom nie.”

Ed en Jennie getuig oor die telefoon

 Eendag het Jennie gevoel dat sy met Edith moet praat. So op die regte oomblik het sy vir Ed vir die telefoon gevra. Sy het gesê: “Tyrone, ek kan jou vrou se stem in die agtergrond hoor, en ek wil haar graag nooi om ’n teks te lees of om te antwoord.”

 Ná ’n kort rukkie het Edith na die foon toe gekom. “Ek wou graag met jou praat”, het sy in haar sagte stem gesê. Toe sê sy verder: “Ek is een van Jehovah se Getuies. Ek is al 40 jaar onbedrywig.”

 Jennie was verstom. “Jy is my suster!” het sy uitgeroep, en toe het hulle albei begin huil.

 Kort daarna het Ed vir Edith die brosjure Keer terug na Jehovah gegee. In die weke daarna het Ed en Jennie ’n positiewe verandering in Edith gesien. Ed sê: “Aan die begin was daar soveel pyn in haar stem. Nou is daar weer lewe in haar stem.” Edith het begin om nader aan Jehovah te kom, en nou dien sy weer as ’n gelukkige verkondiger van die goeie nuus. Haar man is as een van Jehovah se Getuies in Julie 2022 gedoop.

 Wanneer Ed terugdink aan hoe hy oor telefoongetuieniswerk gevoel het, herinner dit hom aan ’n gesprek wat hy met Tyrone gehad het. Nadat Ed Johannes 6:44 vir hom gelees het en verduidelik het dat Jehovah mense na die waarheid toe trek, het Tyrone saamgestem en bygevoeg: “Ek het vir jou oproep gewag.” Jennie is ook bly dat sy en haar man die moed bymekaargeskraap het om telefoongetuieniswerk te doen. Sy sê: “Jehovah seën sulke pogings.”

a Jehovah se Getuies voer hulle bediening uit in ooreenstemming met die wette oor databeskerming.

b Party name is verander.