Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Om God te dien, is vir hom soos medisyne!

Om God te dien, is vir hom soos medisyne!

Toe twee pioniers by ’n huis in Kenia ingenooi is, was hulle verbaas om die tingerige gestalte te sien van ’n man wat op ’n bed lê. Hy het ’n baie klein bolyf en kort arms gehad. Toe hulle hom vertel van God se belofte dat “die kreupele net soos ’n takbok [sal] klim”, het die man breed geglimlag.—Jes. 35:6.

Die pioniers het uitgevind dat Onesmus, wat nou in sy laat 30’s is, met osteogenesis imperfecta, of brosbeensiekte, gebore is. Sy gebeente was uiters broos—so broos dat die geringste druk dit laat breek het. Aangesien daar geen geneesmiddel of doeltreffende behandeling vir die siekte is nie, het Onesmus verwag om vir die res van sy lewe pyn te verduur en aan ’n rolstoel gekluister te wees.

Onesmus het ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar. Sy ma wou egter nie hê dat hy Christelike vergaderinge moet bywoon nie omdat sy bang was dat hy beserings sou opdoen wat sy pyn sou vererger. Die broers het dus die vergaderinge opgeneem, en Onesmus het by die huis daarna geluister. Nadat hy vyf maande lank gestudeer het, het Onesmus besluit dat hy die vergaderinge ten spyte van die risiko’s wil bywoon.

Het die bywoning van Christelike vergaderinge tot Onesmus se pyn bygedra? Eintlik het dit die teenoorgestelde uitwerking gehad. “Dit het gevoel asof die pyn wat ek heeltyd verduur, gedurende die vergaderinge verminder het”, sê Onesmus. Hy het gedink dat sy nuutgevonde hoop die rede was waarom hy beter gevoel het. Onesmus se ma het die verandering in haar seun se gemoedstoestand opgemerk en was so verheug daaroor dat sy ook die Bybel begin studeer het. “Om God te dien, is vir my seun soos medisyne”, het sy gesê.

Kort voor lank het Onesmus ’n ongedoopte verkondiger geword. Ná verloop van tyd is hy gedoop, en nou dien hy as ’n bedieningskneg. Hoewel Onesmus nie sy bene en een van sy arms kan gebruik nie, was dit sy begeerte om soveel as moontlik in Jehovah se diens te doen. Hy wou hulppionierdiens doen, maar was huiwerig om aansoek te doen. Waarom? Omdat hy geweet het dat hy heeltemal afhanklik van iemand anders sou wees om sy rolstoel te stoot. Toe hy vir sy mede-Christene van sy bekommernis vertel het, het hulle belowe om hom te ondersteun. Hulle het hulle belofte nagekom en het Onesmus gehelp om hulppionierdiens te doen.

Toe Onesmus ’n gewone pionier wou word, het hy dieselfde bekommernis gehad. Op ’n dag het die dagteks hom egter die nodige aanmoediging gegee. Dit was Psalm 34:8: “Smaak en sien dat Jehovah goed is.” Nadat Onesmus oor daardie teks gepeins het, het hy besluit om ’n gewone pionier te word. Hy preek nou vier dae per week, en ’n hele paar van sy Bybelstudies maak goeie geestelike vordering. In 2010 het hy die Pionierdiensskool bygewoon. Hoe verheug was Onesmus tog dat sy instrukteur een van die twee broers was wat hom aanvanklik besoek het!

Onesmus se ouers is nou oorlede, maar broers en susters in die gemeente sien na sy daaglikse behoeftes om. Hy is dankbaar vir al die seëninge wat hy nou geniet, en hy sien uit na die dag wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jes. 33:24.