Spring na inhoud

Sy bly sterk deur bitter moeilike tye

Sy bly sterk deur bitter moeilike tye

 Virginia, wat een van Jehovah se Getuies is, het ’n siekte met die naam ingeslote sindroom. Haar liggaam is verlam. Sy kan sien en hoor, haar oë oop- en toemaak en haar kop ’n bietjie beweeg. Sy kan nie praat of eet nie. Op ’n stadium was sy gesond en vol energie. Maar een oggend in 1997 het sy ’n skerp aanhoudende pyn in die agterkant van haar kop gevoel. Haar man het haar na die hospitaal gevat, en daardie aand het sy in ’n koma gegaan. Sy het twee weke later in ’n intensiewesorgeenheid wakker geword. Sy was verlam en aan ’n ventilator gekoppel. Sy kon ’n paar dae lank niks onthou nie, nie eers wie sy was nie.

 Virginia verduidelik wat volgende gebeur het. “Stadig maar seker het my geheue teruggekom. Ek het baie gebid. Ek wou nie doodgaan en my jong seun sonder ’n ma los nie. Om meer moed te kry, het ek probeer om soveel Bybelverse te onthou as wat ek kon.

 “Die dokters het my uiteindelik uit intensiewe sorg geskuif. Ná ses maande in verskillende hospitale en by ’n rehabilitasiesentrum was ek huis toe gestuur. Ek was nog steeds heeltemal verlam en ek het met alles hulp nodig gehad. Ek was so terneergedruk! Ek het so nutteloos vir ander en vir Jehovah gevoel. Ek was ook bekommerd omdat ek nie vir my seun kon sorg nie.

 “Ek het ondervindinge van ander Getuies begin lees wat ook ernstige siektes soos ek gehad het. Ek was verbaas oor wat hulle vir Jehovah kan doen. As gevolg hiervan het ek probeer om ’n positiewe gesindheid te hê deur te fokus op wat ek kon doen. Voordat ek siek geword het, het ek nie baie tyd gehad vir geestelike dinge nie. Nou het ek elke dag, die hele dag tyd gehad. So in plaas daarvan om moed op te gee, het ek gefokus op my verhouding met Jehovah.

 “Ek het geleer om ’n rekenaar te gebruik. Ek tik met sagteware wat reageer op die beweging van my kop. Dit is uitputtend, maar die tegnologie laat my toe om die Bybel te studeer en om my hoop met ander te deel deur middel van briewe en e-posse. Om met ander te kommunikeer, het ek ’n bord met die alfabet daarop. Die persoon wat by my is, wys na ’n letter op ’n slag. Wanneer hulle die verkeerde letter kies, maak ek my oë groot oop en wanneer hulle die regte letter kies, maak ek my oë toe. Ons herhaal die proses om woorde en sinne te vorm. Party van die susters wat baie tyd met my spandeer, weet al presies wat ek wil sê. Wanneer hulle soms ’n woord verkeerd kry, dan dink ons dit is nogal snaaks.

Kommunikasie deur middel van ’n bord met die alfabet daarop

 “Ek geniet dit om betrokke te wees by die gemeente. Ek skakel altyd in vir die vergaderinge, nou deur middel van videoverbinding. Ek kan my antwoorde uittik en dan lees iemand dit gedurende vraag-en-antwoord-dele. Ek kyk ook saam met ’n klein groepie Getuies die maandelikse JW Broadcasting-programme. a

 “Ek het nou al 23 jaar lank ingeslote sindroom. Ek voel partykeer hartseer. Maar ek kan hierdie tye oorkom deur te bid, saam met my broers en susters te assosieer en geestelik besig te bly. Om die waarheid te sê, met die hulp van die gemeente kon ek nou al meer as ses jaar hulppionier. Ek het probeer om ’n goeie voorbeeld vir my seun, Alessandro, te wees, wat nou getroud is en as ’n ouerman dien. Hy dien ook as ’n gewone pionier saam met sy vrou.

 “Ek dink baie keer aan die dinge wat ek in die toekoms in die Paradys sal kan doen. Die eerste ding wat ek wil doen, is om met my eie stem oor Jehovah te praat. Ek wil graag in die platteland langs ’n stroompie gaan stap, net om die pragtige landskap te geniet. Omdat ek vir die afgelope 20 jaar net vloeistowwe kan inneem, kan ek nie wag om ’n appel van ’n boom af te pluk en ’n hap daarvan te vat nie. En omdat ek Italiaans is, sien ek natuurlik uit daarna om my gunsteling Italiaanse kosse te maak en te eet, insluitende pizza!

 “Die ‘hoop op redding’ het my gehelp om my verstand te beskerm (1 Tessalonisense 5:8). Wanneer ek myself in die nuwe wêreld sien, maak dit my gelukkig al het ek fisiese beperkings. En ek weet dat hierdie beperkings binnekort tot ’n einde sal kom. Ja, ek kan nie wag om ‘die werklike lewe’ te geniet wat Jehovah belowe het deur middel van sy Koninkryk nie.” – 1 Timoteus 6:19; Matteus 6:9, 10.

a ’n Skakel na JW Broadcasting kan op jw.org gevind word.