Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek is nie meer ’n slaaf van geweld nie”

“Ek is nie meer ’n slaaf van geweld nie”
  • Gebore: 1956

  • Geboorteland: Kanada

  • Geskiedenis: Teleurgesteld, onsedelik en gewelddadig

MY VERLEDE

 Ek was in Calgary in Alberta, Kanada, gebore. Toe ek ’n baba was, het my ouers geskei. Ek en my ma het toe by my oupa en ouma gaan bly. Hulle was baie lief vir my en my ma, en ek was ’n baie gelukkige kind. Ek het goeie herinneringe van daardie rustige jare toe ek ’n kind was.

 Toe ek sewe jaar oud was, het my lewe moeilik geword toe my ma weer met my pa getrou het. Ons het toe na St. Louis, Missouri, in die Verenigde State getrek. Ek het vinnig agtergekom dat my pa baie wreed kan wees. Toe ek byvoorbeeld by die huis kom na my eerste dag by my nuwe skool, het hy uitgevind dat ander met my baklei het, maar dat ek nie terugbaklei het nie. Hy was woedend en het my harder geslaan as wat die kinders by die skool my geslaan het! Dit het gemaak dat ek met ander kinders begin baklei het toe ek net sewe jaar oud was.

 My pa se slegte humeur het my ma bitter gemaak, en hulle het gereeld op mekaar geskree en het baie gestry. Ek het dwelms en alkohol begin misbruik toe ek 11 jaar oud was. Ek het al hoe meer aggressief geword en met mense op die straat baklei. Teen die tyd toe ek klaar is met hoërskool, was ek ’n baie gewelddadige persoon.

 Toe ek 18 jaar oud was, het ek besluit om by die Amerikaanse vloot aan te sluit. Daar het ek geleer hoe om goed daarin te word om iemand dood te maak. Ná vyf jaar het ek die weermag verlaat om sielkunde te studeer met die hoop om by die Amerikaanse Federale Speurdiens te werk. Ek het by ’n universiteit in die Verenigde State gestudeer, en ek het verder in Kanada gestudeer toe ek teruggetrek het.

 Op universiteit het ek heeltemal teleurgesteld geword in mense oor die algemeen. Dit het gelyk asof mense so selfsugtig is en dat alles in die wêreld so sinneloos is. Dit het ook gelyk asof daar nie oplossings vir die mense se probleme is nie. Ek het moed verloor dat die mens die wêreld ’n beter plek kan maak.

 Omdat ek nie ’n doel in die lewe gehad het nie, het ek al hoe meer op alkohol, dwelms, geld en seks gefokus. Ek het van een partytjie na die volgende gegaan en van een vrou na die ander. My militêre opleiding het gemaak dat ek baie baklei het. Ek het gedink dat ek self kon besluit wat reg en verkeerd was, en ek sou enigeen aanvat wat volgens my ander onregverdig behandel het. Maar eintlik het ek toegelaat dat geweld my beheer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Eendag terwyl ek en my vriend onder die invloed van dwelms was en ons besig was om ’n onwettige vrag dagga reg te kry om te verkoop, het my vriend my gevra of ek in God glo. Ek het geantwoord: “As God verantwoordelik is vir die swaarkry in die wêreld, wil ek niks met hom te doen hê nie!” Die volgende dag het ek by ’n nuwe werk begin. ’n Werksmaat, wat een van Jehovah se Getuies is, vra my toe: “Dink jy God is verantwoordelik vir die swaarkry in die wêreld?” Toe hy ook hierdie vraag net op daardie dag vra, was ek geskok en het dit my nuuskierig gemaak. Vir die volgende ses maande het ons baie gesels, en hy het die Bybel gebruik om van my moeilikste vrae oor die lewe te beantwoord.

 My verloofde, saam met wie ek op daardie stadium gebly het, wou nie hê dat ek die dinge wat ek geleer het, vir haar moes vertel nie. Een Sondag het ek vir haar gesê dat ek die Getuies na ons huis genooi het om die Bybel met ons te studeer. Die volgende dag, toe ek ná werk by die huis kom, het ek gesien dat sy al haar goed gevat het en my gelos het. Ek het buitentoe gegaan en gehuil. Ek het ook tot God gebid, en hom gesmeek om my te help. Dit was die eerste keer dat ek God se persoonlike naam, Jehovah, in my gebed gebruik het. – Psalm 83:18.

 Twee dae later het ek my eerste Bybelstudie met die Getuies gehad. ’n Getroude paartjie het met my studeer. Nadat hulle daar weg is, het ek aangehou om die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te lees, en ek het dit daardie aand klaargemaak. a Wat ek oor Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, geleer het, het my hart geraak. Ek het gesien dat Jehovah jammer voel vir ons en dat dit hom seermaak wanneer ons swaarkry (Jesaja 63:9). God se liefde vir my en die opoffering wat sy Seun vir my gemaak het, het my veral diep geraak (1 Johannes 4:10). Ek het besef dat Jehovah geduldig was met my “omdat hy nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon” (2 Petrus 3:9). Ek het gevoel hoe Jehovah my trek. – Johannes 6:44.

 Ek het daardie selfde week vergaderinge begin bywoon. Ek het lang hare en oorbelle gehad, en ek het gelyk soos iemand vir wie mense bang sal wees. Maar die Getuies het my behandel asof ek familie is wat hulle lank laas gesien het. Hulle het soos ware Christene opgetree. Dit het gevoel asof ek terug by die huis saam met my oupa en ouma was, maar die omstandighede was net baie beter.

 Die dinge wat ek in die Bybel geleer het, het vinnig begin om my lewe te verander. Ek het my hare geknip, opgehou met seksuele sondes en dwelm- en alkoholmisbruik gestop (1 Korintiërs 6:9, 10; 11:14). Ek wou Jehovah bly maak. Toe ek besef dat ek iets doen waarvan hy nie hou nie, het ek nie verskoning gemaak vir my slegte gedrag nie. Dit het my eerder baie hartseer gemaak. Ek het vir myself gesê: ‘Ek kan nie meer so aangaan nie.’ En sonder om twee keer te dink, het ek my denke en gedrag probeer verander. As gevolg hiervan het ek gou die voordele daarin gesien om dinge op Jehovah se manier te doen. Op 29 Julie 1989 – ses maande nadat ek met my studie van die Bybel begin het – is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Die Bybel het gehelp om my persoonlikheid te verander. In die verlede was ek gewoonlik gewelddadig wanneer iemand vyandig teenoor my was. Maar nou werk ek hard daaraan om “in vrede met alle mense te lewe” (Romeine 12:18). Ek vat nie die eer hiervoor nie, maar ek dank Jehovah vir die krag van sy Woord en heilige gees wat lewens verander. – Galasiërs 5:22, 23; Hebreërs 4:12.

 In plaas daarvan dat ek verslaaf is aan dwelms, geweld en seksuele sondes, werk ek hard om Jehovah God bly te maak en om hom my beste te gee. Dit sluit in dat ek ander help om hom te leer ken. ’n Paar jaar nadat ek gedoop is, het ek na ’n ander deel van die wêreld getrek om met die predikingswerk te help in gebiede waar daar ’n groot behoefte aan evangeliepredikers was. Oor die jare het dit my baie bly gemaak om baie mense die waarheid te leer en te sien hoe die Bybel ook hulle lewens verbeter het. Ek is ook baie bly dat my ma een van Jehovah se Getuies geword het. Een van die redes hoekom sy ’n Getuie geword het, is omdat sy die positiewe veranderinge in my gesindheid en gedrag gesien het.

 In 1999, in El Salvador, het ek aan die skool wat nou bekend staan as die Skool vir Koninkrykspredikers gegradueer. Die skool het my gehelp en my voorberei om die leiding in die predikingswerk te neem en om te onderrig en herderswerk in die gemeente te doen. Ek het later daardie jaar met my lieflike vrou, Eugenia, getrou. Ons dien nou saam as voltydse dienaars in Guatemala.

 In plaas daarvan dat ek teleurgesteld is met die lewe, is ek nou verskriklik gelukkig. Deur Bybelbeginsels in my lewe toe te pas, het dit my gehelp om nie meer seksueel onsedelik of gewelddadig te wees nie. Dit het my ook gehelp om ware liefde en vrede te hê.

a Jehovah se Getuies gebruik nou die studiehulp Wat kan die Bybel ons leer?