Spring na inhoud

Sy vertroos ander ten spyte van haar gesondheidsprobleme

Sy vertroos ander ten spyte van haar gesondheidsprobleme

 Clodean, wat een van Jehovah se Getuies is en in Suid-Afrika bly, moes hospitaal toe gaan vir ’n groot operasie. Sy het verskeie ingewikkelde gesondheidsprobleme gehad en moes besluit watter behandeling die beste sou wees. Voor en ná haar operasie was sy baie moeg en gestres en het sy baie pyn gehad. Omtrent tien weke nadat sy teruggekom het huis toe, kon sy nog steeds nie regop sit nie. En as gevolg van die COVID-19-pandemie kon niemand vir haar kom kuier nie.

 Clodean was vasbeslote om nie jammer vir haarself te voel nie en het God gevra om haar die krag te gee om ander te vertroos. Toe sy weer regop kon sit, het sy dadelik haar buurvrou se suster gekontak, wat voorheen die Bybel met die Getuies studeer het, maar toe opgehou het. Clodean het ’n aanmoedigende gedagte uit God se Woord met die vrou gedeel. Dit het haar aangemoedig om weer ’n Bybelstudie te aanvaar. Clodean het ook verduidelik wat die voordele van Christelike vergaderinge is. Sy het ook seker gemaak dat haar student die plaaslike gemeentelike vergaderinge deur videoverbinding kon bywoon. Die vrou het die vergadering bygewoon en het selfs ’n kommentaar gegee gedurende ’n vraag-en-antwoord-deel op die program.

 Clodean het toe met haar student se jonger suster gepraat wat ook graag ’n Bybelstudie wou hê. Sy het selfs Clodean vertel van ander wat dalk ook belangstel. Wat was die gevolg? Clodean het Bybelstudies met nog vier vrouens begin. Maar dit is nie waar haar storie eindig nie!

Clodean

 Omdat Clodean so baie in ander belangstel, het sy Bybelstudies met nog tien vrouens begin – almal gedurende die pandemie. Dit is ’n totaal van 16 studies! Party woon gereeld die Christelike vergaderinge by deur middel van videoverbinding. Omdat Clodean besig bly deur ander te help om oor Jehovah te leer, fokus sy nie op haar eie situasie nie. Sy voel ook dat sy ander kon vertroos omdat Jehovah, “die God van alle vertroosting”, haar gedurende moeilike tye vertroos het. – 2 Korintiërs 1:3, 4.

 Hoe voel Clodean se studente oor wat hulle geleer het? Een van hulle sê: “Dit het my op baie maniere gehelp. Maar wat my die meeste gehelp het, was om te leer wat God se naam is. Dit het my gehelp om nader aan Jehovah te kom.” En die eerste vrou wat deur Clodean gekontak is, sien daarna uit om binnekort gedoop te word. Hierdie ondervindinge het Clodean baie vreugde gegee. En sy het ná haar operasie goed herstel.