Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

‘Misdaad en die liefde vir geld het my baie pyn veroorsaak’

‘Misdaad en die liefde vir geld het my baie pyn veroorsaak’
  • Gebore: 1974

  • Geboorteland: Albanië

  • Geskiedenis: Dief, dwelmhandelaar, gevangene

MY VERLEDE

 Ek is in ’n arm gesin gebore in Tirana, die hoofstad van Albanië. My pa was ’n eerlike man wat lang ure gewerk het om vir ons te sorg. Maar ons het skaars genoeg geld gehad om te oorleef. As ’n kind was ek heeltemal bewus van die feit dat ons arm is. Gedurende my kinderjare het ek nie skoene gehad nie, en daar was ook nie altyd genoeg kos nie.

 Ek het op ’n baie jong ouderdom begin steel. Ek het gedink dat dit ’n manier was om my gesin te help. Uiteindelik het ek in die moeilikheid gekom by die polisie. So in 1988, toe ek 14 jaar oud is, het my pa my na ’n verbeteringskool toe gestuur. Ek was twee jaar daar en het geleer om sweiswerk te doen. Toe ek klaarmaak, wou ek op ’n eerlike manier geld verdien, maar ek kon nie ’n werk kry nie. Daar was baie werkloosheid in Albanië omdat daar baie politieke probleme was. Ek was gefrustreerd, en daarom het ek weer tyd met my ou vriende spandeer en begin steel. Op die ou end is ek en my vriende gearresteer en tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

 Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek aangehou om misdaad te pleeg. Albanië se ekonomie het ineengestort, en die land was chaoties. Gedurende daardie onstabiele tye het ek baie geld gemaak deur onwettige dinge te doen. Ná ’n gewapende roof is twee van my medepligtiges gearresteer. Ek het uit die land gevlug om ’n lang tronkstraf te vermy. Teen daardie tyd was ek en my vrou, Julinda, getroud en het ons ’n babaseuntjie gehad.

 Ons het in Engeland opgeëindig. Ek het beplan om ’n nuwe lewe met my vrou en seun te begin, maar dit was moeilik om my ou gewoontes te verander. Kort voor lank was ek weer betrokke by misdaad. Hierdie keer het ek met dwelms gesmokkel en baie geld hanteer.

 Hoe het Julinda gevoel oor die feit dat ek met dwelms gesmokkel het? Laat sy vir julle vertel: “Toe ek in Albanië grootgeword het, het ek daarvan gedroom om nie meer arm te wees nie. Ek was bereid om enigiets te probeer om ’n beter lewe te hê. Ek het gedink dat geld ons lewe sou beter maak. Daarom het ek Artan ten volle ondersteun toe hy gelieg, gesteel en met dwelms gesmokkel het – enigiets om geld te maak.”

‘Ek het Artan ten volle ondersteun toe hy gelieg, gesteel en met dwelms gesmokkel het.’ – Julinda

 Toe, in 2002, het ons lewens verander en ons hoop vir ’n beter toekoms het geëindig. Ek is met ’n groot hoeveelheid dwelms gevang en weer tronk toe gestuur.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Die Bybel het my lewe begin beïnvloed selfs voordat ek dit besef het. Vroeër, in 2000, het Julinda Jehovah se Getuies ontmoet en die Bybel met hulle begin studeer. Ek het nie daarin belanggestel om oor die Bybel te praat nie, want ek het gedink dat dit vervelig is. Maar Julinda was mal daaroor. Sy verduidelik: “Ek kom van ’n godsdienstige familie, en ek was lief vir die Bybel en het dit gerespekteer. Ek wou altyd meer daaroor leer, en ek was baie bly om die Bybel met die Getuies te studeer. Baie Bybelleringe het vir my heeltemal sin gemaak. Wat ek geleer het, het my gehelp om ’n paar veranderinge in my lewe te maak. Maar ek het nog steeds gedink dat geld ons gelukkig sal maak – totdat Artan gearresteer is. Dit het my heeltemal anders laat dink. Ek het skielik besef dat wat die Bybel oor geld sê, waar is. Ons het alles gedoen wat ons kon om ryk te word, maar dit het ons nie gelukkig gemaak nie. Ek het toe besef dat ek God se standaarde ten volle moet volg.”

 In 2004 is ek uit die tronk vrygelaat en het ek dadelik weer probeer om met dwelms te smokkel. Maar Julinda het anders begin dink en iets wat sy gesê het, het my diep geraak. Sy het gesê: “Ek wil nie meer jou geld hê nie. Ek wil my man terug hê, en ek wil hê dat die pa van my kinders hier moet wees vir hulle.” Ek was geskok, maar sy was reg. Ek was jare lank weg van my familie. Ek het ook gedink aan die moeilike tye wat ek deurgemaak het omdat ek geld op ’n oneerlike manier probeer kry het. So ek het besluit om veranderinge te maak en opgehou om my ou vriende te kontak.

 Iets wat my regtig geraak het, was toe ek met my vrou en twee seuns na ’n vergadering van Jehovah se Getuies gegaan het. Ek was beïndruk deur die opregte, vriendelike mense wat ek daar ontmoet het. Later het ek die Bybel begin studeer.

Ek het altyd gedink dat baie geld ons gelukkig sal maak

 Ek het die volgende in die Bybel geleer: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hulle aan hierdie liefde oor te gee, het party . . . baie pyn vir hulleself veroorsaak” (1 Timoteus 6:9, 10). Ek het uit my eie ondervinding geweet hoe waar die woorde van hierdie teks is! Ek was regtig spyt oor die foute wat ek gemaak het omdat dit vir my en my gesin baie hartseer veroorsaak het (Galasiërs 6:7). Toe ek geleer het oor die liefde wat Jehovah en sy seun, Jesus Christus, vir ons het, het ek my persoonlikheid begin verander. Ek het begin om ander eerste te stel, en dit het ingesluit dat ek meer tyd met my gesin spandeer het.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 My lewe is nou beter omdat ek die volgende raad in die Bybel toepas: “Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het” (Hebreërs 13:5). Ek het nou innerlike vrede en ’n skoon gewete. Dit het my gelukkiger as ooit tevore gemaak. My huwelik is sterker, en my gesin is nader aan mekaar.

 Ek het altyd gedink dat baie geld ons gelukkig sal maak. Nou kan ek duidelik sien dat misdaad en die liefde vir geld my baie pyn veroorsaak het. Ons is nie finansieel ryk nie, maar ek voel dat ons iets baie beter in die lewe gekry het – vriendskap met Jehovah God. Om hom in eenheid as ’n gesin te aanbid, maak ons regtig gelukkig.

Saam met my gesin by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies